Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Old Mutual wil nog aandele terugkoop

Die finansiëledienstegroep Old Mutual gaan in die komende jaar nog minstens R5,6 miljard aan sy aandeelhouers teruggee in die vorm van ’n slotdividend en die verdere terugkoop van aandele.

Peter Moyo, uitvoerende hoof van Old Mutual.

Old Mutual wil van 12 Maart tot 24 Mei ’n aandeelterugkoopprogram van soveel as R2 miljard aanpak.

Old Mutual, wat Maandag sy resultate vir die boekjaar tot einde Desember uitgereik het, het verlede jaar R45,9 miljard aan aandeelhouers uitgekeer, waarvan R10,7 miljard bestaan het uit spesiale en gewone dividende wat verklaar is, en R38,8 miljard wat aan aandeelhouers gegee is toe ’n 32%-belang in Nedbank ontbondel is.

Nedbank

Old Mutual het die afgelope jaar of wat deur omvattende herstrukturering gegaan met die ontbondeling van die Nedbank-belang wat in Oktober afgehandel is en die notering van die oorblywende deel van Old Mutual en van die welvaartbestuursafdeling onder die nuwe naam Quilter in Junie op vyf verskillende aandelebeurse.

Old Mutual behou steeds ’n belang van 19,9% in Nedbank wat hy as ’n strategiese langtermynbelegging beskou. Hy wil met dié verhouding voortgaan want daar is aansienlike kommersiële voordele. Old Mutual het in 2018 R900 miljoen se versekeringspremies ontvang danksy Nedbank se verspreidingskanale.

Moeilike mark

Peter Moyo, uitvoerende hoof van Old Mutual, sê dit was ’n moeilike jaar met wisselvalligheid in internasionale aandele-, valuta- en effektemarkte weens groeiende handelspanning. Volgehoue hoë werkloosheid, en die verhoging in BTW en brandstofpryse het sy kleinhandelkliënte se besteebare inkomste geknou.

Dit is te sien in sy fondse onder bestuur wat met 3% tot R1 044 miljard gekrimp het vergeleke met die einde van 2017.

Die groep se aangepaste wesensverdienste was 11% laer op R11,512 miljard weens onder meer die swakker beleggingsinkomste in Suid-Afrika.

Moyo spog wel dat die groep 25 nuwe takke geopen het, wat sy taknetwerk tot 348 uitgebrei het.

Tegnologie

Sy belegging in tegnologie het gehelp om die tyd wat dit duur om eise uit te betaal van 24 uur na agt uur te verkort, en selfs verder tot vier uur vir eise wat via die Money Account-slimfoon-app ingedien is. Old Mutual het verlede jaar ’n aanlyn begrafnispolis bekend gestel.

Die groep het in die jaar R91,5 miljard aan eise en voordele uitbetaal. Dit sluit versekeringseise, annuïteitsbetalings en beleggingsuitkerings in.

Dividend

Old Mutual se slotdividend vir die boekjaar is 72c per aandeel, wat op 29 April betaal word. Dit volg op ’n halfjaardividend van 45c in Oktober, wat die voljaardividend op R1,17 te staan bring.

Old Mutual se belegging in China, wat gerapporteer word as inkomste van assosiate, het egter ’n verlies van R88 miljoen gely teenoor die vorige jaar se verlies van R41 miljoen.

Sy aandeelprys Maandagoggend op die JSE was teen laatoggend 2,4% laer op R21,25.

Meer oor:  Nedbank  |  Old Mutual  |  Aandeelhouers  |  Jaarresultate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.