Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ondersoek na Steinhoff duur voort, sê Valke

Die ondersoek na die beweerde finansiële wandade wat in Steinhoff gepleeg is en die mense wat daarvoor verantwoordelik was, geniet steeds ’n prioriteit, sê die Valke.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff.

Lesers het onlangs talle vrae gehad oor hoekom niemand nog sedert einde 2017 by Steinhoff aan die pen gery het nie.

Kol. Katlego Mogale, ’n woordvoerder van die direktoraat van prioriteitmisdaadsondersoeke se hoofkantoor, sê by navraag oor wat met die ondersoek van die Valke gebeur het oor die beweerde wandade deur Steinhoff en Markus Jooste, die voormalige uitvoerende hoof, dit is nog nie afgehandel nie en word nog ondersoek.

Mogale sê die Valke beskou die saak steeds as ’n prioriteit.

Oor of iemand, spesifiek Jooste, binnekort vervolg gaan word, is gesê in hierdie stadium van die ondersoek word die name van diegene wat waarskynlik aangekla sal word gewoonlik nie genoem nie.

Oor hoekom dit nog nie afgehandel is ná drie jaar nie en hoekom dit so lank neem om tot ’n punt te kom om te besluit of Jooste vervolg gaan word, sê Mogale: “Dit is ’n ingewikkelde ondersoek wat ’n aantal ondernemings betrek wat oor verskeie lande versprei is.”

Die klagte wat ondersoek word, sluit in bedrog, geldwassery en oortredings van die Wet op Finansiële Markte.

Die saak word onder die toesig van ’n kolonel deur ’n span van ses ondersoekers van die afdeling vir ernstige ekonomiese oortreding ondersoek.

Die Valke het al deurgeloop onder kritiek oor hul ondersoek na Steinhoff, veral van parlementariërs aan wie gereeld terugvoering gegee word.

In Maart 2019 het Yunus Carrim, voorsitter van die parlement se staande komitee oor finansies, aan die Valke gesê: “Markus Jooste draf waarskynlik op dié oomblik in Hermanus rond of doen inkopies. Die publiek wil antwoorde hê, maar meer as enigiets anders wil hulle mense in die tronk hê.”

Lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, moes in November verlede jaar in die parlement met terugvoering van die teenkorrupsie-taakspan ook antwoorde gee oor die kommer dat Steinhoff nie prioriteit geniet nie.

Lebeya het gesê meer as 200 verklarings is al bekom, wat aandui hoeveel getuies al ondervra is.

In Oktober verlede jaar het adv. Hermione Cronjé, hoof van die nasionale vervolgingsgesag se direktoraat van ondersoek, ook in die parlement bevestig dat die saak op die lys van top-tien-sake is wat tussen dié direktoraat en die Valke prioriteit geniet.

Die Gedragsowerheid oor die Finansiële Sektor (FSCA) het in Oktober sy ondersoek oor Jooste se beweerde binnehandel afgehandel en hom met R161 miljoen beboet.

Hy het intussen geappelleer teen die boete.

LEES OOK: Markus Jooste appelleer teen boete van R161 m.

Die FSCA het nog ondersoeke wat aan die gang is oor vals en misleidende verklarings in Steinhoff se finansiële state asook individue wat by die opstel daarvan betrokke was. Hul name kan nie genoem word nie.

Steinhoff het in Maart 2019 die name van die agt grootste verdagtes wat by die beweerde ongerymdhede van sy boeke betrokke was, bekend gemaak in die parlement. Dit het Jooste ingesluit, wat beteken daar kan nog ’n klag en boete teen hom kom.

Die Duitse ondersoek oor die beweerde wanvoorstellings deur huidige en voormalige bestuurslede van Steinhoff in dié land in sy finansiële state is intussen verlede jaar afgehandel.

Voorheen is berig hoe die Duitse owerhede in 2015 ’n klopjag op Steinhoff se kantore in die land uitgevoer het kort voordat sy hoofnotering daar op ’n beurs plaasgevind het. Die ondersoek het daarna begin en is later uitgebrei.

LEES OOK: Duitse owerhede brei ondersoek na Steinhoff-filiaal uit

Die ondersoek van die staatsaanklaer van Oldenburg se kantoor vir ekonomiese misdaad oor belastingontduiking is nog nie afgehandel nie, is in Augustus verlede jaar op ’n vraag van ’n parlementariër in dié land gesê.

Vrae is aan Jooste se prokureur, Callie Albertyn, gestuur. Volgens Albertyn is sy instruksies dat Jooste geen kommentaar op die vrae of enigsins enige kommentaar het nie.

Jooste reageer sedert einde 2017 nie op medianavrae nie.

Meer oor:  Steinhoff  |  Valke  |  Markus Jooste  |  Sakeredding  |  Meubelhandel  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.