Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ongelukke: Privatiseer POF, vra AA

Die Padongelukkefonds (POF) behoort deels of ten volle geprivatiseer te word om sy geldsake te verbeter en dit doeltreffender te maak.

Willem Groenewald, uitvoerende hoof van die Automobiel-Assosiasie van Suid-Afrika.

Só voer die Automobiel-Assosiasie van Suid-Afrika (AA) aan.

Dit kom te midde van ’n hooggeregshofbevel dat die POF tot 12 September geen eise van 180 dae en minder mag uitbetaal nie. Net eise ouer as 180 dae waaroor reeds ooreenkoms bereik is, mag uitbetaal word.

Dit sal volgens Chris Hunsinger, DA-woordvoerder oor vervoer, die POF ruimte gee om agterstallige eise in te haal.

Die beste manier om die POF se situasie te verbeter, is om die geld van die belasting op brandstof te gebruik om in padveiligheid te belê. Hoe minder motorongelukke, hoe minder eise en hoe beter sal die POF se geldsake begin lyk, is wat Willem Groenewald, uitvoerende hoof van die AA, Woensdag by parlementslede wou tuisbring.

Groenewald het in ’n voorlegging oor brandstofpryse aan die portefeuljekomitee oor minerale en energie gesê ’n studie van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) in 2015 het bereken motorongelukke kos Suid-Afrika R142,941 miljard.

Teen ’n jaarlikse styging van 5% sal dié koste tans na raming al R191 miljard wees.

Met die tekort van meer as R330 miljard in die POF het die fonds nie meer tyd oor nie en dreig ’n inploffing, het Groenewald gewaarsku.

Volgens hom sal private insette by die fonds help om koste te verlaag en beter dienste aan padongelukslagoffers te lewer.

Die AA stel ’n moratorium van vyf jaar voor vir enige verhogings in die brandstofheffing sodat dit hersien kan word.

Die staat se inkomste uit die brandstofheffing word bloot in die algemene staatskas gegooi, terwyl dit eerder bestee moet word om padinfrastruktuur en wetstoepassing op paaie te verbeter.

Daar is talle voorbeelde landwyd waar inwoners nou self slaggate regmaak, terwyl die brandstofheffing eintlik veronderstel is om dit te finansier.

Volgens Groenewald steun Suid-Afrika se ekonomie te swaar op brandstof, terwyl te min gedoen word om groter gebruik van fietslane en e-fietse aan te moedig.

Die AA meen die berekeninge vir die basiese brandstofprys moet hersien word.

Groenewald het navorsing aangehaal van dr. Rod Crompton, ’n voormalige senior amptenaar in die departement van energie en voormalige kommissaris van die Nasionale Energiereguleerder, wat sê dat brandstofprysregulering in Suid-Afrika nie voldoende gemotiveer word nie. Die invoerpariteitsbeginsel waarop petrolpryse bereken word, behoort hersien te word, volgens Crompton.

Die AA waarsku die koms van elektriese voertuie sal mettertyd die risiko verhoog dat beleggings in olieraffinaderye gestrande bates kan word.

LEES OOK: Engen wil glo raffinadery in Durban sluit

Kevin Mileham en Mika Mahlaule, onderskeidelik DA- en ANC-lede van die portefeuljekomitee, het saamgestem dat die POF se sake en die manier waarop dit uit die POF-heffing gefinansier word, dringend hersien sal moet word. Mahlaule en Mileham meen albei daar moet eerder heffings op motorvoertuiglisensies wees om die POF mee te finansier, want as elektriese voertuie toeneem sal die inkomste uit die POF-heffing afneem.

Al het die regering geen invloed op internasionale brandstofpryse nie, beïnvloed die ekonomiese klimaat, korrupsie en die gebrek aan goeie korporatiewe bestuur wel die plaaslike faktore in die brandstofpryse, het Groenewald aangevoer.

Meer oor:  Aa  |  Motors  |  Ongelukke  |  Privatisering  |  Eise  |  Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.