Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Old Mutual vs. Moyo: Volgende hofronde lê voor

Old Mutual en Peter Moyo, sy afgedankte uitvoerende hoof, is Vrydag weer in die hof vir die volgende ronde van hul voortslepende stryd.

peter moyo
Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual, tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: William Horne

Moyo wil hê die hof moet verklaar dat Old Mutual se nie-uitvoerende direksie aan minagting van die hof skuldig is omdat hulle nie ’n vorige hofbevel, dat hy onmiddellik heraangestel moet word, eerbiedig nie.

As die hof hom gelyk gee, kan dié direkteure tronkstraf opgelê of beboet word.

Old Mutual vra op sy beurt ’n verklarende bevel of regter Brian Mashile se beslissing op 30 Julie dat Moyo heraangestel moet word hangende ’n verdere hofaansoek van Moyo, opgeskort is deur die feit dat Old Mutual daarteen appelleer.

Moyo se regspan, gelei deur Eric Mabuza, meen dit is nie opgeskort hangende die appèl nie. Indien die nie-uitvoerende direksie wel aan minagting van die hof skuldig bevind word, sal hulle 14 dae tyd hê om die hof te oortuig dat hulle nie vir minstens ses maande tronk toe moet gaan nie, berig Fin24.

Old Mutual het Woensdag aan Netwerk24 gesê die hooggeregshof in Johannesburg sal ook Vrydag beslis of sy aansoek om verlof tot appèl slaag.

“Indien die hofbevel (om Moyo weer aan te stel) vóór ’n appèlproses uitgevoer sou word, sal dit lei tot die tydelike heraanstelling van ’n uitvoerende hoof; ’n uitvoerende hoof wat die integriteit van die maatskappy se direksie aangetas het deur aan die hand te doen dat hulle ‘misdadig’ opgetree het,” sê Tabby Tsengiwe, hoofskakelbeampte van Old Mutual.

Die ernstige aantygings deur Moyo het gelei tot ’n onhoudbare werkverhouding tussen hom en die direksie.
Tabby Tsengiwe van Old Mutual

“Die ernstige aantygings deur Moyo het gelei tot ’n onhoudbare werkverhouding tussen hom en die direksie.”

Moyo het reeds in sy aansoek dat hy heraangestel word, gesê hy gaan ’n tweede aansoek indien dat die direksie van Old Mutual tot misdadig verklaar word.

Moyo sê hy is afgedank weens sy rol as fluitjieblaser oor onreëlmatighede in die direksie se optrede, en veral wat betref Trevor Manuel, voorsitter van Old Mutual.

Mashile het in sy uitspraak op 30 Julie gesê dit is duidelik dat Moyo se afdanking deur ’n agenda teen hom gemotiveer is, en nie weens die vermeende belangebotsing soos wat die maatskappy voorgee nie.

Moyo sal teen einde September – 60 dae ná die aanvanklike uitspraak – met deel twee van sy hofaansoek kan begin om die direksie tot misdadig te laat verklaar. Moyo het bevestig dat hy voortgaan met dié aansoek, ongeag of hy heraangestel word of nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.