Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK-ondersoek: Dít is wat Matjila getuig het

Dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), het Woensdag vir ’n derde agtereenvolgende dag voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die korporasie getuig.

Dr. Dan MatjilaFoto: Elvira Wood

Hier is waarop hy gefokus het:

1. James Nogu

Matjila het die bewerings van James Nogu (’n skuilnaam) dat hy ’n romantiese verhouding met Pretty Louw gehad het en by ongerymdhede wat haar maatskappy Maison Holdings betrek het, heftig ontken.

2. Hulp aan die ANC

Matjila het erken hy het op versoek van ’n hooggeplaaste ANC-politikus, ’n WhatsApp-boodskap aan verskeie maatskappye aan wie die OBK geld geleen of in belê het gestuur met ’n versoek dat hulle dit moet oorweeg om die party finansieel te help.

Matjila wou nie sê wié die politikus was nie. Hy het erken hy het geen regsadvies hieroor gevra en ook nie die mening van die direksie van die OBK nie.

3. Politieke inmenging

Matjila het net soos vroeër in sy getuienis gesê daar is baie politieke inmenging by die OBK.

“Ek moes gedurig die verwagtinge van politici en mense met invloed hanteer,” het hy getuig.

“Uit my lang ervaring in senior bestuur by die OBK kan ek sê dat wanneer daar ook al ’n verandering, oproer of skuif binne die ANC-regering is, is daar dieselfde mate van druk en beweging binne die strukture van die OBK.

4. Sy bedanking

Matjila het net soos voorheen gesê die brief wat hy in November 2018 aan die direksie van die OBK gestuur het, was nie sy bedankingsbrief nie.

Dit was wel ’n voorstel oor hoe hy by die OBK kon uittree. Die direksie het hom glo bloot ingelig hulle het sy bedanking ontvang en dat dit onmiddellik van toepassing is.

Hy het deurgaans herhaaldelik gesê dat daar in aanloop tot sy bedanking politieke druk uit alle oorde was om van hom ontslae te raak.

5. Edcon

Matjila beweer een van die redes hoekom daar so ’n groot poging was om van hom ontslae te raak was om die belegging in Edcon te bewerkstellig.

Hy verwys na ’n e-pos tussen Matthew Parks van die vakverbond Cosatu en Mondli Gungubele, voormalige adjunkminister van finansies en tóé die voorsitter van die OBK, waar Parks glo gesê het Gungubele moet verseker dat die OBK die ooreenkoms teen 22 Februarie moet teken om in Edcon te belê om werksverliese te keer.

Matjila sê dit was duidelik die OBK is in dié geval net as ’n reddingsboei gebruik.

Cosatu het reeds op dié bewering gereageer en gevra hoe is dit moontlik dat ’n e-pos wat drie maande ná Matjila bedank het, nou skielik die rede vir die bedanking kan wees.

6. Bantu Holomisa

Matjila sê hy het nog nooit vir Holomisa, leier van die UDM, ontmoet nie.

Holomisa het reeds verskeie ope briewe aan die minister van finansies gestuur waarin hy ongerymdhede beweer waarby Matjila glo betrokke is.

Dit het in ’n stadium tot ’n hofaansoek gelei waar Holomisa wou hê die OBK verplig sou word om Matjila af te dank. Dié saak is egter van die rol geskrap.

Maandag het Holomisa ’n nuwe brief gepubliseer waarin hy beweer Matjila het ’n lening van R2,4 miljoen by VBS Mutual Bank gekry en dit nie verklaar nie. Matjila se regspan het dié bewering Dinsdag heftig ontken.

7. Budlender-verslag

Matjila sê een van die groot twispunte in aanloop tot sy bedanking was juis omdat die OBK nie adv. Geoff Budlender SC se verslag oor gebeure by die korporasie wou publiseer nie.

Budlender het spesifiek na Matjila se beweerde verhouding met Louw gekyk. Hy het Matjila onskuldig bevind aan enige klagte.

Die OBK het nooit self die verslag gepubliseer nie.

Die kommissie van ondersoek het dit vroeër vanjaar gepubliseer.

8. Suid-Afrikaanse Lugdiens

Matjila sê Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, se versoek dat die OBK ’n reddingsboei van R6 miljard aan die lugdiens moet toestaan, was ongehoord.

“Dit is gewoonlik die uitvoerende of finansiële hoof wat só ’n versoek sal rig,” het hy getuig.

Matjila het bevestig dat die OBK nooit die aansoek goedgekeur het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.