Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Old Mutual: ‘Moyo het R4 m. gekry, wat is rasioneel?’

Waarom sit Old Mutual nie net om ’n tafel met Peter Moyo, sy afgedankte uitvoerende hoof, en vra hom wat hy wil hê om met sy regsoptrede te staak nie?

Die hooggeregshof in Johannesburg, waar Peter Moyo nou al maande lank teen Old Mutual te staan kom. Foto: William Horne

Dis sekerlik beter om hom uit te koop as die voortslepende hofstryd en die enorme skade aan Old Mutual se reputasie, asook die verlies van byna 28% in die groep se markwaarde.

Dít was die trant van mediavrae aan Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual se direksie, op ’n nuuskonferensie oor die moddergooiery wat die maatskappy se stryd met Moyo kenmerk.

Manuel het geantwoord hy het stapels briewe van aandeelhouers wat sê die maatskappy moet juis nié net lag en betaal in die twis met Moyo nie.

Moyo het reeds R4 miljoen se ontslagvergoeding in sy bankrekening – nie ’n “goue handdruk” nie, maar geld wat hom toekom ingevolge sy dienskontrak.

Nou kan gevra word “wat redelik en rasioneel is om aan te bied vir iemand wat net twee jaar vir die maatskappy gewerk het”, sê Manuel.

Manuel verwys steeds na Moyo as “Peter”. Hy sê die firma het inderdaad herhaaldelik met Moyo gepleit om buite die hof te skik “sodat dit nie ’n negatiewe uitwerking op enige party se toekoms het nie”.

Hy het beklemtoon die verbrokkeling van verhoudinge het nie oornag gebeur nie. Moyo se skorsing in Mei en daaropvolgende afdanking in Junie het gevolg op gesprekke wat al in Desember 2018 begin het.

Geen nuwe uitvoerende hoof

Een van Old Mutual se grootste frustrasies tans is dat hy ingevolge regter Brian Mashile se hofbevel nie mag voortgaan om ’n nuwe uitvoerende hoof aan te stel nie. Die maatskappy is dus nou al sedert begin Mei – dus byna vyf maande – sonder ’n uitvoerende hoof.

Manuel sê die direksie het reeds ’n verwysingsraamwerk opgestel vir die pos, wat insluit lesse wat met Moyo geleer is.

Toe het Manuel se frustrasie sterk deurgeslaan. Hy sê die regter se bevinding maak dit vir die direksie onmoontlik om een van sy belangrikste verantwoordelikhede – die aanstelling van ’n uitvoerende hoof – te doen. Old Mutual beskou dit sy plig om dié soort uitspraak betwis.

Hy het toe gesê dis onhoudbaar dat “iemand wat toevallig ’n swart mantel dra” die direksie “kniehalter”.

Toe ’n joernalis hom hieroor aanvat omdat dit klink na minagting van die hof, het Manuel eindelik bes gegee en gesê hy onttrek die stelling.


Nee, hy kan nié van die huis af werk nie

Manuel het Vrydag in Old Mutual se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg, by tye ergerlik en gefrustreerd voorgekom op ’n nuuskonferensie wat uiteindelik ’n uur en ’n half geduur het. Dis uitgeroep om Old Mutual se standpunt oor die posisie van Moyo duidelik te stel nadat Moyo en sy regspan die afgelope weke vir ’n mediasirkus gesorg het.

Dit het ingesluit dat Eric Mabuza, sy prokureur, ’n brief van Bowmans, Old Mutual se regsfirma, uitgelek het wat ’n sin bevat dat Moyo liefs van die huis af moet werk eerder as om kantoor toe te kom.

Old Mutual het op die nuuskonferensie verduidelik wat nié gelek is nie, is ’n aanhegsel waarin Old Mutual dit uitstippel dat hy Moyo se tweede afdanking, op 22 Augustus, as geldig beskou. Moyo is dus nie meer sy uitvoerende hoof nie totdat ’n hof die tweede afdanking as ongeldig bevind.

Manuel het ontken dié tweede afdanking kom op minagting van die hof neer, hoewel hy voorsien Moyo sal dit in volgende hofstukke as sodanig bestempel.

Manuel sê regter Brian Mashile het in Julie bevind Moyo moet heraangestel word omdat hy op 18 Junie ingevolge ’n verkeerde artikel van sy dienskontrak afgedank is. Die tweede afdanking, op 22 Augustus, is ingevolge die “regte” artikel gedoen, soos deur Mashile uitgelig, en daarom glo Old Mutual die tweede afdanking is wel nou van krag.

Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual.

Op die vraag of Moyo “die gebou belet” sal word as hy weer kantoor toe kom – soos nou al twee keer vantevore gebeur het – het Manuel duidelik sy geduld verloor.

“Hy kan koffie op die grondverdieping kom geniet. As hy ’n vergadering met ’n personeellid het, is hy welkom om ’n raadsaal op die eerste verdieping te gebruik.”

Manuel sê dis nie ’n unieke situasie vir enige mens of maatskappy nie – geen persoon kan tog enige kantoor sonder ’n rede onbegeleid ingaan nie.

Manuel sê Old Mutual wou nie in die hof beland het met Moyo nie en wil ook nie vir ewig in die hof wees nie. “Die hofstryd moet êrens tot ’n einde kom.”

“Ons aandeelprys moet weer optel. Vertroue moet herstel word.”

Old Mutual se aandeelprys is steeds op die laagste vlak in ’n jaar nadat dit sedert Moyo se skorsing in Mei met 27,5% tot R17,43 getuimel het voordat dit sedert begin September effens begin styg het.

  

Wat is die agtergrond van die Moyo-sage?

  

  • Peter Moyo is in 2017 by Old Mutual aangestel as hoof van Old Mutual Ontluikende Markte. Dié filiaal het Old Mutual Beperk (Old Mutual) geword toe die Britse moedermaatskappy, Old Mutual plc, in vier maatskappye ontknoop is. Moyo het toe met Old Mutual se notering op die JSE uitvoerende hoof van die nuwe entiteit geword.
  • Moyo was vóór sy aanstelling by Old Mutual ’n stigter en nie-uitvoerende direkteur van NMT Capital en besit aandele in NMT Capital en die groter NMT Group. Old Mutual Life Insurance het, ook voor sy aanstelling by Old Mutual, finansiering aan NMT Group verskaf en het ook finansiering vir die verkryging van voorkeuraandele verskaf aan ’n familietrust van Moyo wat ook ’n belang in NMT Capital besit. Old Mutual se belegging was R291 miljoen werd.
  • Met sy aanstelling by Old Mutual is sy belange in NMT gereguleer volgens spesiale protokol. Enige transaksies moes deurgaans verklaar word. As NMT-direkteur mag hy nie besluite geneem het wat Old Mutual sou raak nie.
  • In 2018 is NMT-direksievergaderings gehou waarop twee stelle gewone dividende van altesame R115 miljoen goedgekeur is. Moyo was die voorsitter van die vergaderings (hy het homself dus nie verskoon nie). Moyo het regstreeks R30,6 miljoen se voordeel uit dié transaksies verdien. Dis gedoen voordat dié maatskappy agterstallige voorkeurdividende aan Old Mutual, ’n voorkeuraandeelhouer, betaal het of die kapitaal wat Old Mutual voorgeskiet het, terugbetaal het.
  • Die inligting het Old Mutual bereik en dit het aanleiding gegee tot gesprekke van byna ses maande voordat Moyo op 24 Mei geskors is hangende dissiplinêre stappe.
  • In dié stadium het Moyo blykbaar sy regspan met Mabuza vervang en die vuil wasgoed is van toe af in die openbaar gewas. Moyo het begin om Twitter te gebruik om Old Mutual en veral Trevor Manuel, voorsitter van die direksie, sleg te sê. Dit het tot sy afdanking op 18 Junie gelei.
  • Net hierna het Moyo die hof genader om sy heraanstelling te eis. Hy het toe vir die eerste keer in hofstukke aangevoer dat Manuel hom skuldig gemaak het aan belangebotsings en dat die direksie dit probeer toesmeer het. Dit het onder meer gewentel om Manuel se rol as direkteur van die adviesfirma Rothschild en regskoste van Manuel wat Old Mutual betaal het omdat dit verband gehou het met sake wat die maatskappy as sentraal tot die maatskappy self beskou het. Die aantygings het gekom ondanks Old Mutual se bewyse dat Moyo self deeglik bewus was van alle aspekte om Manuel en nooit voorheen besware geopper het nie.
  • Regter Brian Mashile het in Julie bevind Moyo is onregmatig afgedank, grootliks omdat die verkeerde prosedure gevolg is. Mashile het egter ook gewys op die tydsberekening van Moyo se afdanking en die moontlikheid dat Moyo dalk tog as fluitjieblaser geviktimiseer is. Mashile het die afdanking as ongeldig verklaar.
  • Old Mutual teken as geheel teen dié bevinding appèl aan.
  • Intussen is verskeie ander hofsake aanhangig gemaak, soos om Old Mutual se direksie ingevolge die Maatskappywet as “misdadig” te verklaar. Manuel het Vrydag gesê Moyo het nie ’n “snowball’s chance in hell” om te bewys dat die hele direksie van 13 lede hul plig versuim het nie.
old mutual
Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual, Vrydag in Sandton op ’n nuuskonferensie oor die afdanking van Peter Moyo as uitvoerende hoof.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.