Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK paai staat se werkers oor beleggings
Die OBK se kantore in Menlyn Maine in die ooste van Pretoria. Foto: Elvira Wood

Staatsamptenare hoef nie bekommerd te wees oor hoe hul pensioengeld belê word nie.

Bykans 95% van die R1 847 miljard wat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) namens die staatspensioenfonds (GEPF) bestuur, is in genoteerde instrumente en daarom kan hulle gerus wees dat hul geld “goed belê” is.

Dit is die versekering wat Abel Sithole, uitvoerende hoof van die OBK, Vrydag gegee het toe hy die OBK se resultate aanlyn met die media bespreek het.

Die OBK het verlede week sy jaarverslag tot einde Maart bekend gemaak.

Hoewel die opbrengs op beleggings die afgelope twee jaar onder groot druk was, sê Sithole daar moet veel eerder na die tienjaar-opbrengs gekyk word.

“Onthou, ons belê op lang termyn. Dit maak dus veel meer sin om na die langer tydperk te kyk,” sê hy. Wanneer daar na die genoteerde portefeulje gekyk word, is die tienjaar-opbrengs 7,59%.

Die markwaarde van die GEPF se portefeulje het in die jaar tot einde Maart met 11,4% van R1 800 miljard tot R1 649 miljard gedaal.

Hy het ’n inkomste uit dividende van R34,1 miljard, uit rente van R52,3 miljard en uit eiendom van R1,8 miljard verdien.

Die GEPF het bydraes van R80,2 miljard ontvang. Voordele wat betaal is nadat lede bedank, afgetree of dood is, beloop R111 miljard. Dit is R8,4 miljard meer as ’n jaar tevore.

Die GEPF sê dis hoofsaaklik weens die 5,2%- maandelikse verhoging van pensioene en ’n toename van 3,1% in die aantal pensioentrekkers.

Die GEPF en die OBK waarsku albei in hul jaarverslae dat hulle ’n uitdagende jaar verwag wat betref beleggings.

Hulle wys daarop dat markte steeds baie wisselvallig is, en dat dit druk op beleggings kan plaas.

Oor die sowat 5% van die GEPF se bates wat die OBK bestuur en wat nie in genoteerde instrumente belê is nie, sê Sithole dit presteer ook eintlik baie goed.

“Sowat 45% hiervan presteer baie goed, terwyl 20% presteer, maar nie so goed as wat ons graag sou wou hê nie.

“Daar is wel 33% wat onderpresteer, en ons doen stappe waar nodig,” sê hy.

Sithole het egter herhaaldelik gesê dat dit 33% van 5% is. Dit beloop dus sowat 1,6% van die GEPF se totale portefeulje.

“Dit is ongelukkig hierdie deel van die portefeulje wat tipies aandag geniet omdat dit nie presteer nie.

“Mense het die reg om ons op ons tone te hou wat betref beleggings, maar daar moet onthou word dat dit net ’n klein deel van die oorhoofse portefeuljes is,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.