Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK: Niemand vra nog geld vir die SAL

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het nog geen aansoeke of versoeke gekry om ’n belegging in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te oorweeg nie.

Daar is nog geen aanduiding waar die staat R10,1 miljard vir die SAL in die hande gaan kry nie. Foto: Twitter

Sekgoela Sekgoela, woordvoerder van die OBK, het in ’n e-pos aan Netwerk24 gesê “indien die OBK met ’n beleggingsvoorstel genader word, sal die voorstel volgens die beleggingsmandate van kliënte geëvalueer en aan ’n interne beleggingsproses onderwerp word”.

Die OBK bestuur bates ter waarde van sowat R2 000 miljard. Een van sy grootste kliënte is die staatsdienspensioenfonds (GEPF).

Netwerk24 het die OBK genader vir kommentaar nadat Tito Mboweni, minister van finansies, oor die naweek in ’n beëdigde verklaring gesê het dat die staat dalk “instansies kan nader om pensioengeld” in die SAL te belê.

Die staat het reeds onderneem om R10,1 miljard te vind wat nodig is vir die reddingsplan van die SAL.

Die reddingsplan is op 14 Julie deur krediteure goedgekeur.

Sekgoela het glad nie op Netwerk24 se navraag gereageer oor hoe ’n belegging in die SAL as ’n “verantwoordelike belegging” geregverdig kan word nie. Dié vraag spruit daaruit dat die GEPF ’n ondertekenaar is van die “beginsels vir verantwoordelike belegging”, bekend as Unpri, ’n netwerk van internasionale beleggers wat deur die Verenigde Nasies ondersteun word.

Een van die beginsels wat Unpri bevorder, is om goeie bestuur te bevorder waar geen omkopery, korrupsie, politieke stemwerwery of soeke na skenkings beleggingsbesluite beïnvloed nie.

Die ekonome Mike Schüssler van Economist.co.za en Dawie Roodt van Efficient Group het Dinsdag Mboweni se voorstel heftig gekritiseer.

Schüssler sê by die SAL is daar geen moontlikheid dat daar “ooit” ’n opbrengs op ’n belegging sal wees nie.

Roodt sê pensioenfondse sal beslis nie vrywillig in die SAL belê nie. Om hulle te dwing, sal regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse verander moet word, maar Roodt verwag ’n enorme opstand daarteen wat op verskeie hofsake kan uitloop.

Regulasie 28 stel die maksimum wat ’n pensioenfonds in een bateklas of een maatskappy se aandele mag belê juis ten einde die fonds teen oormatige blootstelling te beskerm.

Unpri het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer oor die voorstel om pensioengeld in die SAL te belê nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.