Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Old Mutual: Ons minag nié die hof
peter moyo, trevor manuel, old mutual
Peter Moyo, onwettig afgedankte uitvoerende hoof van Old Mutual, en Trevor Manuel, voorsitter van die maatskappy. Foto: Grafika24

Old Mutual voer in hofstukke aan hy het hom nié aan minagting van die hof skuldig gemaak deur Peter Moyo, sy voormalige uitvoerende hoof, te belet om terug te kom werk nie.

Die al hoe ingewikkelder regstryd tussen die finansiëledienstefirma en Moyo is nou in sy vierde maand.

In hul repliek wat Dinsdag by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien is, sê Old Mutual sy verhouding met Moyo is “heeltemal vernietig”. Die feit dat Moyo die maatskappy se direkteure almal van misdadigheid aankla, beteken daar is geen kans van ’n “toekomstige suksesvolle verhouding” nie.

Die repliek kom ná ’n vorige hofuitspraak dat Moyo nuwe getuienis kon indien in sy saak van minagting van ’n hofaansoek teen die firma en sy direkteure sodat hulle hom toelaat om sy pligte te hervat.

Old Mutual het Moyo in Junie afgedank nadat hy in Mei vir die wanbestuur van ’n belangebotsing geskors is, waarna vertroue tussen hom en die direksie verbrokkel het.

Regter Brian Mashile het op 30 Julie bevind die afdanking was op tegniese gronde onwettig en Moyo moes heraangestel word.

Maar toe Moyo die volgende dag by die groep se hoofkantoor opdaag, is hy verbied om na sy kantoor terug te keer en sy pligte as uitvoerende hoof te hervat.

Old Mutual het ’n aansoek gebring, en dis toegestaan, om verlof tot appèl teen dié uitspraak. Moyo het ’n teenaansoek gebring om die groep aan minagting van die hof skuldig te bevind.

Toe het die firma op 21 Augustus aangekondig Moyo is wéér in kennis gestel dat sy dienskontrak beëindig word – iets wat Eric Mabuza, Moyo se prokureur, as ’n “klassieke geval van minagting van die hof” en “korporatiewe malligheid” bestempel het.

Moyo het ’n aansoek gedoen om die tweede afdanking in te sluit by sy aansoek oor minagting. Dis toegestaan.

In September is hy weer verhinder om terug te keer kantoor toe.

In die nuwe hofstukke voer Old Mutual se regsverteenwoordigers aan dat nóg die firma nóg sy direkteure hulle aan minagting van die hof skuldig gemaak het.

Old Mutual voer aan die hofbevel dat hy heraangestel word, verplig Old Mutual nie om hom vir “aktiewe diens” te aanvaar nie.

Die groep sê die tweede afdanking in Augustus was ’n afsonderlike regsgebeurtenis.

Moyo se regspan het aangevoer die tweede afdanking is “doelbewus bereken om die doeltreffendheid van die hofuitspraak te ondermyn”.

Volgens Old Mutual is die verhouding tussen Moyo en die direkteure nou gekenmerk deur “diep en onoplosbare wanfunksionering”.

“Die direkteure kan nie hul pligte doeltreffend uitvoer nie onder omstandighede wat die huidige uitvoerende hoof hulle as misdadig beskou, dit dikwels in die openbaar herhaal, en aktief ’n pad van vyandige litigasie kies om te bewys dat hulle misdadige direkteure is ingevolge art. 162 van die Maatskappywet.

“Mnr. Moyo het al dié dinge gedoen.” Fin24

Meer oor:  Old Mutual  |  Peter Moyo  |  Maatskappye  |  Finansiële Dienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.