Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Bank verdedig sy reddingsboei aan SAL

Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa) het sy toekenning van ’n lening van R3,5 miljard aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te midde van kritiek geregverdig en sê dit val wel binne sy mandaat.

“Die doel van die reddingsboei is om die ordelike, beheerde herstrukturering van die SAL te verseker en só die onnodige vernietiging van die ekonomiese waarde in die vervoersektor – ’n fokusgebied van Obsa – te verhoed,” het die Obsa gesê. 

Die bank sê dit val binne sy ekonomiese mandaat en doelstellings. 

Hy noem dit ’n ekwiteitsoorbruggingsgerief wat deur die staat gewaarborg word. 

Kritiek het Woensdag opgeklink oor Obsa se besluit, maar ander het weer die stap verwelkom. 

’n Woordvoerder van Les Matuson en Siviwe Dongwana, die SAL se sakereddingspraktisyns, het Dinsdag gesê die geld sal hulle in staat stel om voort te gaan met die herstrukturering van die SAL. 

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sê sy bedrywighede gaan voort soos normaal. Foto: Reuters

Private handelsbanke het reeds R2 miljard aan die SAL verskaf, maar ’n verdere R2 miljard van die regering as deel van ’n reddingsboei was nog uitstaande. Dat die bedrag wat deur die regering gewaarborg word egter R3,5 miljard is, het ook die oë laat rek.  

Obsa sê die bepalings en voorwaardes van die gerief is markverwant. 

“Soos gebruiklik by transaksies van dié aard is die gerief onderhewig aan omvattende vertroulikheidsklousules.” 

Die ekonoom Mike Schüssler sê by navraag hy weet egter nie of die SAL gered kan word nie. 

“Dit maak nie sin om meer geld in die lugdiens te stoot nie. Obsa is ’n instelling wat veronderstel is om goed soos waterstelsels en rioolpype te finansier.”

Hy het daarop gewys dat Obsa se mandaat vir die hele Suider-Afrika is. 

“Gaan hy ander Suider-Afrikaanse lugdienste ook red? Dit is die verkeerde instansie om dit te doen. 

“Dit kom voor asof die regering dit nie kan kleinkry dat die SAL moeilik gered gaan word nie.”

Suid-Afrika sit volgens Schüss­ler met regtig ernstige behoeftes. 

“Daar is mense wat nie water in hul huise het nie; daar is groot armoede . . .  Om die SAL te red, maak net nie enige sin nie. 

“Dit is nie ’n ontwikkelingsmandaat wat ek dink Obsa behoort te hê nie.” 

Hy het beklemtoon dat dit nie die funksie van die staat of Obsa is om die SAL te red nie. 

Daniel Silke, politieke ontleder, sê dit is moeilik om te ontleed of die SAL onder Obsa se mandaat val. 

“Jy kan redeneer dat om die nasionale lugdiens aan die lewe te hou, werk skep en die toerismesektor vergroot – in daardie opsig kan jy aanvoer dat dit ’n ontwikkelingsaspek het. 

Jy kan redeneer dat om die nasionale lugdiens aan die lewe te hou, werk skep en die toerismesektor vergroot – in daardie opsig kan jy aanvoer dat dit ’n ontwikkelingsaspek het.

“As jy egter glo dat die geld eenvoudig gebruik gaan word om skuld te delg en vir wanadministrasie te betaal, kan aangevoer word dat dit nie die regte manier is om die geld te bestee nie. 

“Die posisie is grys genoeg om te regverdig dat die geld van daardie spesifieke bron af kom,” sê Silke.

“Ek glo egter dit bly ’n hoë risiko om ’n entiteit onder sakeredding, wat nie regtig ’n ontwikkelingsprioriteit is nie, te red.” 

Naderende ineenstorting het die SAL volgens hom waarskynlik in die gesig gestaar en die regering wou waarskynlik as ’n laaste uitweg minstens die herstruktureringsproses ’n kans gee. “ ’n Mens moet egter regtig dié kanaal bevraagteken wat gebruik is vir die doelwit,” sê Silke

Die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, asook die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa) het die reddingsboei verwelkom.

Khaya Magaxa, komiteevoorsitter, sê die geld sal die lugdiens in staat stel om voort te gaan met sy bedrywighede ná die onlangse onsekerheid oor sy toekoms en diegene help wat die lugdiens moet stabiliseer. Saapa het die hoop uitgespreek dat die noodsaaklike geldelike inspuiting die gewenste opbrengs op die belegging sal hê en passasiers die gemoedsrus sal gee om SAL-kaartjies te koop. 

“Ons vertrou dat die sakereddingspraktisyns nou sterk besluite sal neem wat noodsaaklik is om die lugdiens te red.”

Meer oor:  Sakeredding  |  Obsa  |  Sal  |  Reddingsboei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.