Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Old Mutual sukkel in moeilike mark
 old mutual
Old Mutual se jarelange hoofkantoor in Suid-Afrika in Kaapstad.

Dit gaan al moeiliker vir Old Mutual raak om sy bedryfsteikens oor ’n driejaartydperk te haal weens die negatiewe resultate van 2018.

Die finansiëledienstereus van Pinelands het boonop in die drie maande tot einde Maart meer geld uitbetaal aan eise en uitkerings as wat hy ingekry het in die vorm van premies, deposito’s en beleggingsgeld.

Old Mutual het Vrydag gewaarsku hy het ’n teiken gehad om resultate uit bedrywighede teen die BBP-groeikoers plus 2 persentasiepunte van saamgestelde jaargroei te laat groei. Maar weens die negatiewe resultate uit bedrywighede van 2018 gaan dit toenemend uitdagend wees, veral as die swak ekonomiese toestande vanjaar voortduur.

Die konsep “resultate uit bedrywighede” is vir Old Mutual ’n sleutelprestasie-aanwyser en word bereken as die aangepaste wesensverdienste voor belasting en minderheidsbelange, en dit sluit netto beleggingsopbrengs op aandeelhouerbates en finansieringskoste uit.

Volgens Old Mutual is dit die primêre maatstaf waarteen hy sy individuele bedryfsafdelings meet.

Old Mutual se bates onder bestuur het in die drie maande tot einde Maart tot R1 084 miljard gegroei.

Sy bruto invloei van beleggingsgeld deur kliënte is egter op R39,3 miljard 10% minder as ’n jaar gelede. Daar was minder geld wat na sy beleggings- en welvaartprodukte gevloei het, en enkelpremie-verkope by Old Mutual Corporate was ook laer.

Lees ook: Trevor Manuel: Old Mutual-baas se skorsing was 'moeilik'

Netto kliënt kontantvloei - wat die verskil is tussen geld wat ontvang is in die vorm van premies, deposito’s en beleggings en geld wat uitbetaal is in die vorm van eise of uitkerings - was in die kwartaal negatief teen - R1,1 miljard. Old Mutual het dus R1,1 miljard meer uitbetaal aan eise en uitkerings as wat hy ingekry het in die vorm van premies.

Die groep verwag die lae ekonomiese groei en stygende brandstofpryse gaan verdere druk op sy kliënte se besteebare inkomste plaas.

Old Mutual sê hoewel die JSE in die eerste kwartaal sy beste prestasie gelewer het sedert 2007, met die indeks van alle aandele wat met 7,1% geklim het, is die absolute vlakke van die aandeelmarkte steeds laer as ’n jaar gelede.

Hy spog wel dat sy jaarlikse premie-ekwivalent in lewensversekering met 4% tot R2,945 miljard gegroei het teenoor ’n jaar gelede. Dit is grootliks danksy hoër herhalende premies by sy SuperFund in Old Mutual Corporate.

Jaarlikse premie-ekwivalent is ’n gestandaardiseerde maatstaf van die volume van nuwe lewensversekeringsake wat geskryf is. Dit word bereken as die som van geannualiseerde nuwe herhalende premies en 10% van die nuwe enkelpremies wat in ’n boekjaar geskryf is.

Old Mutual se aandeelprys op die JSE was Vrydag 3,69% laer op R20,90.

Meer oor:  Old Mutual  |  Resultate  |  Maatskappye  |  Beleggings  |  Finansiële Dienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.