Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ondersoek kommissie, vra DA

’n Onafhanklike ondersoek moet gedoen word na die beweringe van ongerymdhede by die Mededingingskommissie.

Dié versoek van Michael Cardo, die DA se woordvoerder oor ekonomiese ontwikkeling, kom ná onlangse hofuitsprake waarin die kommissie op die vingers getik is.

Regter Isaac Madondo, adjunk-regterpresident van die hooggeregshof in KwaZulu-Natal, het byvoorbeeld einde Junie skerp woorde vir die kommissie gehad omdat hy die hof mislei het om lasbriewe te verkry waarmee klopjagte uitgevoer is op twee maatskappye wat hy van samespanning verdink.

Madondo het bevind die kommissie het inligting van die hof weerhou en sy plig om in goeie trou te handel ernstig versaak.

Die Mededingingskommissie moes al die goedere waarop hy by Willowton Oil & Cake Mills en FR Waring Holdings beslag gelê het, teruggee.

Standard Bank het ook onlangs ’n appèl teen die Mededingingskommissie en die Mededingingstribunaal gewen nadat die twee instansies geweier het om ’n rekord van hul ondersoek teen hom beskikbaar te stel, soos deur prosedure bepaal word.

Die vier topbestuurslede word deur lyfwagte in luukse voertuie rondgery terwyl die kommissie sy begroting oorskry.

Standard Bank is een van 17 banke wat deur die kommissie daarvan beskuldig word dat hulle saamgespan het om valutaverhandeling te manipuleer. Net Citibank het ingestem om ’n administratiewe boete van R69,5 miljoen te betaal, terwyl die ander banke weerstand teen die ondersoek bied.

Regter Nolwazi Boqwana kon geen wetlike beweegrede vind waarom Standard Bank nie insae in die rekord van die ondersoek kon kry nie en het die kommissie herinner dat hy steeds onderworpe is aan sy eie prosedures, asook aan die beginsels van verantwoordbaarheid en deursigtigheid.

Cardo sê in ’n verklaring hy het aan Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, geskryf om ’n ondersoek aan te vra en verwys na ’n berig wat Donderdag in Financial Mail verskyn het en waarin beweer word dat die vier topbestuurslede deur lyfwagte in luukse voertuie rondgery word terwyl die kommissie sy begroting oorskry.

Luidens die berig kla regsfirmas dat Ndzabandzaba Attorneys voorkeur kry in die sake wat die kommissie uitkontrakteer.

Dié firma het na bewering oor die afgelope 18 maande 63% van alle gelde gekry wat die kommissie aan regsfirmas betaal het wat werk vir hom doen.

Cardo wys in sy verklaring daarop dat dié firma se hoofvennoot, Anthony Ndzabandzaba, voorheen die hoof van opleiding en ontwikkeling van die Mededingingskommissie se kartel-afdeling was.

Cardo sê daar kan nie toegelaat word dat enige vorm van korrupsie of wanbestuur die Mededingingskommissie se reputasie skade berokken nie.

“Die beweringe is ernstig genoeg om verdere ondersoek te regverdig en dit is noodsaaklik dat die minister enige voorbehoude oor die kommissie se integriteit uit die weg ruim.”

Netwerk24 het Sipho Ngwema, woordvoerder van die Mededingingskommissie, vir kommentaar op die beweringe genader en dit sal bygewerk word wanneer dit verkry word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.