Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK sê hoekom hy Edcon se reddingsplan steun

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) steun die sakereddingsplan vir Edcon wat aan die groep se krediteure voorgelê is.

Edcon besit onder meer Edgars-winkels.

’n Vergadering is Maandag gehou oor die kwessie waarop die OBK ten gunste van die plan gestem het.

In ’n verklaring sê die OBK dat hy die plan ondersteun omdat dit ’n hoër dividend vir die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) gaan beteken as wat ’n likwidasie tot gevolg sou hê.

Die sakeredding van Edcon kom skaars ’n jaar nadat die OBK namens die WVF R1,2 miljard in Edcon belê het.

Die OBK, wat die batebestuurder van staatsfondse soos die WVF en ook van die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) is, het baie kritiek uit sekere oorde gekry oor die geld wat in Edcon belê is.

Volgens die OBK maak die belegging die WVF geregtig op gewone aandele in die maatskappy, ’n subskripsie in “indirekte versekerde gewaarborgde verpligte omskepbare instrumente” en ’n subskripsie in ’n “indirekte versekerde gewaarborgde instrument”.

Volgens die OBK is die WVF geregtig daarop dat dié omskepping van sy belegging versnel word wanneer sekere gebeure plaasvind, soos in die geval van die sakeredding.

Dit is onduidelik of die OBK bedoel dat die WVF anders behandel gaan word as ander gesekureerde krediteure soos ’n lang lys van banke en of hy net wil verduidelik dat hy ’n gesekureerde krediteur is.

Gesekureerde krediteure gaan volgens die sakereddingsplan 19c van elke rand kry.

Die WVF is die grootste gesekureerde skuldeiser met ’n eis van R888,7 miljoen, toon die sakereddingsplan. Skuldeisers word altesame R8,1 miljard geskuld. Die gesekureerde krediteure se gedeelte beloop R3,8 miljard, ingesluit ’n lang lys van banke.

LEES OOK: 15 kopers stel in Edgars, Jet belang

Die batebestuurder sê die belegging is gedoen onder die beleggingsmandaat wat van die WVF gekry is om ’n sekere gedeelte van die geld wat bestuur word, te belê om ’n groot maatskaplike impak te maak.

“Dit laat die OBK toe om in projekte te belê wat daarop gerig is om poste te bewaar en te skep. Hoewel dit waarskynlik is dat mense hul werk gaan verloor, is die ondersteuning van die sakereddingsplan daarop gemik om dié werkverliese te verminder, dat sy winkels behou word sodat verhuurders ondersteun word, en dat die waardeketting van die winkelgroep ook onderhou kan word.

“Die OBK is dus ten gunste van die plan teenoor ’n likwidasieproses, wat ’n hoër impak op werkverliese sal hê.”

Die staatsonderneming sê hy is bewus van die hofaansoeke wat gebring is teen die sakereddingsplan en hoop ’n oplossing kan gevind word wat voordelig vir alle belangegroepe sal wees en soveel moontlike poste bewaar kan word.

Edcon het einde Maart 24 400 mense in diens gehad.

Die meerderheid van die poste – sowat 80% of meer as 19 400 – is permanent, volgens die OBK.

Van hulle is 16 400 werknemers jonger as 35 jaar.

Die sakereddingsplan is goedgekeur met meer as 75% van die belanghebbendes wat ten gunste daarvan gestem het.

Die OBK sê hy het ’n eksterne regsadviseur aangestel om hom oor sy regte te adviseer en namens hom oor die sakeredingsproses te stem.

Meer oor:  Jet  |  Edcon  |  Edgars  |  Sakeredding  |  Klerewinkels  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.