Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Old Mutual, Moyo weier om te skik

Peter Moyo en Old Mutual se regspanne kon Donderdag nie instem tot ’n skikkingsooreenkoms soos voorgestel deur regter Brian Mashile nie.

Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual. Foto: William Horne

Mahile het die voorgestelde skikking kort ná middagete ter tafel gelê en ’n spesiale pouse toegelaat sodat die partye daaroor kon onderhandel.

Mashile het voorgestel Old Mutual stel Moyo onmiddellik weer aan, maar bedien hom dan dadelik met ’n kennisgewing dat hy binne ses maande afgedank gaan word.

Volgens Mashile moet dié kennisgewing dit ook duidelik maak Moyo is nie skuldig aan enige wangedrag nie. Kortom sou dit net ’n beëindiging van sy kontrak behels.

In die brief wat Old Mutual wel aan Moyo met sy afdanking verskaf het, is dieselfde mate van onskuld weergegee, maar die maatskappy het hom terselfdertyd van kontrakbreuk beskuldig en aangevoer hy het hom skuldig gemaak aan die wanbestuur van ’n belangebotsing.

Ná Moyo se skorsing en uiteindelike afdanking in Junie, het albei partye begin om die ander se naam deur die modder te trek.

Volgens Mashile se voorstel sou Old Mutual in samewerking met Moyo enige negatiewe kommentaar of uitlatings teenoor die voormalige uitvoerende hoof onvoorwaardelik terugtrek in ’n poging om Moyo se reputasie in ere te herstel.

Dié herstel van sy goeie naam is die kern van Moyo se regspan se saak.

Moyo voer ook aan hy is geregtig op ’n volle skeidingspakket, gegewe dat hy langer as ses maande by Old Mutual gewerk het.

’n Deel van dié skeidingspakket is nie-gevestigde Old Mutual-aandele wat met sy afdanking van hom ontneem is.

Sou Moyo die aanbod aanvaar, sou hy ook as deel van die ooreenkoms sy versoek om Old Mutual se direksie as “misdadige direkteure” te verklaar, moes laat vaar.

Moyo het sy mes in vir Trevor Manuel, voorsitter van die direksie, en beweer Manuel is eintlik vir sy afdanking verantwoordelik.

Moyo se regspan het Donderdag bewyse voorgelê dat Manuel hom nie goedgesind was nie deur te verwys na ’n ander direkteur wat aan Moyo erken het Manuel is hom nie goedgesind nie.

Adv. Dali Mpofu, vir Moyo, het met ’n glimlag op sy gesig aangekondig dat sy span se aanpassings aan die regter se skikkingsvoorstel nie vir Old Mutual se regspan aanvaarbaar was nie.

Daar kon dus geen ooreenkoms bereik word nie.

“Dan moet ons maar aanbeweeg,” het Mashile opgemerk.

“Dit is tyd om jou vergoeding te verdien,” het hy toe aan Mpofu gesê.

Mpofu het vir die res van die sitting Manuel se bewerings van Moyo se “wesentlike belangebotsings” bespreek en onder meer gesê Manuel het ook miljoene rande se voordeel daaruit geput.

Volgens Mpofu moet die “strengste moontlike straf” aan Old Mutual opgelê word vir die “komplot” wat hulle teen Moyo bedryf.

Hy hou vol daar is geen bewys van enigiets wat Moyo verkeerd gedoen het in sy pos nie, en sy sogenaamde belangebotsings is deurlopend dieselfde bestuur.

Hy beskryf Old Mutual se gedrag as die “misbruik van korporatiewe mag”, en “iets slegter as misdadigheid”.

Old Mutual se regspan, gelei deur adv. Hamilton Maenetje van Bowmans, het Donderdag skaars tyd gehad om hul kant van die saak te begin stel voordat die regter verrigtinge tot Vrydag uitgestel het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.