Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK-kommissie stuur finale verslag aan Ramaphosa
Iqbal Survé toe hy getuienis voor die OBK-kommissie gelewer het.Foto: Skermgreep

Die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het sy finale verslag aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig.

Fin24 berig dat ’n woordvoerder van die kommissie Woensdag bevestig het dat die kommissie aan sy spertyd voldoen het.

Die kommissie, wat Ramaphosa in 2017 saamgestel het, het vir agt maande lank openbare sittings in Pretoria gehou om uit te vind wat by die OBK gebeur het.

Regter Lex Mpati het aan die hoof van dié kommissie gestaan. Hy is bygestaan deur Gil Marcus en adv. Emmanuel Lediga.

Van die kwessies wat die kommissie moes ondersoek sluit in:

  • Of enige van die OBK se beleggingsbesluite onwettig was;
  • Of enige van die OBK se direkteure onregverdige voordeel getrek het uit besluite wat geneem is;
  • Of vertroulike inligting aan derde partye uitgelek is;
  • Of enige OBK-leier werknemers geviktimiseer het; en
  • Of die OBK se bedryfsmodel doeltreffend is.

Hoewel die verslag nie aan die publiek of media bekend gemaak is nie, beweer die webtuiste Africa News 24-7 dat hy dit wel onder oë gehad het.

Luidens dié webwerf het die kommissie bevind dat dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK en dr. Iqbal Survé, voorsitter van Sekunjalo, niks verkeerd gedoen het nie.

Baie ure is tydens die openbare verhore juis spandeer om agter die kap van die byl te kom wat betref die OBK se besluit om R4,3 miljard te belê in Ayo Technology Solutions, ’n filiaal van Sekunjalo.

Dié belegging het onder skerp kritiek deurgeloop omdat Ayo met sy notering in Desember 2017 op R45 verhandel het, maar die aandeelprys het sedertdien tot R5,50 gedaal.

Getuies soos Victor Seanie, afgedankte assistentportefeuljebestuurder van die OBK, het beweer dat daar enorme ongerymdhede was wat betref dié belegging.

LEES OOK: Ayo: Dié getuienis het JSE se hare laat rys

Bewerings wat tydens die sittings gemaak is dat Ayo se boeke “bekook” is om die maatskappy se markwaarde te verhoog, het die JSE laat besluit om dié maatskappy te ondersoek.

Die JSE het juis die afgelope week gewaarsku as Ayo en African Equity Empowerment Investments, nóg een van Survé se maatskappye, nié teen 31 Desember voorlopige verslae soos wat voorheen versoek is indien nie, kan hul notering opgeskort word.

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het ook in Oktober ’n klopjag op Sekunjalo se kantoor in Kaapstad uitgevoer.

Hy het tóé gesê die klopjag is uitgevoer as deel van ’n ondersoek oor beweerde verbode aandeelverhandeling ingevolge die Wet op Finansiële Markte.

Survé en Matjila het albei alle bewerings heftig ontken toe hulle voor die kommissie getuig het.

LEES OOK: Survé: ‘OBK het ’n goeie belegging misgeloop’

Survé het sedert die begin van die jaar al verskeie kere gedreig om óf regstappe teen die kommissie óf teen die OBK self te begin.

In Mei het hy gesê hy wil die OBK vir “wat na verwagting miljarde rande sal wees” dagvaar.

Survé het toe in ’n verklaring gesê dat hy nou “genoeg gehad van die aantygings van bewerings wat op hoorsê en foutiewe feite gegrond is en deur middel van ’n rampspoedige propaganda-oorlog wat deur baie van die Suid-Afrikaanse media gevoer word, aan die mark gevoer word.”

In Oktober het hy wéér teenoor die OBK uitgevaar en met regstappe gedreig.

Dié keer het hy gesê Lindiwe Dlamini, waarnemende regshoof van die OBK, praat bog toe sy aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê het bewerings word ondersoek dat die Sekunjalo-groep beplan om die bate waarin die OBK belê het, te verkoop.

Sy het ook gesê die OBK oorweeg dit om aansoek te doen dat die bates bevries word aangesien daar kommer is dat dit oorsee geskuif kan word.

Survé het in Oktober gesê hy gaan die hof nader om die FSCA se aansoek vir ’n beslagleggingsbevel ter syde te stel. Dit hou verband met die klopjag op Sekunjalo se kantore.

Hy wou ook skadevergoeding eis.

Netwerk24 het navrae oor die beweerde inhoud van die verslag aan die kommissie gestuur, maar het vroeg Donderdagoggend nog geen terugvoering ontvang nie.

Meer oor:  Openbare Beleggingskorporasie  |  Sekunjalo  |  Obk  |  Ayo  |  Dan Matjila  |  Lex Mpati  |  Iqbal Survé  |  Obk-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.