Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK se Dan Matjila ‘sal oor 5 maande bedank’

Dr. Daniel Matjila, uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), het aangebied om te bedank, maar eers oor vyf maande, berig die amaBhungane-sentrum vir ondersoekende joernalistiek.

Daniel Matjila, hoof van die Openbare Beleggingskorporasie. Foto: Dean Hutton, Bloomberg

Jabulani Sikhakhane, woordvoerder van Tito Mboweni, minister van finansies, het aan amaBhungane gesê die “aanbod” is begin November gedoen.

Sikhakhane het by navraag aan Netwerk24 bevestig: “Die minister van finansies is bewus van die uitvoerende hoof van die OBK se plan om te bedank... Die direksie behartig tans Dan Matjila se plan, waarna die direksie die minister se goedkeuring sal vra.”

Sikhakhane sê die OBK se direksie moet die batebestuursfirma se uitvoerende hoof aanstel, “met die goedkeuring van die minister”.

Matjila is die afgelope jaar in omstredenheid gehul en is al herhaaldelik ondersoek. Indien dit waar is dat hy uit vrye wil gaan bedank, sal dit ’n groot ommekeer wees, aangesien hy so onlangs as 25 Oktober in ’n ope brief aan Suid-Afrika volgehou het hy is heeltemal onskuldig en om die waarheid te sê die slagoffer van ’n “McCarthy-agtige” smeerveldtog.

Die OBK bestuur onder meer die pensioenfonds van staatsamptenare (GEPF), en fondse van die Vergoedingskommissie en die Werkloosheidsversekeringsfonds. Die OBK is die grootste batebestuurder op die vasteland met meer as R2 000 miljard se bates onder sy beheer.

Vakbonde soos Cosatu, opposisiepartye soos die DA en organisasies vir afgetrede staatsamptenare soos die Vereniging vir die Monitering en Voorspraak van Staatspensioene het die afgelope jaar hul ernstige kommer uitgespreek oor die OBK se beleggings.

Onder die omstrede beleggings was dié in Independent Media, die gewig van die belegging in Eskom-effekte en die batebestuurder se onverklaarde beleggings in ongenoteerde maatskappye.

Pres. Cyril Ramaphosa het middel Oktober ’n kommissie van ondersoek na die OBK se beleggingsbesluite aangestel. Regter Lex Mpati, voorheen regterpresident van die appèlhof, sal die kommissie lei. Gill Marcus, voormalige president van die Reserwebank, en die batebestuurder Emmanuel Lediga sal Mpati bystaan.

Op 21 Oktober is ’n forensiese verslag deur adv. Geoff Budlender oor Matjila en die OKB se finansiële hoof, Matshepo More, uitgereik.

Daar is vroeër onder meer beweer dat Matjila geld wat vir welsynsprojekte bedoel was, na ’n vriendin van hom herlei het. Die direksie het verlede jaar hieroor ondersoek ingestel en bevind dat die bewerings ongegrond is.

Die nuwe verslag is aan Mboweni oorhandig vir ’n beslissing.

In sy ope brief het Matjila onder meer te velde getrek teen die bewering dat hy omkoopgeld van R5 miljoen aanvaar het om in die mislukte VBS Mutual Bank te belê.

“Ad. Terry Motau (wat die forensiese ondersoek oor VBS gedoen het) is op rekord dat hy nie ’n beslissende bevinding teen my kan maak nie en dat dit ondersoek verg. Ek verwelkom enige ondersoek oor dié bewering wat ek as ’n klassieke geval van hoorsê beskou, gegrond op die getuienis van twee mense wat volgens die verslag erg by bedrog by VBS betrek word.

“Die beskuldiging van onbehoorlikheid, dat ek lenings aan ’n vrou toegestaan het met wie ek na bewering romanties verbind was, is reeds deur wetlike ondersoekprosesse aan die kaak gestel.

“Dit bedroef my eerstens erg dat ’n swart sakevrou, Pretty Louw, wat ’n belegging vir haar maatskappy gesoek het, sekere mense dadelik tot die siniese, seksistiese en sensasionele gevolgtrekking laat kom het dat seksuele gunste ’n rol gespeel het in die toekenning van die finansiële steun wat sy versoek het.

“Die bewerings sou diep beledigend teenoor die betrokke vrou wees, asook teenoor my as toegewyde eggenoot en vader.”

Netwerk24 het vrae aan die tesourie en OBK gestuur en sal hul kommentaar bywerk sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Obk  |  Tito Mboweni  |  Daniel Matjila  |  Gepf  |  Minister Van Finansies  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.