Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Onluste: Banke skarrel voor maandeinde

Geen tekort aan kontant bestaan in die dele van die land waar baie kitsbanke en banktakke in die onlangse onluste verwoes is nie. Banke skarrel egter om gereed te wees vir maandeinde.

SOWETO, SOUTH AFRICA - JULY 13: Aftermath at Diepk
Meer as 1 200 kitsbanke is in KwaZulu-Natal en Gauteng beskadig, soos dié een in Diepkloof, Soweto. Foto: Getty Images

Volgens die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) werk noodreaksiespanne van die banke onverpoosd om te verseker dat maatskaplike toelae en salarisse soos normaalweg aan die einde van die maand onttrek kan word.

Om mense wat maatskaplike toelae ontvang by te staan in gebiede waar kitsbanke en banktakke verwoes is, kan kliënte van 1 Augustus af tot 30 September enige bank se kitsbank sonder bykomende koste gebruik.

Die jongste syfers oor die onluste toon 1 223 kitsbanke en 269 banktakke is tydens die onluste in Gauteng en KwaZulu-Natal verwoes.

Basa sê dit is groot skade aan banke se infrastruktuur in dié gebiede. Die herbou- en herstelwerk sal tyd neem, maar sommige takke en kitsbanke is reeds weer in gebruik geneem.

Hulp bekyk

Banke ondersoek die moontlikheid om in die komende weke finansiële bystand aan kliënte te verskaf, soos om verligting met die terugbetaling van skuld te gee.

Basa beloof banke ondersoek verskeie hulpmiddels wat bedoel is om hul kliënte die tyd en ruimte te gee om hul ondernemings te herbou en te herstel.

“Daar kan nie van ondernemings wat sonder voorraad gelaat is en nie bedrywig kan wees nie, verwag word om hul finansiële verpligtinge soos normaalweg na te kom nie.”

Daar word egter gemaan die finansiële verligting gaan nie op die afskryf van skuld neerkom nie.

“Banke gebruik kliënte se spaargeld om uit te leen en het ’n verantwoordelikheid om te verseker hulle word nie aan onbehoorlike risiko blootgestel dat dit nie terugbetaal gaan word nie.”

Kliënte wat voor die onluste nie agterstallig was met hul skuld nie, word gevra om so spoedig moontlik met hul bank in verbinding te tree om die regte bystand te kry. Een van die maatstawwe wat oorweeg word, is die voorsiening van oorbruggingsfinansiering terwyl ’n onderneming se versekeringseise deur Sasria verwerk word.

Die banke werk saam met Sasria en die korttermynversekeringsbedryf om maniere te vind om die eisproses te vereenvoudig en te versnel.

Om sakevertroue te herstel, is daar ’n ondubbelsinnige verduideliking vir die oorsaak van geweld nodig en ’n geloofwaardige versekering dat dit nie weer sal gebeur nie.

“Die openbare en onomwonde steun van die regering vir Sasria is van kardinale belang vir die sukses van dié maatstaf.”

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand verseker Sasria sal alle eise eerbiedig. Indien Sasria nie genoeg geld het vir die eise – wat geraam word op tussen R15 miljard en R30 miljard – nie, sal die tesourie ’n plan moet maak.

Verduideliking gesoek

“Ons moedig ondernemings aan om die versekering wat ontvang word in hul ondernemings te herbelê sodat poste behou word.

“Maar om sakevertroue te herstel, is daar ’n ondubbelsinnige verduideliking vir die oorsaak van geweld nodig en ’n geloofwaardige versekering dat dit nie weer sal gebeur nie.”

Dit is duidelik dat veral kleiner ondernemings en informele familieondernemings wat nie versekering het nie, die regering se ondersteuning gaan benodig.

Ramaphosa het Sondagaand ook aan dié ondernemings hulp belowe, maar nie besonderhede gegee nie.

Volgens Basa is ’n belangrike les geleer met die Covid-19-leningswaarborgskema van banke en dit is dat sake-eienaars nie in sulke onseker tye ekstra skuld wil opneem nie.

“Die ondernemings benodig ander hulp, wat wissel van toelae vir spesifieke doelwitte tot die opskorting van belasting en tariewe om hul uitgawes te verminder.”

Banke het sedert April 2020 tot Februarie vanjaar R293 miljard se finansiële verligting aan hul kliënte verskaf.

“Maar dit alleen gaan nie help nie. Dit is baie belangriker dat ondernemings toegang het tot doeltreffende openbare infrastruktuur, soos krag en vervoer, dat beleid duidelik is en nie onderworpe is aan skielike verandering nie, en dat oormatige rompslomp wat entrepreneurs beperk, verwyder word.”

Wat FNB doen

Volgens FNB word hard gewerk om die ekonomie en vertroue in die gebiede te herstel.

Die meeste van sy kitsbanke wat beskadig is, is nou herstel.

Die bank se planne met die banktakke wat geraak is, is ver gevorder.

Die bank beloof ook om sy kliënte op verskeie maniere by te staan, soos om die verwerking van kredietlewensversekeringseise te versnel vir dié wat afgelê is of hul inkomste verloor het.

Mense met kontantvloeiprobleme wat lewensversekering het, kan hul premies tot einde Oktober stop.

Kliënte wat skuld terugbetaal, kan ook die bank nader om paaiemente vir ’n tydperk op te skort.

Saswitch-gelde sal vir Augustus en September opgehef word vir kliënte vir dieselfde bedrag as waarvoor by FNB onttrek sou word.

Aan sakekliënte wat kwalifiseer, word ook ’n tydelike opskorting van die terugbetaling van skuld verskaf.

Meer oor:  Plundery En Geweld  |  Maatskaplike Toelae  |  Sassa  |  Kitsbanke  |  Banke  |  Bankbedryf  |  Toelae
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.