Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK-ondersoek: Veiligheidshoof het ‘rot begin ruik’

“Ek is nie James Nogu nie.”

Simphiwe MayiselaFoto: Skermgreep

So het Simphiwe Mayisela, voormalige hoof van IT-sekerheid by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), Dinsdag voor die kommissie van ondersoek na gebeure by dié instansie gesê.

Mayisela is in Junie 2018 by die OBK geskors weens sy betrokkenheid by die Nogu-e-pos-drama.

Nogu was die “persoon” wat dr. Daniel Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, op 1 September 2017 in ’n e-pos daarvan beskuldig het dat hy ’n lening van R21 miljoen toegestaan het aan ’n maatskappy wat ’n vrou sou bevoordeel met wie hy na bewering ’n romantiese verhouding gehad het.

Nogu het ook beweer die OBK het ingestem om ’n R300 000-lening van Pretty Louw – die vriendin – af te betaal.

Matjila is van alle beweringe vrygespreek nadat ’n forensiese ondersoek gedoen is.

Frans Lekubo, direkteur by Naledi Forensic Services, het voorheen voor die kommissie met regter Lex Mpati aan die hoof, bespiegel dat Mayisela moontlik Nogu kan wees.

Lees ook: OBK weet steeds nie wie versprei ‘gerugte’

Mayisela het Dinsdag ’n gedetailleerde weergawe gegee van presies hoe dit gebeur het dat ’n versoek om ’n dagvaarding te bekom sodat internetdiensverskaffers besonderhede aan die OBK moes verskaf oor wié die e-pos gestuur het, in ’n korrupsieklag teen dr. Dan Matjila verander is.

Volgens Mayisela het Matjila hom die mandaat gegee om na die polisie te gaan met ’n versoek om ’n dagvaarding aan twee internetdiensverskaffers – een in Suid-Afrika en een in Frankryk – uit te reik wat hulle sou dwing om besonderhede te verskaf oor wie Nogu eintlik is.

Mayisela het getuig dat Vuyokazi Menye, voormalige hoof van inligtingstegnologie by die OBK, teenwoordig was toe Matjila dié mandaat aan hom gegee het.

Mayisela sê hy het op 29 September 2017 ’n navraag by die polisie ingedien oor watter proses gevolg moet word om so ’n dagvaarding te bekom.

Die polisie het gesê hy moet ’n amptelike klag by ’n polisiekantoor indien, wat dan aan die versoek gekoppel en verwerk sou word.

Hy sê toe die saak eindelik op 2 Oktober by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria geregistreer is, is dit as ’n klag van korrupsie geregistreer weens die inhoud van die e-pos.

Mayisela sê hoewel hy dit eienaardig gevind het, was hy nie bekommerd daaroor nie aangesien hy dit duidelik in die aansoek gestel het dit gaan nié oor die inhoud nie, maar oor die bron van die e-pos.

Hy het nie die verandering in die aard van die klag aan Matjila óf die OBK gerapporteer nie. Hy sê dit was omdat hy onder die indruk was dat Matjila nie “bedreig” sou word nie, want sy klag het nooit oor hom gehandel nie.

Hy sê hy het nie besef dat dit presies anders om was en dat die polisie gedink het dit is hy – Mayisela – wat ’n klag van korrupsie teen Matjila wou lê nie.

“Die polisie het dus die inhoud van die e-pos as rede vir die klag gebruik en nie die versoek vir die oorsprong daarvan nie,” verduidelik Mayisela.

Hy het ’n ingewikkelde verloop van sake verduidelik.

Die polisie wou nie toelaat dat besonderhede oor wie Nogu is aan my of die OBK beskikbaar gestel word nie want volgens hulle sal so ’n stap keer dat ander mense ’n fluitjie blaas.
Simphiwe Mayisela

Die uitkoms daarvan was dat die polisie eerstens gedink het dat hy, Mayisela, eintlik Nogu is en tweedens wie ook al Nogu was, se identiteit beskerm moes word en dat daar eerder ’n klag van korrupsie teen Matjila ondersoek moes word.

“Die polisie wou nie toelaat dat besonderhede oor wie Nogu is aan my of die OBK beskikbaar gestel word nie want volgens hulle sal so ’n stap keer dat ander mense ’n fluitjie blaas.”

Mayisela sê hoe meer hy by die saak ingetrek is, hoe meer het hy “rot begin ruik”.

Hy sê hy het begin vrae stel oor hoekom die OBK self meer belang stel in wié die e-pos gestuur het, eerder as oor die inhoud daarvan.

Hy het toe sonder om sy base in te lig begin om die polisie in hul ondersoek te steun.

Mayisela sê hy het later begin glo dat dit dwarsboming van die gereg sou wees as hy vir Matjila sou sê van die saak.

Hy het verder getuig dat gegee die feite wat aan die lig gekom het, hy oortuig was dat die direksie die klag van korrupsie moes ondersoek aangesien dit volgens hom teenstrydig was met prosesse.

Mayisela is later geskors juis omdat hy dié klag ingedien het; hy luidens Naledi se ondersoekers onregmatige toegang tot Matjila se e-pos gekry het; dokumente wat hy glad nie moes hê nie op sy rekenaar gehad en versprei het; en omdat hy glo oneerlik was wat sy akademiese kwalifikasies betref.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.