Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK: Mboweni sloer al 5 maande met nuwe direksie

Tito Mboweni, minister van finansies, gee sy “volle aandag” aan die proses om ’n nuwe direksie vir die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) aan te stel.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Elvira Wood

Die hele direksie van nege mense het op 1 Februarie bedank, maar neem steeds waar totdat ’n nuwe direksie aangewys word.

Dis nou vyf maande later en geen nuwe direkteur is al aangestel nie.

Jabulane Mulambo, woordvoerder van die tesourie, het Donderdag in ’n e-pos aan Netwerk24 gesê die proses om ’n nuwe direksie aan te stel, is in ’n “gevorderde stadium” en dat die minister sy volle aandag hieraan gee. Hy sê die aanstellings sal in oorleg met die kabinet gedoen word.

“Die oomblik dat die direksie aangestel is, sal die direksie self ’n voorsitter en adjunkvoorsitter kies. Die direksie sal die minister dan bystaan om ’n uitvoerende hoof vir die OBK aan te stel,” sê hy.

Dit lyk asof die gesloer is omdat die tesourie eers wag op die uiteinde van die Mpati-kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK.

Mulambo sê die tesourie sal, nadat die kommissie van ondersoek sy werk op 31 Julie afgehandel het, die kommissie se terugvoering wil gebruik om ’n “ingeligte besluit” oor die toekoms van die OBK te neem.

“Die uitkoms (van die kommissie) sal die minister en die nuwe direksie van die OBK help om strategieë op te stel wat die OBK sal help om vorentoe te beweeg.”

Die OBK het sedert November 2018 ’n waarnemende uitvoerende hoof nadat dr. Daniel Matjila bedank het.

Hierna het Matshepo More, die OBK se finansiële hoof, in dié pos waargeneem. Sy is egter in Maart geskors.

Vuyani Hako, die OBK se hoof van eiendomme, neem tans as OBK-hoof waar.

Dudu Hlatshwayo, een van die direkteure wat in Februarie bedank het, het einde Februarie voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK getuig Mboweni het die direksie beveel om te bedank. Sy het getuig die minister het gesê die hele direksie “moet onmiddellik bedank, en indien nie, sou hulle almal op Maandag 4 Februarie afgedank word”.

Mondli Gungubele, voormalige adjunkminister van finansies en ten tye van die gebeure die voorsitter van die OBK, het eers ontken dat Mboweni die opdrag gegee het.

Hy het egter ná Hlatshwayo se getuienis van deuntjie verander en erken dit was wel so.

Die tesourie het in Februarie ook gesê Mboweni is besig om ’n nuwe direksie saam te stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.