Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK se Steinhoff-besluit kos afgetredenes R6,3 mjd

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se besluit om kollateraal op ’n belegging in Steinhoff prys te gee, het hom R9,3 miljard gekos.

Paul Magula
Paul Magula getuig vir die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie. Foto: Skermgreep

R6,3 miljard van dié bedrag was dié van die staatspensioenfonds (GEPF).

Die staatspensioenfonds het reeds R5 miljard van dié R6,3 miljard-belegging afgeskryf.

Dit is baie meer as wat die korporasie in die omstrede belegging in Ayo Technology Solutions verloor het.

In dié geval het die OBK R4,3 miljard verloor.

Paul Magula, voormalige uitvoerende hoof van die OBK se afdeling vir risiko en nakoming, het Maandag voor die kommissie van ondersoek na gebeure by dié korporasie getuig hoe dit gebeur het dat die OBK so ’n enorme verlies gely het.

Volgens Magula se getuienis het die OBK die transaksie om in Steinhoff te belê in twee fases hanteer.

Die OBK het in die eerste fase van ’n beleggingstransaksie R9,3 miljard aan die bemagtigingsgroep Lancaster 101 geleen om aandele in Steinhoff International

te koop.

Die OBK – wat fondse namens die GEPF bestuur – het ’n 50%-belang in Lancaster 101 gehou, terwyl 25% deur Lancaster Group en 25% deur ’n bemagtigingstrust gehou is.

Lancaster Group word 100% deur Jayendra Naidoo gehou, voorheen ’n direkteur van Steinhoff, en die voorsitter van Pepkor.

Die OBK het tóé – as deel van die tweede fase van die transaksie – besluit om die kollateraal wat hy vir die lening gekry het aan Citigroup te verkoop.

Die korporasie het weens dié besluit enorme verliese gely nadat Steinhoff se aandeelprys in 2017 in duie gestort het.

Magula sê as die OBK nié die transaksie in Steinhoff geherstruktureer het nie en die versekering wat hy vir sy belegging wat hy in fase een van die transaksie bekom het, behou het, sou die korporasie nie die R9,3 miljard verloor het nie. Die GEPF sou dus ook nie sy R6,3 miljard verloor het nie.

Magula het die besluit om van die kollateraal ontslae te raak as “roekeloos” beskryf.

Hy het in sy getuienis gesê Steinhoff se aandele het geval skaars vyf maande nadat die besluit geneem is.

Magula het getuig hy het geen idee hoekom die OBK dié besluit geneem het nie.

Lees ook: R4 mjd. se lening vir Steinhoff-aandele afgeskryf

Magula sê nog iets wat eienaardig was van die transaksie met Lancastar 101 was dat hy as hoof van risiko nooit ingelig is oor wie voordeel uit die bemagtigingstrust sou trek nie.

“Gegewee my posisie in die maatskappy sou ek verwag het ek ingelig moes wees oor wie dit is,” het hy getuig.

Hy sê hy weet tot vandag toe nie wie die bevoordeeldes is nie.

Ayo

Wat betref die omstrede belegging in Ayo het Magula – net soos verskeie getuies voor hom – getuig dat geen behoorlike prosesse gevolg is toe dié transaksie goedgekeur is nie.

Die OBK het R4,3 miljard in dr. Iqbal Survé se maatskappy belê voor dit in Desember 2017 genoteer het.

Die OBK het R43 per aandeel betaal. Dié aandele verhandel nou teen R16 per aandeel.

“Daar is eienaardige besluite geneem wat betref die belegging in Ayo.

“Die uitvoerende hoof was só desperaat om die transaksie goed te keer dat hy van sy verlof teruggekom het om die vergadering te reël net om die transaksie goed te keur.”

Dr. Dan Matjila was die uitvoerende hoof by die OBK toe besluit is om in Ayo te belê.

Lees ook: Só het OBK geknoei om in Ayo te belê

Wie is Paul Magula?

Paul Magula was voorheen uitvoerende hoof van die OBK se afdeling vir risiko en nakoming.

Hy is in 2018 afgedank weens swak prestasie.

Die Mail & Guardian berig dit blyk uit bankrekords dat Magula een van die individue was wat twyfelagtige betalings van Vele Investments ontvang het.

Vele Investments was ’n aandeelhouer in VBS Mutual Bank wat in Desember 2018 gelikwideer is.

“Die bankrekords van Vele Investments wys bedrae van tussen R100 000 en R300 000 is tussen Desember 2016 en Julie 2017 aan Magula betaal,” berig die koerant.

Magula was een van twee direkteure van die OBK wat in VBS se direksie gedien het.

Die OBK het ’n belang van 25,26% in VBS gehad.

“Hoekom hierdie desperaatheid selfs wanneer die senior lede van die komitee wat oor die transaksie moes besluit nie beskikbaar was nie?

“Hoekom het die uitvoerende hoof dit as só belangrik geag dat hy van verlof teruggekom het net om dié transaksie goed te keur,” het Magula gevra.

Hy het getuig ’n onherroeplike aanbod is geteken sonder dat die korrekte prosesse gevolg is.

Hy sê geen noulettenheidsondersoek is gedoen voordat die OBK in Ayo belê het nie.

Hy het die sogenaamde “lessenaarstudie” wat oor Ayo gedoen is, afgemaak as ongeskik om ’n besluit oor só ’n groot belegging te neem.

“Jy kan nie ’n besluit gebaseer op só ’n studie neem nie.”

Magula sê hy wil weet hoekom Matsepo More, waarnemende uitvoerende hoof van die OBK en sy finansiële hoof, nie net soos Fidelis Madavo, hoof van genoteerde beleggings by die OBK, ook oor dié transaksie geskors is nie.

Madavo is in Januarie geskors.

Lees ook: Geskorste OBK-hoë: Niks skelm aan dié beleggings

Die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) het op 21 Februarie ’n brief aan die OBK

gestuur en hom beveel om die R4,3 miljard wat hy in Ayo belê het met rente terug te eis.

Meer oor:  Steinhoff  |  Ayo  |  Openbare Beleggingskorporasie  |  Gepf  |  Obk  |  Aftreefonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.