Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK help Edcon glo ná Cosatu se dreigbrief
A logo sits on lingerie price tags inside an Edgar
Edcon besit onder meer die Edgars-klerewinkelgroep. Foto: Getty Images

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se besluit om aan Edcon se reddingsplan deel te neem, is glo gedoen ná ’n dreigbrief deur Cosatu.

Mathew Parks, Cosatu se parlementêre koördineerder, het op 22 Februarie per e-pos ’n brief aan Mondli Gungubele, toe adjunkminister van finansies, geskryf waarin hy kla dat die OBK “sy voete sleep” oor die hulppakket aan Edcon.

Gungubele was ampshalwe ook voorsitter van OBK se direksie.

Parks dreig in die brief dat die ANC in die Mei-verkiesing stemme sou verloor as 140 00 mense hul werk weens Edcon se ondergang sou verloor.

Parks waarsku ook van ’n “enorme geveg” tussen Cosatu, die OBK en die ANC as die OBK nié help om Edcon te red nie.

Die plan is reeds in 2018 aan krediteure en effektehouers voorgelê.

“Ons lede is woedend oor hoe lank dit neem om gefinaliseer te word,” het Parks in die e-pos geskryf.

“Ons pleit met jou, kameraad adjunkminister, om in te gryp en te verseker die OBK se beleggingskomitee vergader, met ’n kworum, en die OBK onderteken die finale vassit-ooreenkoms.”

Edcon het toe op 1 Maart aangekondig dat die ooreenkoms gesluit is ingevolge waarvan hy ’n hulppakket van altesame R2,7 miljard van sy krediteure gekry het.

Die plan het ingesluit dat seker eiendomsfirmas afslag op huurkontrakte toegestaan het in ruil vir aandele in Eskom; banke aan wie Edcon geld skuld en houers van sy effekte (waaronder die OBK) het hul effekte in aandele omgeskakel; en die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) het R1,2 miljard kontant in Edcon belê.

Die WVF se geld word deur die OBK bestuur. Die OBK bestuur ook die nagenoeg R1 800 miljard se pensioenfondsgeld van staatsamptenare (GEPF).

Die WVF moes die besluit oor die R1,2 miljard afsonderlik goedkeur en moes boonop sy mandaat aan die OBK aanpas om dit moontlik te maak.

Die reddingsplan het verseker dat tot 40 000 mense by Edcon en nóg 100 000 in die plaaslike klerebedryf en verwante dienstemaatskappye nie hul werk verloor het nie.

Die OBK se besluit om by Edcon se reddingsplan betrokke te raak, “was teenstrydig met die aanbevelings van die OBK se beleggingskundiges”, volgens mense met kennis van die saak met wie Bloomberg gepraat het.

Die uitgelekte e-pos laat opnuut vrae ontstaan oor hoe die OBK beleggingsbesluite neem. Dit is juis tans die onderwerp van die kommissie van ondersoek onder leiding van regter Lex Mpati. Die kommissie behartig gebeure wat onder die leiding van dr. Daniel Matjila, tot November die OBK se uitvoerende hoof, plaasgevind het.

Matjila het volgens getuienis voor die kommissie onder meer beleggings in dr. Iqbal Survé se Ayo Technology Solutions deurgedruk.

Asief Mohamed, beleggingshoof van die batebestuursfirma Aeon in Kaapstad, sê as daar nie ’n saak uit te maak was vir die belegging in Edcon nie, “is daar ’n probleem”. “Ek is bekommerd dat beleggings nie gemaak word op grond van die risiko en opbrengs nie.”

Parks het aan Bloomberg bevestig dat hy die e-pos gestuur het. Hy beskryf dit as “een van vele” oor Edcon.

“Ons het dit al vantevore gedoen, en ons sal dit weer doen,” het Parks gesê. Hy sê dis Cosatu se mandaat om werk te beskerm. Hy beskryf Gungubele was “baie behulpsaam” om die beleggingskomitee saam te roep vir die besluit. Hy het egter beklemtoon dat Gungubele nie alleen vir die besluit verantwoordelikheid is nie.

Parks sê hoewel geen belegging gewaarborg is nie, wys die steun van banke vir die reddingsplan dat dit ’n “gesonde besluit” was.

Gungubele het nie op navrae gereageer nie.

Grant Pattison, uitvoerende hoof van Edcon, het by navraag gesê die groep het reeds gesê “dat ons die ondersteuning van vakbonde, wat in die belang van hul lede opgetree het, waardeer”.

Die reddingsplan het verseker dat tot 40 000 mense by Edcon en nóg 100 000 in die plaaslike klerebedryf en verwante dienstemaatskappye nie hul werk verloor het nie.

Parks het ook gedreig dat dit “langtermyngevolge vir die alliansie sal hê”, met verwysing na die alliansie tussen die ANC, die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty en Cosatu.

Pattison het in Mei gesê die maatskappy is “100% skuldvry” danksy die reddingsplan. – Bloomberg, verwerk en bygewerk

Meer oor:  Edcon  |  Cosatu  |  Obk  |  Ayo Technology Solutions  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.