Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK-ondersoek: Matjila blaas eie vuvuzela

Dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), erken hy wil sy eie vuvuzela blaas oor sy prestasies by die korporasie.

Dr. Dan MatjilaFoto: Elvira Wood

Dit is ondanks talle klagtes die afgelope maande oor hoe hy die OBK bestuur het en sy betrokkenheid by omstrede beleggings.

Matjila het Dinsdag sy getuienis voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK hervat.

Matjila het onder meer getuig hy dink dit was ’n goeie plan om al die uitvoerende mag van die OBK in net twee direkteure te setel.

Gill Marcus, een van die kommissarisse, het hom herhaaldelik gevra of hy – gegewe al die getuienis wat reeds voor die kommissie gelewer is – regtig dink dit was so ’n goeie idee.

Sy het beklemtoon dit kom daarop neer dat net twee mense dus besluit oor al die beleggings wat die OBK doen.

Die OBK bestuur bates van nagenoeg R2 000 miljard.

Die staatspensioenfonds (GEPF) is die OBK se grootste kliënt.

Matjila het die vraag verskeie kere probeer ontwyk, maar Marcus het aangedring dat hy haar reguit antwoord.

“Ek was baie gemaklik daarmee en dit het besonder goed gewerk,” het hy uiteindelik geantwoord.

Matjila het in 2015 die getal uitvoerende direkteure van vier tot net twee verminder.

Die enigste twee direkteure met uitvoerende magte was hyself as die uitvoerende hoof en Matshepo More as finansiële hoof.

More is sedertdien deur die OBK se direksie uit haar pos geskors.

Swig glo nie onder druk

Matjila het getuig ondanks groot druk op hom deur politici en sakelui om die OBK te oortuig om in spesifieke projekte te belê, het hy nie hieraan toegegee nie.

“Ek was nie daar om op die voordurende versoeke vir geld deur politici en die sake-elite te reageer nie. Ek was daar om proaktief na bates te soek wat in die gespesifiseerde portefeulje sou pas en aan die mandaat van kliënte voldoen,” het hy getuig.

Ek beskou dr. Dan as ’n goeie vriend.
Iqbal Survé

Matjila is egter male sonder tal die afgelope maande deur getuies beskuldig dat hy onder meer alle prosesse geïgnoreer het om ’n belegging van R4,3 miljard in dr. Iqbal Survé se Ayo Technology Solutions goed te keur.

Victor Seanie, assistentportefeuljebestuurder van die OBK wat op 22 Januarie geskors is, het einde Januarie reeds getuig hy glo die “persoonlike vriendskap” tussen Survé en Matjila was die “primêre dryfveer” hoekom die OBK in Ayo belê het.

“Ek beskou dr. Dan as ’n goeie vriend,” het Survé glo aan Seanie en ander kollegas gesê op ’n vergadering in aanloop tot die belegging.

Beleggings

Matjila het ook nie geskroom om wéér sy vuvuzela te blaas toe hy oor beleggings self gepraat het nie.

“Daar was in die 15 jaar onder my leiding as beleggingshoof ’n verstommende positiewe prestasie wat veel verder strek as net die syfers,” het hy getuig.

Hy sê dit was juis sy goeie bestuur en die feit dat hy nie net alle versoeke om beleggings goedgekeur het nie, wat daartoe gelei het dat hy “uit sy pos verwyder is”.

Matjila het self in November 2018 bedank.

Hy het beweer dat hy en “sekere” nie-uitvoerende direkteure glad nie langs dieselfde vuur gesit het wat sekere beleggings betref nie.

“Hierdie nie-uitvoerende direkteure het heeltemal in stryd met die reëls direk met senior bestuurders begin skakel ten opsigte van beleggings in bates wat nie op die JSE genoteer is nie.”

Matjila het erken beleggings in dié bates kan ’n uitdaging wees. Maar hy hou vol dit is nie noodwendig goed om nét in genoteerde bates te belê nie.

Volgens hom is baie van die groot maatskappye op die JSE nie Suid-Afrikaans nie. Beleggings in hulle steun dus nie die plaaslike ekonomie nie.

Hy het ook spesifiek na Steinhoff verwys as ’n voorbeeld van hoe groot die finansiële invloed op byvoorbeeld pensioenfondse is wanneer ’n maatskappy van dié aard ineenstort.

Matjila sê hy het spesifieke stappe gedoen om te probeer keer dat politici of mense met “politieke skakels” by beleggings inmeng.

Hy het getuig hy het ’n spesifieke komitee geskep wat alle transaksies wat voorgestel is monitor, veral wat hul blootstelling aan politici betref.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.