Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK oor palmolie: Dit wás goeie belegging
Die Openbare Beleggingskorporasie se hoofkantoor in Menlyn Maine, Pretoria.

Dit was die regte besluit dat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) bykans R1 miljard van die staatspensioenfonds (GEPF) in ’n fabriek in Mosambiek belê.

Dit is die getuienis van Roy Rajdhar, uitvoerende hoof vir impakbeleggings by die OBK, voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die korporasie.

Die kommissie het Maandag sy openbare sittings in die Pretoriase middestad hervat.

Rajdhar se getuienis het ooreengestem met dié van sy kollega, Wellington Masekesa, uitvoerende assistent vir die uitvoerende hoof by die OBK, wat op 19 Maart óók oor dié belegging voor die kommissie getuig het.

Rajdhar, wat die heel eerste getuie voor die kommissie was toe openbare sittings op 21 Januarie begin het, het in sy tweede verskyning voor die kommissie spesifiek op dié transaksie gefokus.

S&S Refineries is ’n fabriek in Nampula, Mosambiek, wat palmolie verwerk. Dit word dan later in onder meer seep gebruik.

Die OBK het altesaam $63 miljoen namens die GEPF in die aanleg belê. Hy het oorspronklik ’n belang van 50% bekom waarna hy dit tot 70% verhoog het.

Die randwaarde van die transaksie was nagenoeg R1 miljard.

Die drie groot vrae wat oor dié belegging gevra word is:

1. Wat was die rol wat Siyabonga Nene in die transaksie? Nene is die seun van Nhanhla Nene, voormalige minister van finansies;

2. Was dit ’n goeie belegging aangesien die aanleg vir jare nadat die OBK daarin belê het, nie palmolie geproduseer het nie?; en

3. Was ’n fooi van $1,7 miljoen (nagenoeg R18,5 miljoen) ten tye van die betaling daarvan in 2014 aan Nene Jnr. se vennoot Amir Mirza, geregverdig?

Die Nene’s

Wat betref Nene Jnr. se betrokkenheid by die transaksie het Rajdhar bevestig dat Nene Snr. in daardie stadium adjunk-minister van finansies en dus die voorsitter van die OBK was.

Nene Jnr. was saam met Mirza die direkteure van ’n maatskappy Indiafrec Trade and Investment.

Indiafrec het oorspronklik die OBK genader om hom te help om in die raffinadery as deel van ’n swart ekonomiese bemagtigingstransaksie (SEB) te belê.

Rajdhar het in sy getuienis erken dat, in retrospeksie, Mirza waarskynlik die skakel tussen die twee Nene’s gebruik het om ’n voet in die deur by die OBK te kry.

Die OBK het egter besluit om nié Indiafrec te ondersteun nie, aangesien sy mandaat hom nie toegelaat het om in SEB-transaksies wat buite Suid-Afrika se grense val te belê nie.

Geen geld is aan Indiafrec óf enige van die Nene’s betaal nie.

Belegging

Wat betref die belegging self het Rajdhar getuig dat selfs al sou Nene Jnr. nie by die transaksie betrokke gewees het nie, sou die OBK waarskynlik steeds daarin belê het.

“Dit was ’n baie goeie projek en ons sou dit waarskynlik oorweeg het al was Siyabonga Nene nie daarby betrokke nie,” het hy gesê.

Die OBK het egter besluit om direk in S&S te belê.

Dit was ’n baie goeie projek en ons sou dit waarskynlik oorweeg het al was Siyabonga Nene nie daarby betrokke nie.
Roy Rajdhar

Die belegging is na verskeie besoeke aan die aanleg en ’n noulettenheidsondersoek goedgekeur. Dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK maar toe die hoof beleggingsbeampte en Matshepo More, tans waarnemende uitvoerende hoof van die OBK en ook sy finansiële hoof, was betrokke by die goedkeuring van die projek.

Rajdhar sê waar die probleem gekom het is dat hulle nie kon voorsien dat nadat die belegging op 8 September 2014 gemaak is, die ekonomie van Mosambiek ineen sou stort nie.

Masekesa het ook voorheen getuig die rentekoers in Mosambiek het van 15% tot meer as 30% die hoogte ingeskiet. Die plaaslike geldeenheid – die metical (MT) – het drasties van MT30 tot die dollar tot MT70 tot die dollar teruggesak.

Palmolie word in dollar betaal wat beteken die aanleg kon nie bekostig om dit in te voer nie. Hy kon ook nie banklenings bekom nie.

Die aanleg het dus vir bykans vyf jaar na die belegging nie palmolie produseer nie.

Masekesa het getuig die aanleg het nou, vir die eerste keer in Maart 2019, weer palmolie ingevoer sodat dit weer kan begin produseer.

Rajdhar wou nie sê wat S&S se huidige waarde is nie. Hy het wel bevestig die OBK is besig om met ’n moontlike vennoot te onderhandel om in die maatskappy te belê.

Rajdhar het bevestig $35 miljoen van die totale bedrag wat in S&S belê is, was ’n lening. Die balans was vir aandele.

Wat die lening betref het S&S sedert 2015 nog geen terugbetalings gemaak weens die ekonomiese omstandighede in Mosambiek nie.

Soekfooi

Rajdhar en Masekesa het albei getuig dat nadat Indiafrec en Nene Jnr. uit die proses getree het, het Mirza die OBK genader en gesê hy kan die OBK help om direk in S&S te belê.

Hy het ook aangebied om die OBK te help om in drie ander projekte in Mosambiek te belê.

Die OBK het op die ou end ’n soekfooi van $1,7 miljoen in Mirza se Zaid International Trade and Investment betaal. Rajdhar het getuig dit lyk asof dié maatskappy spesifiek gestig was net om dié betaling te ontvang.

Momade Rassul Rahim, alleeneienaar van die raffinadery voordat die OBK belê het, het ooreengekom om ’n verdere $3,3 miljoen soekfooi aan Mirza te betaal.

Hy het dit egter nie gedoen nie. Mirza het probeer om dié geld uit die OBK te kry.

Rajdhar het bevestig die OBK het glad nie dié geld betaal nie.

Die OBK word reeds gekritiseer dat die $1,7 miljoen wat hy betaal het, 10% van die waarde van die hele S&S-projek was en nie 10% van die waarde van die OBK se belegging daarin nie.

Soekfooie word gewoonlik betaal as persentasie van die belegging wat gemaak word en nié as persentasie van die totale waarde van ’n projek of maatskappy nie.

Die OBK het oorspronklik net ’n 50%-belang in S&S bekom, wat beteken ’n soekfooi van net $850 000 moes eintlik aan Mirza betaal word.

Rajdhar verdedig die groter bedrag in dat Mirza ook ander moontlike beleggings aan OBK voorgestel het.

Die OBK het egter nooit hierin belê nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.