Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Old Mutual kap Peter Moyo oor hy direksie ‘beswadder’

Peter Moyo en sy regspan “volg ’n bewustelike strategie om die aandag van sy eie optrede te probeer aflei”, het Old Mutual Vrydag in ’n vurige verklaring gesê.

Moyo, wat onlangs as die finansiëledienstegroep se uitvoerende hoof afgedank is, het verlede week in hofstukke waarin hy sy afdanking beveg, modder na Trevor Manuel, voorsitter van die direksie, gegooi. Die maatskappy voel egter nou dit impliseer die hele direksie is onder Manuel se duim.

LEES OOK: Moyo vs. Manuel: ‘Toe breek alle hel los’

Trevor Manuel, voormalige minister van finansies.Foto: Getty Images

Old Mutual sê in die verklaring hoewel hy nie gewoonlik in die openbaar op bewerings in hofstukke reageer nie, is hy bekommerd oor Moyo se strategie. “Dit sluit in dat ander direkteure van Old Mutual beswadder word deur vals en ongeregverdigde bewerings wat, in die besonder, op die voorsitter gemik word.”

Old Mutual het vir die tweede keer dié week bevestig dat hy beoog om Moyo se aansoek teen te staan. Die saak word op 16 Julie aangehoor.

“Old Mutual sien daarna uit om in die hof volledig op Moyo se bewerings te reageer en is vol vertroue oor die uitkoms.”

Moyo word verteenwoordig deur Eric Mabuza, die prokureur wat ook vir Tom Moyane, voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, verteenwoordig het toe hy sy dissiplinêre verhoor en toe sy afdanking deur pres. Cyril Ramaphosa probeer beveg het.

Moyo sê sy verhouding met Manuel het agteruitgegaan toe hy beswaar gemaak het teen Manuel se posisie as direkteur van Rothschild, een van die raadgewers in Old Mutual se ontknoping in 2018. Moyo beweer in sy beëdigde verklaring Manuel het geweier om hom aan sy besware te steur. Hy beweer ook die Old Mutual-direksie het geweier om openbaar te maak dat Manuel se regskoste in ’n saak waarby die Guptas betrokke was, namens hom betaal is.

Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual.

“Die implikasie van mnr. Moyo, waaroor die media berig het, dat Old Mutual se nie-uitvoerende direkteure deur die direksievoorsitter beheer word, en nie in staat was om onafhanklike oordeel uit te oefen toe hulle tot die gevolgtrekking gekom het dat daar ’n verbrokkeling van vertroue in mnr. Moyo was nie, is heeltemal ongegrond,” sê Old Mutual.

“Dit is nie net uiters oneerbiedig teenoor die vroue en mans van hoë aansien, sake-ervaring en integriteit wat die direksie van Old Mutual uitmaak nie, maar ook betreurenswaardig.”

Old Mutual sê sy direkteure het ’n onkreukbare prestasiegeskiedenis.

Die maatskappy verseker belanghebbendes dat hy steeds sterk leiers het en dat werknemers ondanks dié krisis “ferm gefokus is” op hul werk om kliënte se finansiële toekoms te bou. “Ons onderneming is nie deur mnr. Moyo se ongegronde bewerings geraak nie.”

Moyo is afgedank weens die betaling van R115 miljoen se dividende aan aandeelhouers van NMT, ’n beleggingsbeheermaatskappy waarvan Moyo die stigter en ’n direkteur is. Old Mutual het vóór Moyo se aanstelling as uitvoerende hoof geld aan NMT voorgeskiet, en Old Mutual was ontevrede dat dié geld en voorkeurdividende nie betaal is voordat die gewone dividend uitgekeer is nie.

Moyo se belangebotsing was dus welbekend met sy aanstelling, en die manier waarop dit behartig moes word, is vervat in spesiale protokolle. Old Mutual het egter met sy afdanking aangevoer hulle het verskil oor of die belangebotsing na wense bestuur is.

Moyo self het R30,6 miljoen se dividende by NMT verdien. NMT skuld R291 miljoen aan Old Mutual.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.