Die verhoging van 157% in die uurlikse vergoeding van Edcon se sakeredders het vandeesweek baie kritiek uitgelok.

Edcon besit onder meer Edgars en Jet.
Hulle het gevra dat hul vergoeding meer as verdubbel van R1 750 per uur tot R4 500 per uur. Die verhoging is Maandag saam met die sakereddingsplan deur geaffekteerde partye goedgekeur.
Die vergoeding van die sakereddingspraktisyns is van groot belang omdat dit beïnvloed wat personeel uiteindelik gaan ontvang.
Sowat 22 000 personeel het reeds art. 189-kennisgewings gekry en baie kan hul werk verloor, veral as die plan onsuksesvol is. Die bykomende uitwerking op die klerevervaardigingsbedryf gaan baie groot wees.
Klereverskaffers, wat deel is van die ondergeskikte skuldeisers van die groep omdat hulle geen sekuriteit het oor die geld wat aan hulle geskuld word nie, word R4,3 miljard geskuld. Hulle word net tussen 4c en 6c vir elke rand wat aan hulle geskuld word, aangebied.
Dié ondernemings het Maandag op die aanlyn vergadering gesê hulle kan ook sluit of sal mense moet aflê.
Die hoër vergoeding van die sakeredders het vrae uitgelok op die vergadering, wat drie ure geduur het. Die Maatskappywet beperk die maksimum per dag op R25 000. Die sakeredders het gevra hul daaglikse koers moet op R45 000 beperk word.
Ingevolge die Maatskappywet word likwidateurs en sakeredders se vergoeding eerste betaal, voordat ’n krediteur of geaffekteerde persoon betaal word.
Piers Marsden, een van die sakeredders, het gesê hul versoek is weens die “kompleksiteit” en die omvang van die saak en omdat hulle kopers vir die maatskappy moet kry.
Hulle wil hê dit moet teruggedateer word tot einde April, toe die proses begin het.
Marsden kon nie sê hoeveel die totale vergoeding uiteindelik sal wees nie. Hy “twyfel” egter of dit die pakkette vir die geaffekteerde personeel sal beïnvloed.
’n Vakbondverteenwoordiger het gesê die verhoging het “baie laat’ onder hul aandag gekom.
Die vakbond het die plan en enige kans om poste te red, ondersteun, “maar ons siening is dat dit baie onbillik is” dat sakeredders se vergoeding so laat opgehaal is.
“Ons gaan na die ministerie van handel, nywerheid en mededinging en vir ’n debat hieroor vra. Die wet moet duidelik hieroor wees sodat alles vooraf geweet word wanneer sakereddingspraktisyns aangestel word en mense nie onkant betrap word nie.”
Netwerk24 het voorheen berig dié verhoging in die vergoeding waarvoor gevra is, is in die sakereddingsplan van 8 Junie gepubliseer.
Die sakeredders het by navraag oor die verhoging gesê dis nodig om die vergoeding “markverwant” te maak. Hulle het gesê krediteure sal daaroor kan stem en die meerderheid moet dit goedkeur. – Fin24, bygewerk deur Nellie Brand-Jonker