Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Old Mutual, Moyo gou weer in die hof
Peter MoyoFoto: Argief

Die regstryd tussen die versekeraar Old Mutual en Peter Moyo, sy voormalige uitvoerende hoof, gaan binnekort wéér in die howe aangehoor word.

Old Mutual sê hy is ingelig sy aansoek om appèl teen die hof se beslissing dat hy weer vir Moyo tydelik moet aanstel, sal op 4 Desember in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word.

“Ons verwelkom die besluit om die appèlverhoor te bespoedig. Alhoewel ons gretig is om die saak af te handel, is daar die gevaar dat korporatiewe bestuur en algemene beginsels van die maatskappyereg benadeel sal word as die uitspraak onbetwis gelaat word,” sê die maatskappy in ’n verklaring.

Hy sê dit is die direksie se plig om deur die howe die wettigheid van die direksie en sy optrede in die beste belang van Old Mutual te verdedig.

Minagting van die hof

Die aansoek om appèl is nie die enigste hofsaak tans tussen Old Mutual en Moyo nie.

Moyo het ook, sedert Old Mutual hom al verskeie kere toegang tot sy kantore in Sandton, Johannesburg, geweier het én hom ’n tweede keer afgedank het, ’n aansoek van minagting van die hof gebring.

Moyo is op 23 Mei geskors en toe op 17 Junie afgedank ná ’n geskil oor hoe hy ’n belangebotsing behartig het. Hy beweer egter dat hy ’n fluitjieblaser oor oortredings deur Trevor Manuel, voorsitter van die direksie, was.

Moyo is op 21 Augustus vir ’n tweede keer afgedank.

Old Mutual sê in sy verklaring Moyo het op 15 Oktober ’n verdere beëdigde verklaring by die hof ingedien as deel van dié aansoek, waarin hy nou beweer dat die maatskappy se direkteure ’n veldtog begin het om regter Brian Mashile persoonlik te beledig.

“Dit het ’n situasie geskep waar dit nie redelik is dat regter Mashile die saak moet aanhoor nie,” sê Old Mutual.

“Old Mutual en sy direkteure is derhalwe aangeraai om aansoek te doen om hom as regter te verwyder in die komende verhoor wat betref minagting van die hof, wat na verwagting vroeg in November aangehoor sal word.”

Old Mutual sê dit was ’n moeilike besluit om te neem om dié aansoek in te dien.

“Die direkteure sê met nadruk dat hulle geen disrespek vir regter Mashile het nie.

“Deur regter Mashile egter die onderwerp van die minagtingsverrigtinge te maak, het mnr. Moyo se regspan ’n situasie geskep waar die regter sal moet beslis oor eise wat hom nou persoonlik betrek,” verduidelik Old Mutual sy besluit.

Meer oor:  Old Mutual  |  Peter Moyo  |  Hofsaak  |  Afdanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.