Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ons drink tuis, maar ánders

Suid-Afrikaners se drankvoorkeure en hoe hulle drankies geniet, het verander as gevolg van die regering se uitgangspunt dat beperkinge op drankverkope Covid-19-infeksies beperk.

’n Nuwe verslag wys die onlangse algehele verbod het die bedryf sowat R7,6 miljard gekos en dit sluit nie eens die verlies aan verkope in wat restaurante en hotelle gely het nie.

Dít is die bevindinge van die marknavorser NielsenIQ se nuwe inligting oor die oorkoepelende invloed van elke drankverbod op verbruikersgedrag.

Nie net het elke drankverbod die drankbedryf swaar getref nie, dit het ook daartoe bygedra dat Suid-Afrikaners hul drinkgewoontes en -voorkeure aangepas het, luidens die verslag met die titel “Recovering From a Sobering Situation”.

Dit gooi ’n blik op die onbekende terrein waarin die plaaslike drankbedryf hom nou bevind. Baie drinkers het eenvoudig net nie meer dieselfde behoeftes of beskikbare inkomste om dieselfde voorkeure en gedrag as voor Covid-19 te handhaaf nie.

Bierverkope onder druk

Baie Suid-Afrikaners se besteebare inkomste het weens regulasies en die invloed van onderskeie vlakke van inperkings, gekrimp of heeltemal weggeval.

Minder geld in die sak beteken dus baie verbruikers moes noodgedwonge hul inkopielyste vir drank aanpas.

Bier, wat ’n gewilde drankie is in kuierplekke soos kroeë, tavernes en samekomste van mense, het veral die loef afgesteek teenoor die groeiende gewildheid van bokswyn.

LEES OOK: Nee vir bier, ja vir bokswyn?

Heelwat faktore het daartoe bygedra dat Suid-Afrikaners eerder bokswyn as bier gedrink het, volgens die verslag.

Mense wat voor die inperkings gereeld bier by tavernes gedrink het, kon weens inperkingsregulasies nie soontoe gaan nie; óf wanneer drankverkope toelaatbaar was, het baie eenvoudig net nie genoeg geld gehad om op bier te spandeer nie.

En omdat mense se bewegings en samekomste ingeperk is, het geleenthede om bier sosiaal te geniet, ook verminder.

Bokswyn kraai koning

Wyn en sterk drank het die meeste groei uit alle kategorieë van drank getoon wat betref volume en verkope tydens die eerste kwartaal van die jaar.

Bokswyn het egter eerste plek gekry.

Volgens Ged Nooy, NielsenIQ se handelshoof, bevestig die gewildheid van bokswyn die feit dat mense se gedrag verander en aangepas het by omstandighede.

Dit maak nou vir baie verbruikers sin om drank soos bokswyn, wat langer kan hou, te koop.

“Deur meer te koop, beperk verbruikers ook hul besoeke aan winkels, wat ’n groot oorweging geword het in die huidige omgewing van gesondheidsrisiko’s.”

Baie wynkopers wat nou bokswyn verkies, beskou dit ook as goeie waarde vir hul geld en sal teen die regte prys ’n groter getal bokswyne aankoop.

Die wynbedryf het ook intussen goed aangepas by verbruikers se veranderende gewoontes deur te begin om premiumwyne as bokswyn te verkoop.

“Dit is pogings deur die bedryf om die vooropgestelde negatiewe persepsie van bokswyn as ’n goedkoop opsie te verslaan.”

Gegeurde alkoholiese drankies

Volgens Nooy is aansienlik meer gegeurde alkoholiese drankies verkoop in die laaste paar weke van die eerste kwartaal van die jaar.

“Voor Covid-19 het die blikkies en botteltjies met meer volume gesorg vir tussen 25% en 28% van die totale verkope in hierdie kategorie.

“Die groter houers se gewildheid het nou toegeneem en in die eerste kwartaal gesorg vir 33% van die kategorie se verkope.”

Van die plaaslike handelsname in hierdie kategorie is Brutal Fruit en Bernini.

Hy skryf dit toe aan mense wat nie meer so baie uitgaan om sosiaal te verkeer nie en ook nie meer so gereeld onthaal nie.

“Hulle is gelukkig om drank te koop wat langer hou en hoef nie meer so gereeld gaste te beïndruk met wat hulle drink en voorsit nie.”

Verbruikers met geld trakteer hulself steeds

Hy sê die mense wat in die groep val wie se inkomste nie eintlik deur Covid-19 geraak is nie, beslaan maar 2% van die drankverbruikers.

Hierdie groep spandeer dus meer gereeld geld aan drank, hoewel hul gedrag aangepas het by hul lewenswyses, wat ook verander het.

Waar die groep voorheen gereeld oorsee sou reis en sou onthaal, het Covid-19 ook dit geraak.

Volgens Nooy is dit egter juis die groep verbruikers wat steeds wil eksperimenteer met nuwe produkte, van innovasie hou en produk-bekendstellings aanloklik vind.

“Die vraag is: Hoe lok vervaardigers en kleinhandelaars dié groep?”

Dis hier waar die NielsenIQ-verslag raad gee: Gebruik sosiale media, maak gebruik van mense se wyn- en whiskeyklubs en kom vorendag met innoverende maniere vir hulle om aanlyn aankope te doen.

Meer oor:  Alkohol  |  Inperkingmaatreëls  |  Drankverbod  |  Drankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.