Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ondersoek kom na R10m se beurse by Wits
Die hoofgebou by die Universiteit van die Witwatersrand. Foto: Verskaf

Twee beursfondse met soortgelyke name blyk groot verwarring te skep oor of R10 miljoen se beurse onregmatig aan studente toegeken is of nie.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) beweer 129 rekeningkundestudente by die Universiteit van Witwatersrand (Wits) het beurse gekry wat hy nie goedgekeur het nie.

Dié beurse is volgens hom via sy Thuthuka-beursfonds (TBF) tussen 2014 en 2016 onregmatig goedgekeur.

Die groot fokus van die ondersoek is ’n brief met Nthato Selebi, projekbestuurder by die TBF, se handtekening wat aan die studente gestuur is en waarin bevestig word hulle is deel van die TBF-plan.

Saica het nooit vir beurse vir dié studente begroot nie.

Saica beskuldig Khaye Sithole, ’n voormalige senior lektor by Wits, daarvan dat hy dié studente onregmatig by die skema bygevoeg het en dat hy Selebi se handtekening vervals het om die beurse goed te keur.

Sithole verduidelik daar blyk groot verwarring te wees tussen twee verskillende fondse wat ’n soortgelyke naam het wat gebruik word om beurse mee te betaal.

Volgens hom het Wits alle beursfondse wat aan studente by dié universiteit toegestaan is in een enkele bankrekening betaal.

Dié rekening is die “Thuthuka-rekening” genoem.

Waar die groot probleem blyk te wees, is dat al die studente – ongeag of hulle dié is wat deur Saica se TBF gesteun word of dié is wat deur ander skenkers gesteun is – presies dieselfde brief ontvang het om te bevestig hulle gaan finansieel gesteun word.

Fondse wat dus deur die TBF aan Wits-studente toegeken word is volgens Sithole net deel van die totale fondse wat in dié rekening betaal is.

Enige ander fondse wat skenkers spesifiek toeken aan rekeningkundestudente wat by Wits studeer, word óók in die fonds gestort.

Sithole sê hy het dus die aantal beurse soos wat deur die TBF goedgekeur is toegeken asook addisionele beurse afhangende van hoeveel geld deur ander skenkers gemaak is.

Daar word egter na al die studente as begunstigdes van die “Thuthuka-rekening” verwys. Dit beteken egter nie almal word deur Saica se TBF gesteun nie.

Waar die groot probleem blyk te wees, is dat al die studente – ongeag of hulle dié is wat deur Saica se TBF gesteun word of dié is wat deur ander skenkers gesteun is – presies dieselfde brief ontvang het om te bevestig hulle gaan finansieel gesteun word.

Dié brief is die een met Saica se briefhoof en Selebi se handtekening op.

Oor Saica se klagte dat beurse aan meer studente goedgekeur is as wat hy goedgekeur het, sê Sithole dit maak sin omdat die getalle waarna Saica gekyk het, die totale getal studente is aan wie beurse toegeken is. Dit is dus nie nét dié wat deur die TBF gesteun word nie.

Waar die probleem blyk te wees is dat volgens Sithole is hy aangesê om dieselfde brief wat aan studente wat wél deur Saica gesteun word aan al die studente wat steun van die “Thuthuka-rekening” ontvang te stuur ongeag of die fondse wat hulle ontvang regstreeks van Saica kom of deur ander skenkers gegee is.

Sithole het Maandag tydens sy dissiplinêre verhoor voor ’n onafhanklike tugkomitee by Saica se hoofkantoor in Rosebank, Johannesburg, getuig die verwarring het ingekom toe hy aangesê is om die brief wat deur Saica gebruik word, deurgaans aan alle beursontvangers te stuur ongeag of die fondse wat hulle ontvang van Saica se TBF kom of van fondse wat addisioneel in Wits se “Thuthuka-rekening” betaal is.

Hy het getuig hy weet nie waar dié lys met die 129 name vandaan kom nie en het ontken dat dit die lys is aan wie hy briewe gestuur het.

Sithole se dissiplinêre verhoor het al in Junie 2018 begin. Dit is Maandag by Saica se kantore in Illovo, Rosebank, hervat.

Sithole het reeds in 2018 ’n beëdigde verklaring by die paneel wat hom dissiplinêr verhoor ingedien waarin hy verskeie hooggeplaastes daarvan beskuldig dat hulle hom aangesê het om nie net die studente by te voeg nie, maar ook om dié spesifieke brief aan hulle stuur.

Hy het getuig hy het van die begin gekla dat dit nie reg is nie aangesien dit die indruk sal skep dat studente geld van Saica ontvang het en dit nie noodwendig die geval is nie.

Die persone wat hy beskuldig sluit in:

  • Adam Habib, visekanselier van Wits en TBF trustee;
  • Terrence Nombembe, tóé voorsitter van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS), voormalige uitvoerende hoof van Saica en voorsitter van die TBF, asook ’n voormalige ouditeur-generaal;
  • Sizwe Nxasana, uitvoerende direkteur van Saica en ’n voormalige uitvoerende hoof van Telkom en FirstRand;
  • Chantyl Mulder, TBF kurator; en
  • Prof. Nirupa Padia, hoof van die skool van rekeningkunde by Wits.

Die verhoor duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.