Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ondersoeke na VBS Mutual Bank duur voort

Dit kan tot drie jaar duur voordat die ouditeure wat by die bedrog by VBS Mutual Bank betrek is, professioneel op die vingers geraps word.

Andile Ramavhunga, voormalige uitvoerende hoof van VBS Mutual Bank.

Bernard Agulhas, uitvoerende hoof van die Onafhanklike Regulerende Raad vir Ouditeure (Irba), het by navraag gesê dié liggaam se ondersoek na VBS duur voort. Ondersoeke duur gewoonlik tussen 18 en 36 maande.

“Die vordering met ’n ondersoek hang af van die samewerking van alle partye wat die ouditlêers en getuienis wat vereis word, moet verskaf,” sê Agulhas.

Irba se swaarste straf is ’n boete van R200 000 wat in uitsonderlike gevalle verhoog kan word. Die liggaam kan ouditeure ook vir ’n vasgestelde tydperk skors van die reg om as geregistreerde ouditeure te praktiseer.

In November het Irba gesê die “omvang van die ondersoek het dramaties toegeneem” en daarom kan hy nie sê hoeveel bykomende tyd nodig is nie.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) het einde verlede jaar tugstappe begin met die oog daarop om Tshifhiwa Matodzi, voormalige voorsitter van VBS Mutual Bank, en Andile Ramavhunga, voormalige uitvoerende hoof, albei rekenmeesters, te skors.

Hulle het egter nooit opgedaag vir die eerste datums nie en dit blyk dat Saica gesukkel het om hulle in die hande te kry om hulle oor die verhore in te lig.

Saica het by navraag bevestig dat hy sal voortgaan met die tugstappe, maar dat die datums vir die verhore nog nie gefinaliseer is nie.

Intussen duur die Valke se strafregtelike ondersoek na die bedrog by VBS Mutual Bank voort.

’n Woordvoerder het nog nie op navrae daaroor gereageer nie. In November het die parlement gehoor verklarings is by 65 mense afgeneem.

Genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het aan die staande komitee oor finansies gesê hulle moet eers alle bewyse invorder en die finale ouditverslae bekom.

’n Span van tien polisie-ondersoekers werk aan die saak, asook vyf vervolgers van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), en personeel van die tesourie, die batebeslagleggingseenheid, die Reserwebank, en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake.

Misdade wat ondersoek word, is onder meer bedrog, korrupsie, diefstal, geldwassery, oortredings van die Maatskappywet en oortredings van die Wet op Georganiseerde Misdaad.

Die ondersoek is begin ná adv. Terry Motau se forensiese ondersoek, wat deur die Reserwebank gelas is kort nadat VBS in Maart verlede jaar in kuratele geplaas is. Die bank is intussen gelikwideer.

Motau se verslag, “The Great Bank Heist”, het bevind minstens R2 miljard is doelbewus en stelselmatig by die bank geplunder. Hy het meer as 50 individue geïdentifiseer wat na bewering uit die bedrog bevoordeel is.

Die ouditfirma KPMG was die eksterne ouditeur van VBS en PwC was die interne ouditeur.

Kelvin Sipho Malaba, die KPMG-vennoot wat die ouditfirma se hoofouditeur vir VBS was, het volgens die verslag motorlenings vir verskeie luukse voertuie by die bank gekry waarop hy nooit paaiemente betaal het nie. Daarbenewens het hy glo R34 miljoen kontant gekry.

Meer oor:  Kpmg  |  Pwc  |  Vbs Mu­Tual Bank  |  Bernard Agulhas  |  Terry Motau  |  Irba  |  Bedrog  |  Saica
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.