Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK oor direkteure wat waai: ‘Dis geen krisis’

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het Donderdag ná die bedanking van vier van sy 14 direkteure, onder wie Maria Ramos, oudhoof van Absa, vure probeer doodslaan.

Maria Ramos, voormalige uitvoerende hoof van Absa, het as direkteur van die OBK bedank.

Luidens ’n verklaring is die huidige direksie in Julie 2019 as ’n tussentydse direksie aangestel. Hul aanvanklike aanstelling was vir 12 maande. In Julie verlede jaar het Tito Mboweni, minister van finansies, hul aanstelling met 15 maande verleng.

Toe reeds het vier direkteure aangedui dat hulle nie die volle 15 maande gaan dien nie. Hulle was Ramos, Irene Charnley, Sindi Mabaso-Koyana en Bhekithemba Gamedze.

“Die vertrek van dié direkteure was te wagte aangesien hulle dit openbaar gemaak het toe hul termyn verleng is. Hul vertrek is om persoonlike redes en nie ’n weerspieëling op die OBK nie.”

Die OBK is die staatsbeheerde batebestuursfirma wat die geld van die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF), die Vergoedingsfonds en die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) belê.

Die vorige uitvoerende hoof, dr. Daniel Matjila, het die OBK in omstredenheid gedompel weens beleggingsbesluite wat die nodige noulettendheidsondersoeke gesystap het. Dit sluit beleggings in maatskappye onder die beheer van dr. Iqbal Survé, voorsitter van Independent Media, soos Ayo Technology Solutions, in. Die beleggingsbesluite was die onderwerp van die Lex Mpati-kommissie van ondersoek.

Die OBK se hele vorige direksie het op 1 Februarie 2019 weens bewerings van korrupsie in hul midde bedank.

Mboweni het intussen twee nuwe direkteure op die waarnemende direksie, Futhi Mtoba en Karabo Morule, aangestel.

Luidens die verklaring word daar steeds gepoog om ’n permanente direksie aan te stel.

Intussen is die OBK “stabiel en gaan voort om aan sy kliënte (soos die GEPF en WVF) se mandaat te voldoen”.

Die OBK sê ook hy is besig om die aanbevelings van die Mpati-kommissie te implementeer en maak goeie vordering daarmee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.