Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK ontken hy gee SAL geld

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) ontken heftig dat hy by die finansiering van ’n herleefde Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) betrokke is.

Busi Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership SA.

Die ontkenning volg op kommentators se uitsprake wat daarop sinspeel dat geld van die OBK gebruik sal word om ’n belang van 51% in die SAL te koop.

Die OBK is die staatsbeheerde batebestuurder wat sowat R2 000 miljard se bates, insluitende die aftreegeld van duisende staatsamptenare, bestuur. Hy doen ook beleggings namens die Werkloosheidsversekeringsfonds en die Vergoedingsfonds.

Die OBK besit wel ’n belang van 30% in Harith General Partners, een van die konsortiumlede wat ’n strategiese private-ekwiteitsbelang in die sukkelende staatsbeheerde lugdiens gaan kry. Die OBK het toegegee dat “van die betrokkenes by die Takatso-konsortium voorheen bande met die OBK kon gehad het”.

Maar hy hou in ’n mediaverklaring vol dat Harith General Partners en die Takatso-konsortium hom op geen manier by die transaksie betrek het nie.

“Dit is wel waar dat die OBK aandele in Harith General Partners besit, maar dit moet duidelik gestel word dat die OBK nie ’n lid van die Takatso-konsortium is nie, en ons verstaan dit is ’n spesiale entiteit wat deur Harith Partners en Global Airways gestig is,” lui die OBK-verklaring.

Jabu Moleketi, voorsitter van Harith General Partners se direksie, was in 2006 as adjunkminister van finansies die voorsitter van die OBK toe die batebestuurder aanvoerfinansiering van R17 miljoen aan Harith gegee het, het Alf Lees, DA-lid van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge, Vrydag gewaarsku.

Harith se naam het ook in die Mpati-kommissie se verslag oor sy ondersoek na ongerymdhede in beleggingsbesluite by die OBK opgeduik. Hieroor het die OBK Maandag niks gesê nie.

LEES OOK: SAL: Nuwe vennoot pleeg glo ' korrupsie' met GEPF

Intussen het Busi Mavuso, uitvoerende hoof van die sakeliggaam Business Leadership SA (BLSA), gewaarsku teen staatsinmenging in die SAL soos wat altyd voorheen die geval was. Al voor die SAL se mees onlangse probleme het die lugdiens miljarde rande aan subsidies van die regering ontvang, en sodoende die sleutelbeginsels van die regering se eie beleid oor burgerlugvaart oortree.

Mavuso wys daarop dat die Witskrif oor Burgerlugvaart, wat in 2017 bekragtig is, baie duidelik stipuleer dat ’n mededingende lugdiensbedryf geskep moet word waarin alle deelnemers gelyk behandel word. Ekonomiese besluite moet deur die mark opgelos word en alle deelnemers in die lugvervoermark moet gelyk voor die reg behandel word.

Mavuso waarsku dat die regering nie sy voortgesette besit van 49% in die SAL moet beskou as ’n geleentheid om in te meng nie. Sy het verwys na die suksesvolle voorbeeld van Telkom wat verliese gely het voordat die regering sy beherende belang prysgegee het. Telkom is sedertdien winsgewend, en betaal belasting en dividende aan die regering.

“Die SAL kan eendag dieselfde doen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.