Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Ons lewer af: van slange tot beskuit

Slange, doodskiste, ’n trekker-grassnyer en ’n pakkie tuisgebakte beskuit is van die eienaardige en spesiale items wat koerierdienste al sedert die begin van die Covid-19-inperking einde Maart moes aflewer.

Koerierdienste soos The Courier Guy se sake-aktiwiteit het verdubbel sedert Covid-19-inperkings einde Maart ingestel is en mense ál minder rondbeweeg.

Meer algemene items sluit speelgoed, potplante en dokumente in.

En as jy ’n innoverende gasheer het wat jou na ’n aanlyn vergadering nooi, word ’n smaaklike ontbyt-kospakkie by jou huis afgelewer – kompleet met ’n sakkie kitskoffie, varsgebakte botterbroodjie met botter en konfyt, ’n vrug en sap – jou proviand vir die vergadering.

Koerier- en afleweringsmaatskappye sê omdat mense se bewegings ingeperk is weens Covid-19 en baie nog versigtig is om uit te gaan, het al hoe meer begin om aanlyn te koop en te laat aflewer, en om pakkies te stuur.

Koerierdienste het letterlik hul hande vol en verskeie het die laaste paar maande meer personeel of kontrakteurs aangestel om al die aflewerings betyds te kan doen.

Helga Steenkamp, bestuurder: mensehulpbronne en kontrakteurs by The Courier Guy, sê afleweringsvolume is 60% hoër as in 2019. ’n Groot deel van dié groei het gekom sedert die vlak 5-inperking einde Maart van krag geword het.

Die maatskappy het landwyd 200 bykomende voertuie in gebruik geneem om die hoër volume te kan hanteer.

The Courier Guy werk nasionaal en internasionaal.

Michael Silke, kommersiële hoof van Pep Stores, sê voor die inperking het Pep se Paxi-diens maandeliks sowat 100 000 pakkies in sy netwerk van winkels gestuur. Dit het nou verdriedubbel.

’n Werker sorteer pakkies in een van Pepkor se verspreidingsentrums in Johannesburg wat via die winkelgroep se PAXI-diens gestuur word. PAXI versprei sowat 10 000 pakkies per dag deur dié toonbank-tot-toonbank-diens in sowat 2 000 van sy Pep- en Shoe City-winkels. Foto:

In die afgelope belastingjaar het Paxi meer as 1,9 miljoen pakkies gekarwei wat groei van 120% op ’n jaargrondslag is.

Pep Stores bied die toonbank-tot-toonbank-diens sedert 2018.

Pakkies word op dieselfde afleweringsvoertuie gelaai wat produkte na Pep-winkels landwyd neem en die ontvangers kom haal dit by die toonbank af. Daar is nou meer as 2 200 Paxi-punte in Pep- en Shoe City-winkels landwyd, sê Silke.

Die plan is om die netwerk uiteindelik uit te brei na die meer as 5 000 winkels wat Pep, Ackermans, Tekkie Town en Refinery insluit.

Steenkamp sê die Pudo Locker-stelsel het ook kontaklose aflewerings en oplaai van pakkies moontlik gemaak. Die kiosks is oor die land heen versprei, maar veral bedoel om meer afgeleë streke te bedien. Wat dit betref het bedrywighede in diep landelike gebiede in die Oos-Kaap en Limpopo opgeskiet.

Baie meer pakkies is ook by woonadresse opgelaai en afgelewer omdat so baie mense nou tuis werk, sê sy. Gevolglik moes The Courier Guy ook aflewerings op Saterdae en Sondae begin doen om deur die werk te kom.

Volgens Silke het die gebruik van die Paxi-diens die meeste in Johannesburg en die Durbanse stadskern toegeneem. Die besigste oplaaipunte is winkels in die Oos-Kaap en veral in Mthatha, Alice, Butterworth en Oos-Londen.

Kliënte word per SMS, die Paxi-bot en -webblad op hoogte gehou van waar hul pakkies trek.

Pakkies in twee groottes kan gestuur word en daar is ’n keuse tussen ’n standaard- en ’n sneldiens. Pryse wissel tussen R59,95 en R119,95. Silke sê teen R59,95 is dit ’n uiters bekostigbare manier om pakkies van tot 5 kg te stuur.

Baie klein sakeondernemings gebruik die diens om pakkies na hul klante te stuur. Sedert Paxi begin het, is sowat 10 000 klein ondernemings geïdentifiseer wat pakkies op dié manier by hul klante kry.

Afleweringstye wissel volgens die opsie wat die versender kies.

’n Afleweraar op sy fiets in Moskou, Rusland, ry verby ’n monument wat opgerig is ter ere van koeriers wat mense bedien wat om gesondheidsredes tuis bly, maar goedere tuis afgelewer wil hê tydens Covid-19. Die monument is ontwerp deur Alexei Garikowitsj. Foto: TASS via Getty Images

Die opsie van sewe tot nege dae is gewild, maar Paxi bied ook ’n diens van drie tot vyf dae.

The Courier Guy lewer plaaslike pakkies meestal binne ses uur af en landwyd neem dit enigiets tussen een en vier dae.

Steenkamp sê die huidige vlaag aanvalle waarin vragmotors en afleweringsvoertuie aan die brand gesteek word en voertuigkapings is groot probleme vir die afleweringsbedryf. The Courier Guy beleef gemiddeld vier voertuigkapings per week.

Brandstof- en tolgeld is koerierdienste se grootste koste en swaar verkeer en onklaar verkeersligte bemoeilik sake.

Onvolledige kontakbesonderhede of as niemand beskikbaar is om die pakkie te ontvang nie bring ook vertragings mee.

Meer oor:  Handel  |  Staat Van Inperking  |  Aflewering  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.