Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK skors 2 topbestuurders oor Ayo-transaksie

Fidelis Madavo, hoof van genoteerde beleggings by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), is geskors.

Fidelis Madavo, geskorste uitvoerende hoof van genoteerde beleggings by die OBK, Dinsdag met sy verskyning voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK.Foto: Elvira Wood

Adv. Jannie Lubbe, ondersoekleier van die kommissie van ondersoek na die OBK, het dié aankondiging gedoen die oomblik wat die sitting Dinsdag in Pretoria hervat het.

Madavo moes vandag getuienis lewer. Hy het wel by die kommissie se sitting opgedaag.  

Benewens Madavo is Victor Seanie, assistent-portefeuljebestuurder, ook met onmiddellike effek geskors.

“Madavo is gisternag met onmiddellike ingang as uitvoerende hoof van genoteerde beleggings geskors. Dit kom nadat die OBK ’n interne ondersoek oor die Ayo-transaksie afgehandel het,” sê Lubbe.

“Ek is in geen stadium ingelig dat die OBK of sy interne ondersoekspan besig was met hierdie ondersoek nie. Ek dink dit is eienaardig dat die OBK ’n ondersoek gedoen het parallel met dieselfde kwessies wat die kommissie ondersoek,” sê Lubbe.

“Ek dink dis nodig om die voorsitter van die direksie te roep en te vra om dit te kom verduidelik,” het hy aan regter Lex Mpati, voorsitter van die kommissie, gesê.

Madavo het ongeag die skorsing opgedaag om getuienis te lewer. Sy beëdigde verklaring is kort voordat die sitting begin het, aan die media verskaf.

Luidens die verklaring gaan hy aan die kommissie verduidelik hoe die OBK besluite neem om in genoteerde maatskappye te belê.

“Ja, ek het eers gisternag gehoor ek is geskors. Ek wil net sê ek was nie eens in die land toe die besluit geneem is om in Ayo te belê nie.

“As hoof van die afdeling wat dié besluit geneem het, aanvaar ek egter die verantwoordelik daarvoor,” sê hy.

Die OBK het R4,3 miljard in Iqbal Survé se Ayo Technology Solutions belê voor Ayo se notering in Desember 2017. Die OBK het R43 per aandeel betaal.

Sedertdien het Ayo se aandeelprys tot R23 geval.

Madavo het in sy getuienis gesê die voorstel dat die OBK in Ayo belê, het van dr. Daniel Matjila, toe uitvoerende hoof van die OBK, se kantoor na sy afdeling gekom. Hulle het daarna met Ayo vergader en nadat verskeie verslae voorgelê is, is besluit om in Ayo te belê.  

Die OBK het self deur die loop van die oggend ’n verklaring uitgereik waarin Deon Botha, hoof van korporatiewe sake, sê die interne ondersoek na die Ayo-transaksie is begin nadat die OBK se direksie en topbestuur in Desember voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) getuig het oor sy beleggingsbesluite.

In dié sitting was daar skerp kritiek op verskeie OBK-beleggingsbesluite en LP’s het herhaaldelik gevra of mense tot verantwoording geroep is.Die voorlopige verslag van die interne ondersoek is Maandag aan die OBK-direksie oorhandig.

“Die voorlopige verslag weerspieël ’n blatante verontagsaming van die korporatiewebeheer- en goedkeuringsprosesse van die OBK,” luidens Botha se verklaring.

Volgens Botha duur die ondersoek voort en die direksie sal alle belanghebbendes oor verdere verwikkelinge inlig. Hy sê die OBK “doen alles in sy vermoë om die integriteit van die instelling te herstel”.

Meer oor:  Fidelis Madavo  |  Openbare Beleggingskorporasie  |  Obk-Ondersoek  |  Gepf  |  Obk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.