Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK: Só stry Total se swart vennote oor wie reg is

Die kommissie van ondersoek na die gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) gaan weer moet besluit wie vertel die waarheid onder eed, en wie nie.

Total se boortoring in die Brulpadda-gasveld.

Dit volg nadat nóg ’n getuie ’n ander daarvan beskuldig het dat hy onder eed gelieg het.

In die jongste stryd oor wie die waarheid praat en wie nie, het Sipho Mseleku, uitvoerende voorsitter van Sakhumnotho, vir Lawrence Mulaudzi van Kilimanjaro Capital aangevat oor sy “leuens”.

Mseleku het Maandag voor die kommissie getuig.

Dié twee se maatskappye het saam die konsortium Kilimanjaro Sakhumnotho Konsortium gevorm om in 2015 die beherende belang in Tosaco te bekom.

Tosaco is die swartbemagtigingsvennoot van die petrochemiese reus Total Suid-Afrika.

Die OBK het R1,8 miljard, waarvan R100 miljoen ’n transaksiefooi was, aan die konsortium geleen om die belang te bekom.

Die enigste feite waaroor Mseleku en Mulaudzi in hul getuienis dit eens is, is dat hulle as ’n konsortium die geld geleen het, die belang bekom het en dat hulle die lening soos per die ooreenkoms vereis word, terugbetaal.

Waaroor hulle verskil, is oor hóé die transaksie beklink is.

Mulaudzi het op 27 Maart getuig dat hy deur dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, gedwing is om ’n konsortium met Sakhumnotho te vorm as hulle die transaksie wou beklink.

Hy het ook vrae gevra oor of die OBK die nodige noulettendheidsondersoek oor Sakhumnotho uitgevoer het vóór die OBK op die insluiting van dié maatskappy by die transaksie aangedring het.

Mseleku het dié beweringe ten sterkste ontken.

Hy sê Sakhumnotho het onafhanklik van Kilimanjaro sy belangstelling in die Tosaco-transaksie getoon.

Mseleku het getuig dat Sakhumnotho, net soos Kilimanjaro, die OBK vir finansiering genader het.

Volgens Mseleku het Matjila hom in ’n vergadering by die OBK se kantore ingelig dat die OBK net met ’n maatskappy oor finansiering sal praat nadat hy as die suksesvolle bieër aangewys is.

Net nadat Matjila met Mseleku vergader het, het hy glo ook met Mulaudzi vergader.

Mseleku het getuig hy het Matjila na dié vergadering gevolg, want hy wou seker maak dat Matjila dieselfde boodskap aan Mulaudzi gee.

Mseleku sê Matjila het hulle toe aan mekaar voorgestel. Matjila het toe glo ook voorgestel hulle gesels met mekaar oor ’n moontlike konsortium.

Gill Marcus, een van die kommissarisse van die ondersoek, wou weet of Mseleku nooit onraad vermoed het omdat Matjila hom inderwaarheid aan ’n mededinger voorgestel het nog voordat die suksesvolle bieër aangewys is nie.

“Het jy nie besef dit was ’n boodskap wat aan jou gestuur is nie?” het sy gevra.

Mseleku het erken hy het dit nie so gesien nie “want ons kon nog altyd kies om nie saam te smelt nie”, was sy getuienis.

Mseleku sê dit was ’n gesamentlike besluit tussen hom en Mulaudzi om die konsortium te vorm.

Hy het wel erken dat hy dié stap gedoen het sonder om self ’n noulettendheidsondersoek oor Kilimanjaro uit te voer.

Marcus was baie verbaas dat enige maatskappy gewillig is om in só ’n groot transaksie betrokke te raak ná ’n enkele ontmoeting en sonder om enige ondersoek oor die voorgestelde vennoot te doen.

Mseleku sê gegewe dat Sakhumnotho reeds in 2010 ’n ander transaksie met die OBK beklink het, daar toe reeds ’n noulettendheidsondersoek oor die maatskappy gedoen is.

Hy sê die OBK het wel die bevindinge van die ondersoek hersien voordat die Tosaco-transaksie beklink is.

Mseleku het ook vir Bantu Holomisa, leier van die UDM, aangevat nadat dié beweer het daar was ongerymdhede met die R100 miljoen-transaksiefooi wat as deel van dié transaksie betaal is.

Mseleku het bevestig Sakhumnotho het R50 miljoen hiervan ontvang. Hy sê dit was egter ’n lening en is lankal reeds terugbetaal.

Ander getuies stry ook, beskuldig mekaar van leuens

1. Lebashe Investments vs Bantu Holomisa: Jabu Moleketi, voormalige adjunkminister van finansies, sê Holomisa het leuens oor hom en sy kollegas Tshepo Mahloele en Warren Wheatley aan die kommissie vertel.

Holomisa beweer dié drie het Lebashe Investment Group en Harith (Harith Fund Managers en Harith General

Partners) geskep met die doel om die OBK te plunder.

Die drie ontken die bewering.

2. Siphiwe Nodwele, Kevin Hardy, Lufuno Nemagovhani en Victor Seanie vs Iqbal Survé en Fidelis Madavo: Nodwele, Hardy, Nemagovhani en Seanie het almal getuig die OBK het al die reëls oortree toe hy R4,3 miljard in Survé se Ayo belê het.

Nemagovhani en Seanie het voorheen vir die OBK gewerk, terwyl Nodwele en Hardy vir Ayo gewerk het. Survé en Madavo, geskorste hoof van genoteerde beleggings by die OBK, het weer op hul beurt getuig dat daar geen ongerymdhede was nie en dat die OBK al die regte prosesse gevolg het toe dié transaksie goedgekeur is.

3. Mondli Gungubele vs Dudu Hlatshwayo: Gungubele, adjunkminister van finansies, het eers voor die kommissie getuig dat die direksie van die OBK self besluit het om in Februarie te bedank. Hy het egter kort daarna sy deuntjie verander nadat Dudu Hlatshwayo, ’n direkteur van die OBK, voor die kommissie getuig het dat Tito Mboweni, minister van finansies, hulle aangesê het om te bedank.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.