Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OBK waarnemende hoof ‘is ’n probleem’ – oud-IT-hoof

Matshepo More, finansiële hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en tans die waarnemende hoof, “is verantwoordelik vir baie van dié batebestuurder se probleme”.

Luyanda Ntuane, voormalige IT-hoof van die OBK. Hy beweer Matshepo More, waarnemende uitvoerende hoof, is verantwoordelik vir baie van die probleme by die batebestuurder.Foto: Skermgreep

So het Luyanda Ntuane, die OBK se voormalige hoof van inligtingstegnologie (IT), Dinsdag in Pretoria getuig voor die kommissie van ondersoek na die OBK.

Ntuane was van 2012 tot 2016 werksaam by die OBK.

Ntuane het telkemale die skuld vir verskeie probleme by die OBK voor More se deur gelê.

Rekenaarstelsel

Volgens Ntuane was More die persoon wat gekeer het dat die OBK se rekenaarstelsel in 2016 opgegradeer word, al was sy sagtewarepakkette met tot agt weergawes verouderd.

Die OBK se IT-stelsel het reeds verskeie kere sentraal in getuienis voor die kommissie onder leiding van regter Lex Mpati gestaan.

Bewerings van korrupsie het aan die lig gekom uit e-posse wat ene James Nogu aan onder andere Tito Mboweni, minister van finansies, gestuur het. Nogu is ’n skuilnaam en daar word bespiegel dat hy in die OBK se IT-afdeling gewerk het.

Ntuane het getuig dit sal baie moeilik wees om vas te stel wie dié persoon is omdat ’n e-pos deur verskeie diensverskaffers gestuur kan word voordat dit sy eindpunt bereik.

Ntuane sê toe hy in 2012 by die OBK aangestel is, was een van sy verantwoordelikhede om ’n IT-plan op te stel om te verseker dat die stelsels opgegradeer word.

Ntuane sê daar was ook kommer oor hoe maklik veral sigblaaie, wat onder meer besonderhede van individue se salarisse bevat, per e-pos rondgestuur is.

Hy het getuig hy het persoonlik sulke sigblaaie onder oë gehad. “Ek het nie gaan rondkrap om dit te kry nie, dit is aan my gestuur,” het hy getuig.

Salarisse

Ntuane het getuig More het ’n kernrol in besluite oor werknemers se salarisse en bonusse gespeel.

Hy beweer sy sou sigblaaie manipuleer totdat werknemers se salarisse en bonusse haar pas.

“Sy is die enigste direkteur wat nie vir ’n spesifieke ampstermyn aangestel is nie. Sy sal ’n direkteur wees tot in alle ewigheid. Sy beskou haarself dus as onvervangbaar in die organisasie.”

Ntuane het getuig in die drie en ’n half jaar wat hy vir die OBK gewerk het, is die salarisse minstens vyf of ses keer aangepas, en More was altyd daarby betrokke.

Daar was junior mense wat pas uit universiteit gekom het wat teen R350 000 per jaar aangestel is, maar binne ses maande R750 000 per jaar verdien het.
Luyanda Ntuane

“Ek glo die kommissie moet die OBK se betaalstaat ondersoek en na die veranderinge in salarisse en bonusse oor die jare oplet,” sê hy.

Volgens Ntuane is mense wat hulle blind gehou het vir wat by die OBK aangaan, goed daarvoor beloon.

“Daar was junior mense wat pas uit universiteit gekom het wat teen R350 000 per jaar aangestel is, maar binne ses maande R750 000 per jaar verdien het.”

Skorsing

Ntuane het getuig van die oomblik in 2015 toe More sy lynhoof geword het, het die wêreld vir hom baie moeilik geraak.

Dit het ’n hoogtepunt bereik toe hy in April 2016 geskors is nadat hy deur anonieme fluitjieblasers daarvan beskuldig is dat hy van die werknemers in sy afdeling “bevoordeel het”.

Dié klagtes het later nog stertjies gekry en hy is ook daarvan beskuldig dat hy ’n romantiese verhouding met ’n kollega het.

Dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, het Ntuane in Mei 2016 ’n skeidingspakket aangebied.

Ntuane sê hy het nooit die finale verslag oor sy skorsing gesien nie. Hy ontken egter alle bewerings ten sterkste.

Heelwat van die besonderhede van die skeidingsooreenkoms kon nie aan die kommissie voorgelê word nie aangesien dit deur ’n vertroulikheidsklousule beskerm word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.