Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK-voorsitter ‘moet kennis van beleggings hê’

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se direksie het meer kundiges oor beleggingsverwante sake nodig en moet verteenwoordigers van belanghebbendes soos vakbonde insluit.

Regter Lex Mpati, wat die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie lei.

Daarby moet die voorsitter van die direksie iemand met ’n bewese prestasiegeskiedenis van beleggings of die sakewêreld wees. Op die oomblik is die voorsitter ’n politikus in die persoon van die minister van finansies.

Dit is van die aanbevelings wat op ’n werksessie gemaak is oor korporatiewe beheer by die OBK wat in Mei gehou is om die staatsbeheerde batebestuursfirma se uitdagings te bespreek. Tito Mboweni, minister van finansies, het ook die werksessie bygewoon.

Muitheri Wahome, ’n onafhanklike finansiële konsultant, het Woensdag voor die Mpati-kommissie van ondersoek na die OBK insigte uit dié driedaagse werksessie gedeel.

Die ondersoek voor regter Lex Mpati, bygestaan deur Gill Marcus, voormalige president van die Reserwebank, en Emmanuel Lediga, ’n kenner van beleggingsbestuur, duur al sedert Januarie. Dit stel ondersoek in na probleme by die OBK, wat R2 000 miljard se bates – die meeste daarvan die pensioenfondsgeld van staatsamptenare – bestuur.

Tot dusver het die kommissie onder meer gehoor dat dr. Daniel Matjila, voormalige uitvoerende hoof, verskeie beleggings deurgedruk het sonder dat die OBK se eie prosesse vir die oorweging van beleggings gevolg is.

Waihome sê die OBK moet “breë vaardighede in batebestuur en sake hê”.

Dr. Daniel Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK.

“Aangesien die OBK ’n wêreldwye belegger is en batebestuur ’n wêreldwye bedryf is, moet die direksie individue insluit wat kundigheid en perspektief oor die wêreldwye beleggingsbedryf bring.”

Die OBK-direksie het in Februarie as geheel bedank ná bewerings van korrupsie en swak korporatiewe beheer. Die Mpati-kommissie het later gehoor dat Mboweni hulle opdrag gegee het om te bedank.

Die minister het egter nog nie ’n nuwe direksie aangestel nie. Die direksie het vroeër gesê hulle sal waarneem totdat ’n nuwe direksie aangewys is.

Volgens Wahome is ook in die werksessie bevind dat kliënte en vakbonde ook op die direksie verteenwoordig moet word.

Cosatu en vakbonde wat staatsamptenare verteenwoordig, doen nou al lank ’n beroep hierop sodat hulle namens hul lede kan praat.

Huidige wetgewing bepaal dat die minister van finansies die direksie in konsultasie met die res van die kabinet aanstel. Die werksessie het egter aanbeveel dat die benoemingskomitee van die OBK-direksie die proses moet bestuur.

Dis nie duidelik gemaak of die aanbeveling aanvaar gaan word nie.

Die belangrikste voorstel was dat die direksie se voorsitter ’n onafhanklike persoon met “’n beduidende agtergrond en bewese prestasiegeskiedenis in belegging of sake” moet wees. Op die oomblik vervul die adjunkminister van finansies die rol as voorsitter.

Die ondersoek word weer Maandag hervat. - Fin24

Meer oor:  Gepf  |  Obk  |  Lex Mpati  |  Obk-Ondersoek  |  Obk-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.