Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Herrie oor OBK-voorsitter se sakebelange

Bewerings van belangebotsing teen die voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), dr. Reuel Khoza, is vandeesweek deur dié batebestuurder van die staat ontken.

Dr. Reuel Khoza, voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie. Foto: Elizabeth Sejake

Die sakeman Kholofelo Maponya van Matome Maponya Investments (MMI) het in die parlement op ’n sitting van die staande komitee oor finansies dié bewerings gemaak.

MMI is in die 1970’s gestig deur sy pa, die bekende entrepreneur dr. Richard Maponya, wat verlede jaar op 99 oorlede is, maar is onlangs meer in die kollig weens die aandag wat die Mpati-kommissie van ondersoek oor die OBK daarop gevestig het.

Maponya is ontevrede oor wat die kommissie in sy verslag oor sy onderneming sê en het vandeesweek weer ’n voorlegging aan die komitee gelewer oor sy siening van die probleme wat ontstaan het in sy onderneming.

Die onderneming is in verskeie regsgedinge met die OBK gewikkel.

Maponya voer aan die probleme spruit uit foute wat die OBK gemaak het en weens die onbevoegdheid van senior bestuur om ongenoteerde maatskappye en entrepreneurs te hanteer waarin belê word of aan wie geld geleen word.

Hulle wil ’n oplossing hê wat nie die howe betrek nie.

Hy sê hulle het al by die komitee gekla oor die voorsitter van die OBK wat ’n party met ’n belangebotsing is omdat hy aangebied het om MMI se belang in SA Home Loans Investments (SAHL) te koop “vir ’n bedrag waarmee mens nie toiletpapier kan koop nie”, terwyl dié onderneming in ’n dispuut met die instelling gewikkel is.

Hy het ook beweer Khoza belê in ’n hernubare-energiefonds wat finansiering van die OBK kry.

“Ons voel nie veilig in ’n openbare instelling waar die voorsitter ons mededinger is nie.”

Floyd Shivambu, hoofsweep van die EFF in die parlement, het ook na die klagtes verwys en gesê dit gaan daaroor dat Khoza “bates probeer koop wat nou aan die OBK behoort” en dit is bates wat onder dispuut is.

“Die bates van SAHL is in dispuut en deel van ’n hofgeding en hy bied aan om dit self te koop.”

Shivambu sê dit word onder die komitee se aandag gebring sodat daarop gereageer kan word.

Hy glo ook dis nie reg dat Khoza as voorsitter van Discovery Bank dien nie omdat die OBK waarskynlik in die maatskappy belê.

OBK
Abel Sithole, uitvoerende hoof van die OBK.

Abel Sithole, uitvoerende hoof van die OBK, sê hy kan bevestig Khoza het vandat hy voorsitter is, nog nooit die OBK vir finansiering vir enige van sy ondernemings genader nie.

Sithole sê hy kan hom nie uitlaat oor die tydperk voordat Khoza voorsitter geword het nie, want hy is al lank ’n sakeman.

Die OBK het Donderdag in ’n verklaring gesê hy is nie bewus van ’n aanbod wat Khoza vir MMI vir sy belang in SA Home Loans gemaak het nie en is ook nie genader vir finansiering vir so 'n transaksie nie.

David Masondo, adjunkminister van finansies, wat die sitting bygewoon het, sê die nasionale tesourie glo partye wat ontevrede is met die bevindings van die Mpati-kommissie, het ’n regsroete om te volg om die bevindinge te betwis.

Hy sê die komitee en nasionale tesourie het nie die magte om die bevindings te wysig of tersyde te stel nie.

“Ek sal aanbeveel dat dié wat ongelukkig is, regstappe doen.”

Hy meen ook as daar dispute is oor kontraktuele verhoudings wat die OBK het met ondernemings, moet dit in die instelling se hande gelaat word om te hanteer.

Hy sê die OKB het ’n fudisiêre verantwoordelikheid teenoor die Staatspensioenfonds (GEPF), wie se geld in dié verband bestuur word.

As daar nie ’n konflikoplossingsmeganisme is wat albei partye tevrede stel nie, of konsensus bereik kan word oor hoe kontraktuele dispute opgelos kan word nie, het die OBK geen ander keuse as om die hof te nader nie, meen hy.

PRETORIA, SOUTH AFRICA - APRIL 2: Chairperson of
Dr. Iqbal Survé in 2019 tydens sy getuienis voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK. Foto: Gallo Images

Dr. Iqbal Survé, voorsitter van die Sekunjalo-groep se beheermaatskappy, wat ook ’n voorlegging aan die komitee gemaak het oor hul ontevredenheid met die Mpati-verslag, sê hulle gaan nou “beslis die Mpati-kommissie se verslag laat hersien”.

Volgens Survé is dit tot dusver nie gedoen nie omdat hulle glo daar is nie negatiewe bevindings oor hulle gemaak nie. Hy sê die verslag bevat egter misleidende inligting.

Survé voer aan die groep en sy beleggings is die teiken van ’n smeerveldtog en dat daar teen hulle gediskrimineer word op grond van ras.

Hy beweer die OKB teiken Sekunjalo weens sy belang in Independent Media en dat mediavryheid ter sprake is. Hy beweer “daar is mense agter die skerms” betrokke wat wil hê Independent Media moet ander eienaarskap kry.

Masondo sê hy sal graag die feite wil hoor oor die “partye agter die skerms”, want daarsonder is dit net ’n teorie.

“Dit is belangrik vir Survé om met die feite na vore te kom.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.