Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Omnia tuimel ná skok oor plan met skuld
Omnia
Omnia is 'n genoteerde kunsmis-en-chemikalieëgroep. Foto: Unsplash

Die genoteerde kunsmis-en-chemikalieëgroep Omnia se aandeelprys het Donderdag tot sy laagste vlak in meer as ’n dekade geval nadat hy aangekondig het hy beoog ’n regte-uitgifte om R2,2 miljard van aandeelhouers te kry om sy skuldvlakke te verlaag.

Sy aandeelprys het Vrydag met nog byna 4% gedaal.

Meer inligting sal op 25 Junie bekend gemaak word wanneer sy jaarresultate gepubliseer word.

Omnia verwys in Donderdag se aankondiging na die een van 23 April waarin hy aandeelhouers ingelig het dat hy met sy finansiers onderhandel om sy skuld te herstruktureer. Sy aandeelprys het ná dié aankondiging skerp gestyg, oënskynlik omdat Omnia toe aangedui het ’n herkapitalisering is nie nodig nie.

Ontleders en aandelemakelaars beskryf Donderdag se aankondiging as ’n ramp.

“In nog ’n korporatiewe ramp moet Omnia op sy knieë na die mark kom met ’n R2 miljard-regte-uitgifte om kop bo water te hou nadat sy skuld hom verlam het,” skryf Investec Bank Vrydagoggend in ’n nuusbrief.

Anthony Clark van Smalltalkdaily Research sê op Twitter Omnia het in April se aankondiging gesê “daar is geen behoefte aan herkapitalisering nie”. Die aandeelprys het gestyg omdat die mark verlig was. “Vandag, 30 Mei . . . ons het julle mislei, ons benodig in der waarheid R2 miljard . . .”

Die aandelemakelaar Karin Richards het getwiet: “Die les uit die Omnia-storie: As die woorde ‘skakel met skuldverskaffers’ in ’n Sens-verklaring verskyn, hol na die berge . . .”

Twee mense het in kommentaar hierop ook na die gebeure as ’n ramp verwys.

Die fondsbestuurder Keith McLachlan twiet: “Omnia wil sy skuld met regte-uitgifte oplos. Van R2 miljard. Sy markwaarde is net R3,6 miljard. Eina.”

Omnia het in Maart in ’n handelsoorsig gewaarsku hy verwag ’n wesensverlies vir die boekjaar tot einde Maart, vergeleke met ’n wins in die vorige boekjaar. Dit kom nadat Omnia in sy vorige boekjaar skuld van R2,7 miljard aangegaan het en sy rentebetalings skerp gestyg het. Die skuld is aangegaan nadat hy Umongo Petroleum en Oro Agri teen sowat R2 miljard verkry het.

Boonop het sy wins in die afgelope boekjaar gedaal weens talle eenmalige items, soos herstruktureringskoste by Protea Chemicals en transaksiekoste van R28 miljoen wat met Oro Agri verband hou.

Die marktoestande in die boekjaar was weens die droogte en laat reën in belangrike gebiede vir kunsmis asook die moeilike handelstoestande in die plaaslike mynbedryf baie negatief vir sy bedrywighede.

So val die aandeelprys

Sy aandeelprys het Donderdag met 12% tot R46,60 geval.

Die aandeelprys was laas in Maart 2009 op dié vlak.

Sy aandeelprys het Vrydagoggend met nog byna 4% tot R45 gedaal.

Sy aandeelprys is nou 67% laer as ’n jaar gelede toe dit op 31 Mei 2018 op R135 was. Dit was toe reeds baie laer as sy algehele hoogtepunt van R242 in September 2014, toon inligting op Iress.

Wie is Omnia?

Die genoteerde Omnia Beherend Beperk besit Omnia Group Investments Beperk wat 86,5% in Omnia Group (Edms) Bpk. hou.

Laasgenoemde besit die bedryfsfiliale wat in kunsmis, plofstof en chemikalieë in die landbou en die mynwese betrokke is.

Die filiale wat Omnia ten volle besit, sluit in Omnia Fertilizer, Axioteq, BME, Protea Mining Chemicals en die onlangs verkrygde Oro Agri. Umongo Petroleum, wat ook onlangs verkry is, word 90% besit. Die ander aandeelhouers in die Omnia-groep is aandeelskemas vir werkers, toon die 2018-jaarverslag.

Meer oor:  Omnia  |  Aandeelprys  |  Maatskappye  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.