SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK hof toe om PwC-verslag by Steinhoff te kry

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) gaan hof toe om Steinhoff te dwing om die PwC-verslag oor die bedrog by die internasionale meubelhandelaar aan hom te oorhandig.

Steinhoff hoef glo net R53 miljoen te betaal van die boete van R1,5 miljard wat die FSCA hom opgelê het.

Lindiwe Dlamini, waarnemende regshoof van die OBK, het Dinsdag in die parlement bevestig die OBK het insae in die PwC-verslag nodig om behoorlik te kan verstaan wat skeefgeloop het by Steinhoff. Twee weke gelede het die OBK ’n eisbrief aan Steinhoff gestuur om die verslag aan hom openbaar te maak, maar geen reaksie is ontvang nie, en ’n regsproses is nou aan die gang om ’n hofbevel te kry om Steinhoff daartoe te dwing.

Die OBK het aan die parlement se staande komitee oor finansies verslag gedoen oor sy vordering met sy eise teen Steinhoff, weens die verliese wat gely is deur onder andere staatsamptenare nadat Steinhoff se aandeelprys sedert einde 2017 ineengestort het. Die OBK het namens die staatspensioenfonds (GEPF) in Steinhoff belê en sy huidige verlies weens die belegging staan op R6,2 miljard, het Horatius Maluleka, waarnemende hoof van genoteerde beleggings by die OBK, aan die komitee gesê.

Die OBK wil sekere van Steinhoff se direkteure as nalatige direkteure laat verklaar, het Dlamini gesê, maar daarvoor het hy toegang tot inligting nodig soos dié vervat in die verslag van die ouditgroep PwC wat hy in opdrag van Steinhoff gedoen het oor die bedrog by Steinhoff onder leiding van Markus Jooste, vorige uitvoerende hoof.

Volgens Dlamini het die OBK verneem Steinhoff sal net R53 miljoen hoef te betaal van die boete van R1,5 miljard wat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor Steinhoff opgelê het weens die wanvoorstelling van sy finansies aan die mark.

Bemiddeling

Vuyani Hako, waarnemende uitvoerende hoof van die OBK, het intussen gewaarsku die huidige bemiddelingsproses waarin die OBK probeer om ’n kommersiële skikking met Steinhoff te bereik om hom te vergoed vir verliese, verstryk teen einde Desember vanjaar.

As geen sukses behaal is met die bemiddelingsproses teen einde Desember nie, sal die OBK sy regsoptrede teen Steinhoff voluit hervat, het Hako gesê.

Dlamini het gewaarsku as die bemiddeling misluk en Steinhoff nie ’n ooreenkoms met deelnemende aandeelhouers kan bereik nie, verhoog dit die kanse dat Steinhoff sal ineenstort, want in die lig van sy huidige finansiële posisie kan hy dit nie bekostig om al die skadevergoedingseise aan aandeelhouers te betaal nie.

Daar is wel tans ’n bestaande ooreenkoms in plek tussen Steinhoff en sy krediteure wat hom vir drie jaar teen bankrotskap beskerm.

Volgens Dlamini het Steinhoff ’n streng vertroulike voorstel aan aandeelhouers gemaak as deel van die bemiddelingsproses waardeur ’n derdeparty genaamd “The White Knight” ’n skikkingsbedrag sal betaal. Maar die proses is broos en kan dalk nie uitwerk nie, of die besonderhede kan enige oomblik verander. Die blote omvang van die aantal betrokke partye, en die feit dat dit oor die jurisdiksies van Suid-Afrika, Nederland en Duitsland strek, maak die proses baie ingewikkeld en tydrowend, het sy verduidelik.

Joe Maswanganyi, voorsitter van die komitee, het gewaarsku die parlement kan sy magte gebruik om Steinhoff te dagvaar om die PwC-verslag openbaar te maak sodat die publiek kan weet wat gebeur het. Hy het gekla oor Steinhoff se vertoning tydens hul verskynings tot dusver in die parlement. “Hulle toon nie eens berou nie, en bring ’n weermag van prokureurs saam en ken net drie woorde: ‘nie seker nie’.”

GEPF

Komiteelede was ook Dinsdag omgekrap dat die GEPF nie afsonderlik ’n aanbieding kom doen het nie. Bhekithemba Gamedze, ’n nie-uitvoerende direkteur van die OBK wat terselfdertyd ook ’n trustee van die GEPF is, het gesê die GEPF se direksie het Dinsdag ’n vergadering gehad. Hy het ontken dat die GEPF geen stappe gedoen het teen die OBK as sy batebestuurder weens die Steinhoff-verliese nie.

’n Reël is ingestel dat die OBK nie meer enige belegging van meer as R2 miljard mag doen sonder die GEPF se uitdruklike goedkeuring nie. Hoewel almal wag vir die uitslag van die Mpati-kommissie na beleggingsbesluite van die OBK, is dit nie asof die GEPF net stil gesit het nie, het Gamedze gesê. Daar is baie kommunikasie tussen die GEPF en die OBK en daar is veranderings aangebring aan die delegering van magte. Die rolle van uitvoerende hoof en beleggingshoof by die OBK wat in ’n stadium ineengevloei het in een persoon, is geskei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.