Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK: ‘Nuus oor Maria Ramos se vloermoer is vals’

Die waarnemende direksie van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) sê hy volg al die regte prosesse in sy soektog na ’n nuwe uitvoerende hoof.

Maria Ramos, voormalige uitvoerende hoof van Absa. Foto: Elvira Wood

Die OBK vaar Maandag in ’n verklaring behoorlik uit teen Independent Media se Business Report   wat op 15 Januarie berig het dat die direksie prosesse verontagsaam om ’n nuwe hoof aan te stel.

Luidens dié berig het Maria Ramos, ’n direkteur en voormalige uitvoerende hoof van Absa, glo ’n vloermoer gegooi toe die direksie daarop gewys is dat prosesse verontagsaam word. Business Report berig die direksie het nietemin met die proses voortgegaan.

Die OBK sit reeds sedert einde 2018 sonder ’n voltydse uitvoerende hoof nadat dr. Dan Matjila onder druk bedank het weens vrae oor OBK-beleggings – onder meer in maatskappye van dr. Iqbal Survé, wat ook voorsitter van Independent is.

Die OBK het ’n enorme lening aan Sekunjalo Investments toegestaan wat intussen grootliks afgeskryf is, en het dit ook oorweeg om in Sagarmatha te belê, maar dié maatskappy het toe nie genoteer nie omdat dit nie aan alle noteringsvereistes voldoen het nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in Julie die nuwe waarnemende direksie met dr. Reuel Khoza as voorsitter by die OBK aangestel.

LEES OOK: Maria Ramos op nuwe OBK-direksie

Die OBK sê Maandag in sy verklaring dat die bewerings wat gemaak word, sy reaksie regverdig om die “integriteit van die raad te bewaar”.

Die OBK se kantore in Menlyn Maine, Pretoria.Foto: Elvira Wood

Die OBK sê verder dat die bewerings maak nie sin nie, veral nie die een dat die direksie die OBK wil “beheer” nie.

“Die direksie van die OBK en sy uitvoerende bestuurspan word aangestel en word wetlik gemagtig, spesifiek om in beheer van die OBK te wees en om die instelling op ’n verantwoordelike wyse te bestuur,” lui die verklaring.

Die OBK sê hy is veral teleurgesteld dat die koerant voortgegaan het om die berig te publiseer, selfs nadat hy geskrewe bewyse dat die bewerings onwaar is aan hom gestuur het.

Die OBK sê hy het die korrekte prosesse gevolg om die personeelagentskap Heidrick & Struggles aan te wys om die soektog na ’n nuwe uitvoerende hoof te hanteer.

“Daar is reeds met die aanstellingsproses van ’n nuwe uitvoerende hoof begin. Die aanstelling van ’n vaardige kandidaat is ’n topprioriteit vir die raad,” lui die verklaring.

“Die raad en die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK het ooreengekom dat die soeke na ’n nuwe uitvoerende hoof moet voortgaan, selfs voordat die kommissie sy werk voltooi het. Die OBK is ’n té belangrike instelling om onbepaald sonder ’n vaste uitvoerende hoof te bly.”

Die OBK bestuur sowat R2 000 miljard se bates, waarvan die meeste die pensioenfondsgeld van staatsamptenare is.

Gebeure by die OBK, veral toe dit onder die bestuur van Matjila was, het in 2019 baie aandag gekry toe die Mpati-kommissie openbare sittings in Pretoria daaroor gehou het.

Regter Lex Mpati het aan die hoof van die ondersoek gestaan. Gill Marcus en adv. Emmanuel Lediga het hom bygestaan.

Dié kommissie het sy finale verslag reeds in Desember aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur. Dit is egter steeds nie gepubliseer nie.

Survé, wie se Sekunjalo Investment Holdings via Sekunjalo Independent Media (SIM) ’n groot aandeelhouer in Independent Media is, was gedurende die ondersoek ook dikwels in die kollig.

Die beleggingskorporasie het in November 2019 ’n aansoek in die hooggeregshof in Kaapstad gebring om SIM oor sy agterstallige skuld te likwideer. SIM besit ’n 55%-belang in Independent.

SIM is agterstallig met die terugbetaling van ’n lening wat die staatsamptenare se pensioenfonds (GEPF) in 2013 aan hom verskaf het om die belang in Independent Media te bekom.

Independent Media is in 2013 vir R2 miljard van sy voormalige Ierse eienaars gekoop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.