Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Onderneming ervaar groot pyn met staalinvoer

’n Staalinvoerder wat goedere vir die mynbou lewer, is nou genoop om regskoste van tot R2,3 miljoen aan te gaan net om vrylik goedere te kan invoer.

Staalstawe wat in die mynbedryf gebruik word. Foto: Amsa

Dit volg op ’n rompslomp-nagmerrie waarin die maatskappy hom bevind het, bloot omdat hy staal probeer invoer het omdat die plaaslike staalvervaardiger ArcelorMittal SA (Amsa) volgens hom nie voldoende staal aan die plaaslike vervaardigingsbedryf kan lewer nie.

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika, wat onder meer ’n aantal vervaardigingsondernemings verteenwoordig, sê die betrokke onderneming se dilemma wys dat die regering bloot niks doen om dit vir die sakesektor makliker te maak om sake te doen nie.

Dís wat gebeur het:

Die skip met die ingevoerde goedere het op 14 Desember verlede jaar vasgemeer, en op 21 Desember het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se doeane-afdeling ’n inspeksie gedoen en besluit daar is ’n onderverklaring op die vrag. Die onderneming, wat uit vrees vir viktimisering nie sy naam wil noem nie, verduidelik hy moes ’n deposito van 30% op die ingevoerde goedere betaal, en hoef eers 60 dae later die res te betaal.

Maar doeane wou nie hieraan byt nie en het steeds ’n terugbetaalbare boete van R2,5 miljoen gehef totdat die vrag beskikbaar gestel word. Die vrag is toe op 24 Desember beskikbaar gestel, maar dit was kort voor Kersfees tydens die sluitingstyd van die meeste bedrywe.

Transnet het gevolglik ’n rekening van R269 000 aan die klaringsagent gestuur, wat hy egter van die onderneming eis.

’n Brief aan doeane om die situasie te verduidelik, is begroet met die reaksie dat dit ’n “saak tussen Transnet en die klaringsagent” is.

Die onderneming het daarna aan Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, asook aan sy departement geskryf, wat hom verwys het na Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Die brief aan Gordhan is egter na nog twee verskillende mense aangestuur in die afgelope maand en geen reaksie is tot dusver ontvang nie, sê die onderneming.

Die uiteinde is dat hy nou regstappe wil doen, maar dit kan hom tot R2,3 miljoen kos, op grond van ’n kwotasie van ’n prokureur wat in doeanesake spesialiseer.

‘Skrap invoerheffings’

As ’n onderneming nie kontrakte met myne kan nakom nie, kan daar regstappe teen hulle gedoen word en kan hulle gedwing word om te sluit, het die onderneming gewaarsku. Dit lyk egter asof ministers die realiteit op grondvlak ignoreer en asof staatsondernemings saamsweer om ekstra inkomste te verdien, meen hy.

Papenfus meen die oplossing is dat die invoerheffings op staal, wat tans 18% bedra, geskrap word. Volgens hom word baie maatskappye gedwing om dié heffings te betaal, want hulle is genoodsaak om staal in te voer omdat Amsa dit nie kan voorsien nie. Die heffings beskerm intussen net vir Amsa.

Kobus Verster, uitvoerende hoof van Amsa, het vroeër die week aangevoer Amsa kan wel tans genoeg staal vir die plaaslike mark lewer, maar sommige kliënte kan nie finansiering vir aankope kry nie. Verster verdedig die invoerheffings, want hy meen dit is om die handel-speelveld gelyk te maak. Internasionale staaluitvoerders geniet subsidies en het nie die soort probleme met elektrisiteit en vertragings en bottelnekke by Transnet waarmee Amsa te kampe het nie.

Volgens Verster is staalinvoer nie noodwendig sinvol nie, want invoerders moet tans maande wag vir aflewering weens die huidige bottelnekke in die internasionale voorsieningsketting.

Meer oor:  Amsa  |  Vervaardiging  |  Invoer  |  Nywerhede  |  Tariewe  |  Staal  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.