Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK-krisis: Tito se stilte wek kommer

Dis baie kommerwekkend dat Tito Mboweni, minister van finansies, nog geen woord gerep het oor die massabedanking Vrydagmiddag van die hele direksie van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) nie, sê die DA.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Getty Images

Alf Lees, die party se woordvoerder oor finansies, het aan Netwerk24 gesê duisende staatsamptenare en pensioentrekkers is bekommerd oor hul aftreegeld en “het gerusstelling nodig”.

“Dis verrassend dat hy nog geen verklaring uitgereik het nie, nie eens om te erken dat hy dit as ’n dringende saak beskou of wat hy beoog om te doen nie.”

Jabulani Sikhakhane, Mboweni se woordvoerder, het wel Vrydagaand laat aan Netwerk24 bevestig dat die minister die bedanking aanvaar het en “as alles goed gaan” reeds volgende week ’n nuwe direksie sal aanwys.

Mboweni self het die afgelope paar dae slegs twee twiets die kuberruim ingestuur – een net ’n skakel na ’n Wikipedia-lys van Afrika se grootste stede en een ’n skakel na ’n World Vision-artikel oor die wêreldwye waterkrisis.

Dis tyd dat werkers op die direksie verteenwoordig word. Dis per slot van rekening hul geld wat deur die OBK belê word.
Cosatu

Mboweni is bekend om sy twiets – dikwels oor omstrede onderwerpe soos die onlangse debat oor die afskaffing van Afrikaans as voertaal by die Universiteit van Pretoria.

Intussen het die vakbond Nehawu die bedanking verwelkom en die vakverbond Cosatu het in ’n verklaring ’n beroep op Mboweni gedoen om die nuwe direksie gou aan te wys.

Lees sê die bedanking is ’n “enorme krisis” wat nie net die staatsdienspensioenfonds (GEPF) raak nie, maar die hele Suid-Afrikaanse finansiële stelsel. Die OBK bestuur R2 000 miljard se bates, wat hom die grootste batebestuurder in Afrika maak. Die meeste daarvan is die GEPF se geld.

Lees is bekommerd oor stabiliteit by die OBK omdat die instelling nou sonder ’n direksie én ’n vaste uitvoerende hoof is. Dr. Daniel Matjila, wat van die mees omstrede beleggings van die OBK, soos die belegging van R4,3 miljard in Ayo Technology Solutions goedgekeur het, het in November bedank.

Lees sê na regte moet Matshepo More, finansiële hoof wat as uitvoerende hoof waarneem, óók bedank omdat ’n “wolk oor haar kop hang”. Sy is nes drie nie-uitvoerende direkteure betrek in ’n e-pos met bewerings van korrupsie.

Alf Lees, DA-LP en die party se woordvoerder oor finansies.

Hy sê die minister moet ver en wyd soek na kundiges uit die finansiëledienstebedryf wat in die direksie kan dien, selfs al moet mense uit aftrede herroep word.

Die nuwe direkteure “moet heeltemal gegrond word op meriete en moet op geen manier enige ANC-kaderontplooiings insluit nie”, sê hy in ’n verklaring wat vroeër die oggend uitgereik is.

Lees sê die Wysigingswet op die OBK, wat deur die DA ingedien is, moet “sonder enige vertraging” wet word voordat die parlement vir die verkiesingsveldtog verdaag. “Die wet verseker ’n meer robuuste en deursigtige OBK, gee groter verteenwoordiging in die direksie aan staatsamptenare en verbeter verantwoordbaarheid.”

Hiermee stem Cosatu saam: “Werkers en Cosatu is diep bekommerd en woedend oor die konstante vloei van gerugte van massaplundery en korrupsie by die OBK. Dis werkers se swaar verdiende pensioen- en vesekeringsgeld. Dis kommerwekkend dat die OBK as ’n kleinkas vir moreel leë politici, hul parasitiese familielede en aanstootlike sakelui beskou word.”

Cosatu sê die minister moet met die kabinet oor die nuwe direksie konsulteer, maar ook met die arbeidsektor.

“Dis tyd dat werkers op die direksie verteenwoordig word. Dis per slot van rekening hul geld wat deur die OBK belê word. Dis die bedryfsnorm en -vereiste dat 50% van sulke direksies uit werkerverteenwoordigers bestaan.”

Cosatu het soos Lees ook ’n beroep op die parlement gedoen om die Wysigingswet op die OBK voor einde Maart deur te voer. “Dis ’n belangrike werktuig teen korrupsie.”

‘Geen goeie ANC’

Lees het in sy verklaring ook te velde getrek teen die bewerings in Rapport dat Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, na bewering R4,5 miljoen verdien het deur transaksies met die OBK te bemiddel.

“Die grootskeepse plundery van die OBK deur die ANC en sy surrogate is ’n duidelike bewys dat die ANC ’n hawe vir korruptes is en pres. Cyril Ramaphosa se ‘kruisvaart’ teen korrupsie net ’n beeldbou-oefening sonder enige werklike gevolge vir oortreders is.”

Hy sê die beweringe teen Mkhize bewys die “goeie ANC” bestaan nie.

Lees sê nog ministers wat Ramaphosa ter wille van versoening met ANC-faksies aangestel het en wat met korrupsie verbind word, is Nomvula Mokonyane en Bathabile Dlamini.

Meer oor:  Obk  |  Motshepo More  |  Alf Lees  |  Zweli Mkhize  |  Daniel Matjila  |  Obk-Ondersoek  |  Gepf  |  Korrupsie  |  Staatsamptenare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.