Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK-voorsitter: ‘Ja, als is toe nie pluis nie’

Die voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) glo nie sy kollegas in die direksie is onafhanklik of objektief genoeg om bewerings van korrupsie te ondersoek nie.

Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies en voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK).Foto: Deon Raath

Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies wat in Mei oorgeneem het as OBK-voorsitter, los dié bom in hofstukke wat by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is.

Gungubele sê verder hy glo nie die bewerings van korrupsie op die hoogste vlak by die instelling is deeglik ondersoek nie.

Die OBK, Afrika se grootste batebestuurder, bestuur R2 000 miljard se bates, waarvan die meeste van die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) kom.

’n Storm woed al maande om die OBK oor onder meer bedenklike beleggings, bewerings van omkopery en korrupsie.

Dr. Dan Matjila, uitvoerende hoof, is sedert September in die spervuur oor bewerings dat hy ’n lening vir sy meisie, Pretty Louw, sou bewimpel het. Mobile Satellite Technologies (MST), wat na bewering aan Louw gekoppel is, het R21 miljoen van die OBK ontvang.

Matjila ontken enige ongerymdhede. Hy het destyds gesê hy is die slagoffer van ’n komplot om van hom ontslae te raak sodat staatskapers ’n sleutel vir die kluis kan kry.

Dr. Dan Matjila, uitvoerende hoof van die OBK. Foto: Elizabeth Sejake

Die direksie het hul volle ondersteuning aan Matjila gegee en gesê hy is ná ’n ondersoek van alle blaam onthef.

Maar Gungubele weerspreek nou die direksie. Hy antwoord op ’n dringende aansoek van die United Democratic Movement (UDM) om Matjila te skors.

Die aansoek word teëgestaan deur Nhlanhla Nene, minister van finansies, asook Matjila.

Gungubele staan nie die aansoek teë nie, maar sê hy kan nie met ’n skoon gewete sê alles is pluis nie.

Gungubele onthul in sy verklaring:

  • Die direksie het Matjila in die openbaar gesteun nog voordat hulle sy weergawe gehoor het of die saak ondersoek is.
  • Op 22 September het die direksie raad gevra oor hoe om die anonieme e-posse oor Matjila en ander hooggeplaastes te hanteer. Die hoof van interne oudit het gesê die direksie behoort ’n onafhanklike, eksterne verskaffer aan te stel om die ondersoek te doen. Die notules wys die direksie het dit aanvaar.
  • Net ná die besluit het die direksie Matjila ingeroep om hom in te lig van die besluit, maar hy oorreed hulle toe om nie voort te gaan daarmee nie en ’n interne “verifikasie-proses” te volg.
  • Uiteindelik is die “verfikasie-proses” selektief gedoen, sê Gungubele. Die direksie het onder meer gesê die verhouding tussen Matjila en Louw is “irrelevant”.
  • Gungubele sê Matjila – en toe later die direksie – was baie meer begaan oor die identiteit van die fluitjieblaser en om enige verklikker uit te snuffel as wat hulle oor die inhoud van die e-posse was.

Volgens Gungubele lyk dit of die direksie net Matjila se woord aanvaar het. Die OBK-direksie het bevind Matjila het niks verkeerds gedoen nie, maar die polisie ondersoek nog die saak.

“Trouens, ek het openlik vir my mede-direkteure gesê hierdie besluit kan as onbehoorlik beskou word en dat dit een van die redes was hoekom daar beskuldigings was van ’n toesmeerdery.”

Gungubele het ook ’n brief aan die hof verskaf wat Malusi Gigaba, toe minister van finansies, aan die direksie geskryf het waarin hy aandring op ’n volledige oudit van alle beleggings en lenings wat die OBK in die afgelope twee jaar gemaak het.

Nhlanhla Nene, minister van finansies.

Tien maande later is dit steeds nie gedoen nie.

Nene sê in sy hofstukke hy is bewus van die uitdagings.

“Die bestuurskwessies by die OBK kry dringend aandag.”

Hy staan die aansoek teë op grond van ’n skeiding van magte. Volgens Nene kan die hof nie op aandrang van ’n politieke party hom dwing om Matjila te skors nie.

Dudu Hlatshwayo, nie-uitvoerende direkteur van die OBK, ontken in haar hofstukke dat die direksie aan die neus gelei is. Sy sê die direksievergadering op 15 September was meer as ses uur lank en die besluit om Matjila se weergawe en benadering te aanvaar, was nie eenparig nie.

Hlatshwayo sê die direksie het spesifiek Louw en Matjila se beweerde liefdesverhouding by die verifikasieproses uitgesluit, want dit is nie iets wat met ’n forensiese proses bepaal kan word nie.

Deon Botha, OBK-woordvoerder, wou nie uitbrei oor die hofsaak nie.

“Die OBK en sy hoof is die middelpunt van ’n onregverdige en kwaadwillige openbare veldtog deur die UDM en sy leier met onverklaarbare, maar sinistere motiewe wat die publiek opsetlik mislei en die OBK se reputasie verswak.”

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), die grootste vakbond in die staatsdiens, glo Gungubele het moontlik ’n verskuilde agenda.

Tahir Maepa, die VSA se adjunk-hoofbestuurder, sê die direksie het Matjila klaar kwytgeskeld en dat die aantygings teen hom weer opnuut uitgegrou word om ’n rede te skep om Matjila te vervang met iemand wat “vriendeliker” is jeens die “huidige politikus wat aan die hoof staan van die OBK-direksie”.

  • ’n Datum vir die hofaansoek moet nog vasgestel word.

Bedrog by VBS Mutual Bank

Twee grootkoppe van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het glo sowat R5 miljoen elk ontvang as omkoopgeld van VBS Mutual Bank.

Dié nuutste beweringe oor korrupsie by die OBK kom kort op die hakke van die storm om die kop van dr. Dan Matjila, uitvoerende hoof van die OBK, en omstrede beleggings.

Paul Magula, voormalige risikohoof van die OBK, en Ernest Nesane, die OBK se regshoof, was die OBK se verteenwoordigers op die direksie van VBS.

Nie net het dié topamptenare nie gesien hoe die kaartehuis op pad was om in duie te stort nie, maar nou word daar beweer dit is omdat hulle omgekoop is.

Bankstate van Vele Investments, eienaar van die bank, is by die hof ingedien deur die bank se kurator, Anoosh Rooplal.

Dit wys hoe Vele geld oorbetaal het aan entiteite wat met Magula en Nesane verbind word.

Vele se bankstate wys laat in 2016 en vroeg in 2017 is groot bedrae geld betaal aan “Magula-P”.

Magula wou nie kommentaar lewer terwyl ’n ondersoek aan die gang is nie.

Nesane het ook gesê hy “kan nie hieroor praat nie”.

Magula is vroeër die jaar in die pad gesteek, maar nie omdat hy as hoof-risikobeampte geen alarm gemaak het oor die OBK se beleggings in VBS nie; hy is glo afgedank omdat onverwante verslae wat hy geskryf het nie aan Matjila se verwagtinge voldoen het nie.

Nesane het verlede week bedank.

Die OBK het beklemtoon dat geen individu besluite neem oor beleggings nie. Indien dit nou bewys word dat die OBK-topbestuurslede korrup was, sal gepaste stappe volg.

Dewald van Rensburg


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.