Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Old Mutual: Moyo praat onsin oor redes vir afdanking
Peter Moyo en sy prokureur, Eric Mabuza, praat vroeër met die media. Foto: Argief

Old Mutual het niks onwettig gedoen toe hy Peter Moyo as uitvoerende hoof afgedank het nie.

Inteendeel, hy het Moyo om dieselfde rede afgedank as wat Transnet Siyabonga Gama in die pad gesteek het. En selfs nadat Gama die arbeidshof probeer oortuig het om sy afdanking ter syde te stel, het dié hof dit van die hand gewys.

Die vraag is dus, as Transnet sy uitvoerende hoof só kan afdank, hoekom nie ook Old Mutual nie?

LEES OOK: Transnet: Arbeidshof sê nee vir Gama

Dit was een van die argumente wat adv. Vincent Maleka, SC, vir Old Mutual, gegee het oor waarom sy appèl teen regter Brian Mashile se uitspraak in Julie moet slaag.

Mashile het bevind dat Old Mutual Moyo wel onwettig afgedank het en dat hy heraangestel moet word.

Old Mutual het Moyo aanvanklik in Mei geskors en daarna in Junie afgedank.

Hy het later vir Moyo ’n tweede keer in Augustus afgedank.

Hoewel Moyo ná die uitspraak probeer het om terug te keer na sy werk, het Old Mutual hom herhaaldelik die deur gewys en hom nie in sy kantoor toegelaat nie.

Die hooggeregshof in Johannesburg het Old Mutual se appèlaansoek Woensdag met ’n volbank regters aangehoor.

Maleka het die regters herhaaldelik daarop gewys dat Old Mutual Moyo ingevolge klousule 24.1.1 van sy indiensnemingskontrak afgedank het.

Klousule 24 bepaal dat die kontrak beëindig kan word deurdat “enige van die partye aan die ander party skriftelik kennis moet gee”. Die beëindiging van die dienskontrak is dan aan ’n kennistydperk van ses maande onderhewig.

Klousule 24.1.1 stel dit duidelik dat nie een van die partye ’n rede hoef te verskaf hoekom hulle die kontrak wil beëindig nie.

Maleka sê dit is presies wat Old Mutual gedoen het. Hy het Moyo afgedank, hom ses maande kennis gegee en hom R4 miljoen vir dié kennistydperk betaal. Hy het wel ook gesê Moyo hoef van die oomblik van sy afdanking nie verder te werk nie.

Maleka voer verder aan dat daar nooit sprake was dat Old Mutual Moyo weens wangedrag afgedank het nie.

Moyo se bewering dat hy dus nie eens ’n kans gegun is om homself in ’n tugverhoor te verdedig nie, is dus nie geldig nie.

Maleka voer verder aan dat as die hof se vorige uitspraak gehandhaaf word, beteken dit in praktyk dat sou Moyo besluit het om te bedank, Old Mutual eers geregtig sou wees op ’n tugproses voordat só ’n beëindiging van diens in werking gestel kon word.

Adv. Dali Mpofu, SC, wat Moyo verteenwoordig, argumenteer weer teen die geldigheid van Old Mutual se aansoek om appèl. Hy wys daarop dat Mashile se uitspraak ’n tussentydse uitspraak was. Hy argumenteer dat dit die reël in die Suid-Afrikaanse regstelsel is dat appèl nié teen tussentydse uitsprake aangeteken word nie.

Moyo dagvaar Old Mutual vir R250 miljoen aan skadevergoeding, asook in sy persoonlike hoedanigheid die direksielede vir ’n verdere R20 miljoen vir die skade wat hulle sy reputasie glo aangerig het.

Buiten vir Old Mutual se aansoek om appèl teen die bevel om Moyo weer in diens te stel, het die maatskappy ook reeds ’n aansoek gebring om te vra dat Mashile hom weens ’n beweerde belangebotsing aan die saak onttrek.

LEES OOK: Moyo vs. Old Mutual: Regter se enorme besluit wink

Moyo het weer ’n aansoek gebring om al Old Mutual se direkteure as misdadig te laat verklaar.

Meer oor:  Old Mutual  |  Trevor Manuel  |  Peter Moyo  |  Maatskappye  |  Hofsaak  |  Afdanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.