Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ons dorpie ’n oorlogsone – en nou is die kos op

Die verwoesting om haar lyk soos iets uit ’n rolprent, ’n oorlogsone, sê Amelia Morgenrood, finansiële adviseur van PSG Faerie Glen.

Die rekenaargroep Mustek se winkel in Durban ná die plundery. Foto: Amelia Morgenrood

Sy en haar vriend, Heinrich Lategan, het verlede Vrydag uit Gauteng in Umdloti, noord van Durban, aangekom vir ’n blaaskans nadat hulle onlangs van Covid-19 herstel het.

Saterdag en Sondag het sy nog aanlyn kos van Woolworths bestel en aflewerings ontvang en toe bars alle hel los met massas stropers wat alles wat hulle kon kry gesteel en vernietig het.

“Die Spar hier naby is die enigste supermark wat nie geplunder is nie. Maandag het mense in rye gestaan om kos te koop, maar Maandagmiddag het hulle toegemaak,” vertel sy.

Die Spar het sedertdien weer oopgemaak, maar nou moet jy vat wat jy kan kry. “Geen brood, melk, kaas en gewone goed nie, maar daar is baie bloukaas, as jy soek.”

Woolworths het laat weet hulle is onseker wanneer hulle weer kos kan aflewer.

“Brood en melk is onverkrygbaar. Daar is ’n klein deli, Farm to Fork, wat oopmaak wanneer hulle voorraad inkry, maar hulle sny byvoorbeeld die eierhouers op sodat daar net agt eiers in ’n verpakking is. Elke kliënt mag net een houer koop en twee pakkies vleis, as daar is.”

Mense staan vier tot vyf uur in die ry vir ’n paar kositems. Die vulstasies wat nog brandstof het, hou dit vir die nooddienste.

Geen brood, melk, kaas en gewone goed nie, maar daar is baie bloukaas, as jy soek.
Amelia Morgenrood

“Ons het nog net genoeg petrol om 100 km te ry. Ons kan nie nou teruggaan Gauteng toe nie,” sê sy.

Pierre du Plessis (links) en Heinrich Lategan probeer die voorkant van hul winkel wat vragmotoronderdele verskaf, ná die strooptog by die Redlyn sakepark in Riverhorse, Durban, beskerm. Foto: Amelia Morgenrood

Lategan is die eienaar van SAC Trucks. Sy onderneming, wat vragmotoronderdele verkoop, se tak in die Redlyn Business Park in die Riverhorse-nywerheidsgebied in Durban het kwaai deurgeloop. Die gebou is Sondagaand en weer Maandagaand geplunder. Maar dit was meer as plunder. Dit lyk of die massa mense alles wou vernietig, sê Morgenrood.

Hulle het vragmotorbatterye gesteel en rekenaars. Kabels is uit die plafon geruk. Alle papiere en lêers is op die grond gesmyt, yskaste en meubels is weggedra en wasbakke, kluise en kombuiskaste uit die mure geruk.

“Dinsdagaand het ons op televisie gesien hoe die gebou brand.

“Dit was verskriklik!”

Sy sê die boosdoeners het deur alle versperrings gebreek en gate in veiligheidsdeure gemaak. Hoe, weet nugter. “Ek sou ’n hyskraan nodig hê om daar deur te kom.

“Jy het nog nooit soveel chaos in jou lewe gesien nie.”

Die twee boonste verdiepings van die drieverdiepinggebou is erg in die brand beskadig. Die grondverdieping, wat die vlamme gespaar is, het waterskade. Die motors wat buite die gebou geparkeer was, het uitgebrand.

Amelia Morgenrood Foto: Twitter

“Dis moeilik om op te ruim. Jy soek besems en goed, maar die hardewarewinkels is toe,” sê Lategan.

Tydens ’n vergadering met die verhuurder het een van die ander huurders in die gebou gesê: “Ek sien geen toekoms vir ons hier nie. My personeel voel onveilig.”

Volgens Morgenrood is die hele gebied in chaos. “As ’n mens in die strate ry, kry jy skielik ’n wasmasjien of yskas in die middel van die pad.”

Vurkhysers en trollies wat gebruik is om die buit weg te dra, is net so gelos.

“Gister is die omgewing met stootskrapers opgeruim. Toe het Massmart se stoor nog gesmeul,” sê Morgenrood.

“Die mense hier is almal in skok. Hulle is paniekerig oor die beskikbaarheid van kos. Niemand kom werk toe nie. Hulle is vreesbevange en pas hul eie omgewing op.”

Daar is versperrings in die strate en inwoners keer almal wat wil inkom voor.

Lategan is besig met reëlings om ’n vragmotor vol kos vir sy personeel van Gauteng te stuur.

Meer oor:  Plundery En Geweld  |  Kleinhandel  |  Winkels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.