Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ondersoeke kom oor SAL, Eskom én tesourie
Matshela Koko, voorheen hoof van kragopwekking en die voormalige waarnemende uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Felix Dlangamandla

Pres. Cyril Ramaphosa het drie proklamasies geteken vir die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) om wanbesteding en korrupsie by SAL en tesourie te ondersoek terwyl ’n bestaande ondersoek oor Eskom uitgebrei is.

Die proklamasies is Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer.

Airbus

Luidens die Staatskoerant moet die eenheid onder meer ’n ondersoek doen by die SAL oor beweerde ernstige wanadministrasie; onbehoorlike of onregmatige optrede deur beamptes; onregmatige bewilliging of besteding van openbare geld of eiendom; onwettige of onreëlmatige handeling; asook misdrywe ingevolge die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede.

Die ondersoek strek van Januarie 2002 af tot die datum van die publikasie, maar kan ook uitgebrei word tot vóór en ná die datums indien nodig.

Die proklamasie is op 20 Desember onderteken.

Dit hou verband met onder meer die verkryging van en kontraktering vir Airbus-vliegtuie asook diensverskaffers vir die implementering van die SAL se omkeerplan en betalings wat deur of namens die SAL gemaak is wat strydig is met wetgewing.

Wanadministrasie in die sake van die SAL ten opsigte van reisafslagvoordele vir kwalifiserende begunstigdes en betalings wat die SAL aan verkopers gemaak het, moet ook ondersoek word.

Koko

Die president het ook 6 Januarie vanjaar ’n proklamasie onderteken om een van 2018 oor Eskom te wysig. Die 2018-proklamasie het gehandel oor ondersoeke wat uitgevoer moet word oor wanadministrasie by Medupi, Kusile en Ingula asook die aanstelling van McKinsey, Trillian en Regiment Capital om dienste aan Eskom te lewer.

Die wysiging is gemaak aan die paragraaf wat handel oor die kontraktering vir of aanskaffing van steenkool om ook ingenieursdienste en projekbestuurskonsultasie in te sluit wat met twee spesifieke kontrakte bekom is.

Net die kontrakte se nommers word verskaf.

Daar is egter voorheen berig dat dit kontrakte is wat aan die maatskappy Impulse International toegeken is.

Die kontrakte was in omstredenheid gehul toe dit onthul is dat Koketso Choma, ’n stiefdogter van Matshela Koko, voorheen hoof van kragopwekking by Eskom, ’n belang in Impulse hou.

Tesourie

Die proklamasie oor nasionale tesourie wat ook 6 Januarie geteken is, gee toestemming vir ’n ondersoek oor beweerde ernstige wanadministrasie; onbehoorlike of onregmatige optrede deur die werknemers; en misdrywe ingevolge die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede.

Die ondersoek handel oor die aanskaffing van of kontraktering vir die geïntegreerde finansiële bestuurstelsel wat tesourie beoog het.

Die tydperk wat ondersoek word strek van Januarie 2016 af tot die datum van die publikasie, maar kan ook vóór of ná die datums geld indien dit relevant is tot die ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.