Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK se Matjila hou vol hy het niks verkeerd gedoen

Dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), hou vol dat hy niks verkeerd gedoen het by dié instansie nie.

Dr. Dan Matjila tydens sy verskyning voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie. Foto: Reuters

In ’n beëdigde verklaring wat hy by die hooggeregshof in Pretoria ingedien het, sê hy die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK het hom nie ’n regverdige kans gegun om sy kant van die saak te stel nie en dat die kommissie bewerings oor hom maak wat onwaar is.

Die verklaring vorm deel van Matjila se aansoek om ’n geregtelike hersiening van die finale weergawe van die kommissie se verslag.

Die verslag is op 13 Desember 2019 aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur. Dit is op 12 Maart 2020 op die presidensie se webtuiste gepubliseer.

Matjila vra dat dele van die verslag geskrap word, of dat die hele verslag ter syde gestel word.

In sy verklaring van 356 bladsye, wat sy verklaring aan die kommissie insluit, dui hy 20 paragrawe aan en motiveer hy hoekom hy wil hê dat dié stellings en/of bevindinge van die kommissie uit die verslag gehaal moet word.

Matjila maak veral beswaar daarteen dat die kommissie, onder leiding van regter Lex Mpati, aanbeveel dat die staat se pensioenfonds (GEPF) en/of die OBK en/of die regering as aandeelhouer in die OBK ’n “toepaslike ondersoek instel of Matjila die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste (Fais) se vereistes van eerlikheid en integriteit gehandhaaf het en of hy as ‘geskik en behoorlik’ beskou kan word om ’n sleutelpersoon by die OBK te gewees het”.

Matjila voer in sy verklaring aan dat hy reeds skriftelik in kennis gestel is dat die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) beplan om sy toelating tot die finansiëledienstebedryf te beëindig.

Matjila sê in die verklaring die vraag of hy as "geskikte en behoorlike" persoon beskou kan word om ’n sleutelpos by ’n instansie soos die OBK te vul, is nooit met hom bespreek op die kommissie se openbare sittings in Pretoria nie.

Hy sê ook die kommissie het gefouteer deur dié bevinding te maak omdat dit volgens hom nie “rasioneel gekoppel kan word aan die bewyse wat voorgelê is nie”.

“Daar is geen twyfel dat die kommissie geweet het dié bevinding kon groot vooroordele teen my skep en my loopbaan en lewensbestaan in die finansiëledienstebedryf in gedrang bring nie,” sê hy.

Matjila wei ook breedvoerig in sy verklaring uit oor bevindings dat hy nie die regte prosesse gevolg het toe die OBK beleggings in maatskappye soos Ayo Technology Solutions, Steinhoff en Erin Energy gedoen het nie.

Hy verduidelik hoekom hy meen hy het wel die regte prosesse gevolg toe die OBK einde 2017 R4,3 miljard in Ayo belê het.

Hy gee ook ’n lang regverdiging oor hoekom die brief wat hy op 4 Desember 2017 aan die maatskappy gestuur het, nie enige reëls oortree nie.

Ayo vorm deel van dr. Iqbal Survé van Sekunjalo se sakeryk.

Die Ayo-transaksie het sentraal gestaan in die ondersoek. Sedert die OBK sy belang daarin teen R43 per aandeel verkry het, het die aandeelprys geval tot net R2,50.

“Sedert die verslag bekend gemaak is, het ek, saam met my gesin, groot vooroordele en openbare foltering en teistering verduur.

“Ek word deurlopend onderwerp aan onregverdige en uiters negatiewe mediadekking op openbare platforms, en my reputasie as ’n slim, maar etiese batebestuurder en belegger, nasionaal en internasionaal, is amper vernietig,” voer Matjila aan.

Matjila se prokureur, Brett Murison van Boqwana Burns, het aan Netwerk24 bevestig dat die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK, insluitende die drie kommissarisse, asook pres. Cyril Ramaphosa en Ronald Lamola, minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, aangedui het dat hulle die aansoek teenstaan.

Die kommissarisse was Mpati, Gill Marcus en adv. Emmanual Lediga.

Hulle is almal as verweerders aangedui in Matjila se aansoek.

Die OBK, Ayo, Lancaster 101 en Lancaster 102 word ook aangedui as verweerders.

’n Hofdatum is nog nie vasgestel nie.

Die presidensie het nie gereageer op ’n versoek om kommentaar nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.