Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK-kommissie oor Survé: ‘Ons duld geen inmenging’

Iqbal Survé se beweringe oor Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, “bevat geen feite nie”.

Fin24 berig dit is die reaksie van regter Lex Mpati wat aan die hoof staan van die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK).

Regter Lex MpatiFoto: Elvira Wood

Survé, voorsitter van Independent Media en hoof van Sekunjalo, beweer Sondag in ’n artikel wat dié groep aanlyn gepubliseer het dat hy “bewyse” het dat Gordhan probeer om die kommissie van ondersoek te beïnvloed en dat hy wil hê die kommissie moet “nadelige bevindinge” maak oor sy maatskappye.

Survé se tirade volg nadat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) Woensdag ’n klopjag op die kantore van Sekunjalo in Kaapstad uitgevoer het.

Survé het reeds aangedui hy gaan die FSCA hof toe sleep vir ’n “blatante misbruik van mag”. Hy eis ook skadevergoeding.

“Die kommissie beskou die artikel in ’n ernstige lig en as deel van ’n voortdurende poging om die werk van die kommissie en die integriteit van die kommissarisse aan te val, asook as ’n poging om die bevindinge te beïnvloed,” sê Mpati in ’n verklaring oor die artikel.

Gill Marcus en Emmanuel Lediga is die ander twee kommissarisse wat saam met Mpati gebeure by die OBK ondersoek.

“Die kommissie sal geen inmenging in sy werk duld nie. Dit sal ook geen pogings om dit te beïnvloed of te intimideer duld nie, ongeag wie dit mag probeer doen.”

Ayo Technologies

Daar word vermoed dat die klopjag verband hou met ’n ondersoek na die OBK se belegging in Ayo Technology.

Daar is beweringe dat markte gemanipuleer is om ’n veel hoër waarde aan Ayo te heg as wat dit werklik was voor die OBK oorreed is om daarin te belê.

Die OBK het in Desember 2017 R4,3 miljard in dié maatskappy belê toe dit op die JSE genoteer is.

Die OBK het destyds R43 per aandeel vir Ayo betaal. Dit verhandel tans op die JSE teen R5,60 per aandeel.

LEES OOK: Só het OBK geknoei om in Ayo te belê

Die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) het op 21 Februarie opdrag gegee dat die OBK die geld moet terugeis.

Die hooggeregshof in Pretoria het egter bevind die CIPC se opdrag was onwettig.

Die OBK het daarna gesê dié uitspraak gaan hom nie keer om sy geld te probeer terugkry nie. Deon Botha, hoof van korporatiewe sake by die OBK, het voorheen bevestig dat die balju op 29 Mei ’n dagvaarding vir die geld op Ayo beteken het.

Survé het in reaksie daarop weer gesê hy wil die OBK vir “wat na verwagting miljarde rande sal wees” dagvaar.

LEES OOK: Survé se Ayo wil OBK ‘vir miljarde’ dagvaar

Gordhan het ook reeds op Survé se beweringe gereageer en alles heftig ontken.

In ’n verklaring wat Malatji & Co., sy regsverteenwoordiger, uitgereik het, sê Gordhan dat hy niks te doen gehad het met die klopjag nie.

Luidens die brief glo Gordhan dat Survé se uitlatings bloot daar is om as afleiding te dien juis omdat hy en sy maatskappye onder verdenking is vir ongerymdhede.

“Wat die Suid-Afrikaanse publiek weet is dat mnr. Survé en sy sakeondernemings deel was van die Mpati-kommissie van ondersoek. Die poging om die aandag hiervan af te lei, deur valse en lasterlike bewerings teen minister Gordhan en ander te maak, gaan hom en ander nie help om verantwoordelik gehou te word vir moontlike wetsoortredings nie.”

Die regsverteenwoordiger wys ook daarop dat Gordhan geen jurisdiksie oor die FSCA het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.