Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Onderhandelings by SAL-staking begin

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het bevestig dat ’n bemiddelingsproses Saterdag deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) begin het met vakbonde wat stakende werkers verteenwoordig.

Lede van die stakende vakbonde, die metaalwerkersvakbond (Numsa) en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca), eis ’n salarisverhoging van 8%.

Die staking het daartoe gelei dat die lugdiens hul plaaslike en streekvlugte tot Maandag gekanselleer het.

Buitelandse vlugte sal Sondag hervat.

Tlali Tlali, SAL-woordvoerder, het Saterdagoggend gesê die bemiddelingsproses is aan die gang en dat samesprekings sover sonder enige voorvalle plaasvind.

“Daar is ongelukkig geen manier om te kan sê hoe lank die vergadering sal aanhou nie. Ons sal moet wag en sien wat die uitkoms is,” het hy bygevoeg.

Martin Kemp, hoof van menslike hulpbronne by die SAL, het in ’n verklaring die vakbonde se samewerking om met die KVBA te vergader verwelkom.

“Ons erken die SAL en sy werknemers se bydrae tot die land se ekonomiese groei, meer spesifiek in die konteks van uitgaande en inkomende toerisme. Dit is in openbare belang dat die dispuut opgeklaar word. Die vakbonde se bereidwilligheid om ’n oplossing te help vind is prysenswaardig,” het Kemp gesê.

Werknemers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens het Vrydag buite die hoofkantoor van die lugdiens in Kempton Park betoog. Foto: Felix Dlangamandla

Netwerk24 het vroeër berig die staking volg nadat die lugdiens ’n herstruktureringsproses aangekondig het waardeur 944 werknemers moontlik hul werk sal verloor en die lugdiens R700 miljoen sal bespaar.

Boonop het werkers die loonverhoging van 5,9% van die SAL verwerp en op ’n 8%-verhoging aangedring.

Luidens die SAL se jongste verklaring het die lugdiens werknemers meegedeel dat hulle nie enige verhoging kan bekostig nie, maar het wel ’n 5,9%-verhoging aangebied vir wanneer geld weer beskikbaar is.

Ondanks die SAL se voorneme, met vasgestelde datums vir hierdie aanbod, het onderhandelings misluk en die staking tot gevolg gehad.

“Hierdie is ’n kritieke tyd vir die lugdiens, en ons sal nie ophou probeer om werke te behou en die toekoms van die lugdiens te verseker nie.

“Dit sal nie in ons tydperk gebeur dat die SAL se trotse geskiedenis van 85 jaar tot ’n einde kom nie,” het Kemp gesê.

Terwyl onderhandelings voortduur, het die lugdiens kliënte daaraan herinner dat hulle tot 30 November het om finale reëlings te tref om terugbetaling vir ’n vlug te eis of ’n nuwe vlug in die plek daarvan te bespreek.

Meer oor:  Sal  |  Suid-Afriikaanse Lugdiens  |  Sal-Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.