Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Old Mutual ‘skuldig aan minagting én disrespek’

Die Black Management Forum (BMF) sê Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual, speel met vuur nadat hy Vrydag op ’n mediakonferensie met disrespek en minagting van die hof gepraat het.

Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual se direksie.

Manuel het Vrydag vir die eerste keer gepraat oor die voortslepende sage tussen Old Mutual en Peter Moyo, sy afgedankte uitvoerende hoof.

In sy toespraak by Old Mutual Insure se kantore in Johannesburg het Manuel regter Brian Mashile se uitspraak dat Moyo vir die tweede keer heraangestel moet word, “bisar” genoem.

Manuel het ook Mashile op sy naam genoem en nie sy titel as regter gebruik nie toe hy gal gebraak het en gesê het dat ’n “enkele persoon wat toevallig ’n toga dra” besluite teen Old Mutual kan neem.

Volgens die BMF is dit ooglopend minagting van die hof en ook van die reg.

Andile Nomlala, president van die BMF, het Maandag in ’n verklaring gesê dat Manuel se gedrag die BMF se pogings om die twis sonder verdere hofsake op te los, bemoeilik.

Old Mutual weier tans opnuut om Moyo toe te laat om sy pos as uitvoerende hoof weer in te neem.

Dit is ten spyte van ’n tweede hofbevel van die hooggeregshof in Johannesburg op 6 September dat Moyo mag terugkeer werk toe.

Regter Mashile het reeds op 30 Julie in Moyo se guns beslis, maar Old Mutual weier sedertdien om Moyo in sy kantore toe te laat.

Die maatskappy sê hy het ’n tweede afdankingsbrief aan Moyo gestuur voor die uitspraak van 6 September, en aangesien dié brief nie in die jongste hofverrigtinge gehanteer is nie, mag hy daarom steeds vir Moyo weier.

Mashile se uitspraak oor Old Mutual se beweerde minagting van die hof is steeds voorbehou en word teen 20 September verwag.

“In plaas daarvan dat hulle die bevel respekteer en dit uitvoer, berus hul optrede eerder op ’n brief wat hulle aan iemand gestuur het wat in hul eie woorde nie meer hul werknemer was nie,” sê Nomlala Maandag.

“Hoe ’n brief van Old Mutual ’n hofbevel kan laat verdwyn, is nie vir ons duidelik nie.”

Die BMF doen dus ’n beroep op Old Mutual om in die openbaar aan Mashile om verskoning te vra.

“Om te versuim om dit te doen, sal slegs die siening van diegene wat reeds die huidige direksie versoek om hul poste te ontruim, versterk, aangesien dit sal bevestig dat hulle geen agting of respek het vir die oppergesag van die reg nie,” sê die BMF.

“Ons doen ook ’n beroep op alle Old Mutual-aandeelhouers om op te staan ter verdediging van ons regbank.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.